Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maties-ingenieurstudent wen SA Wiskunde Olimpiade
Outeur: Media & Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 02/09/2020

Ralph McDougall, 'n tweedejaarstudent in ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch (US), was die algehele wenner van die negende Suid-Afrikaanse Tersiêre Wiskunde Olimpiade, wat op 22 Augustus vir die eerste keer via 'n aanlyn platform aangebied is weens die COVID-19-pandemie.

Lourens van Niekerk, 'n HonsBSc-student in wiskunde aan die US, was die gesamentlike wenner van die kategorie vir honneursstudente. Altesaam 19 studente van die US het meegeding met meer as 290 studente van agt Suid-Afrikaanse universiteite.

Beide Ralph en Lourens is gesoute deelnemers aan wiskunde olimpiades. Lourens sê hy neem al sedert graad 4 deel en in 2018 was hy lid van die US span wat in Bulgarye deelgeneem het aan die Internasionale Wiskunde Kompetisie vir tersiêre studente. Ralph het as hoërskoolleerder Suid-Afrika twee maal verteenwoordig by die Internasionale Wiskunde Olimpiade. In 2018 was hy die wenner van die Suid-Afrikaanse Wiskunde Olimpiade vir hoërskoolleerders.

Ralph, 'n voormalige leerder van Curro Durbanville, sê dat hy deesdae net vir die lekkerte deelneem: “Ek geniet regtig die opwinding daarvan om oplossings vir oënskynlik moeilike probleme te vind. Ongeag die punte wat jy behaal, moet jy die uitdaging geniet en probeer om in die proses iets nuuts te leer."

Sy raad aan mededeelnemers is dat jy die vaardigheid moet ontwikkel om te kan onderskei wanneer 'n sekere metode te lank gaan neem om werkbaar te wees: “Daar is dikwels verskeie metodes om by dieselfde antwoord uit te kom vir die tipe probleme in hierde kompetisies. Maar slegs 'n paar van die metodes kan met die hand gedoen word sonder bladsye vol langdradige berekeninge. Die mees algemene gedagte wat deur jou kop gaan terwyl jy olimpiadeprobleme probeer oplos is: 'daar moet 'n beter manier wees!' En om die beter maniere te kan onderskei van die ander, kom net met ervaring."

Lourens, wat in Kimberley grootgeword en aan die Hoërskool Diamantveld gematrikuleer het, sê hy is volgens geen standaarde die beste wiskundige daar buite nie: “Ek hou net van kompetisie!" Hy het 'n BCom Wiskundige Wetenskappe-graad met 'n fokus in Rekenaarwetenskap behaal en is nou besig met sy honneurs in Wiskunde.

Sy raad aan studente is om buite die boks te dink: “probeer om verbande te trek tussen vrae en voorwerpe waarmee jy gemaklik is. Skep makliker voorbeelde, soek na patrone en wees kreatief. Ten einde hierdie probleme te kan oplos, moet jy dikwels heelwat rondspeel en idees inkorporeer wat jy waarskynlik nooit vantevore gedroom het om saam te voeg nie.  Ek is mal daaroor, want baie van die vrae is prettig met tasbare voorbeelde. Byvoorbeeld: “'n 20 x 20cm bord moet geteël word met sewe kleure sodat… Dit is mos nou pret! Ek bedoel – hoeveel maniere is daar om dit te doen?"  

Nodeloos om te sê dat Lourens van plan is om volgende jaar met 'n MSc in Wiskunde voort te gaan, terwyl Ralph dit oorweeg om te spesialieer in seinprosessering.

Dr Dirk Basson, dosent in die Departement Wiskundige Wetenskappe en US-koördineerder van SATMO, verskil die Olimpiade van 'n normale wiskunde toets: “Die probleme vereis nie werklik diepgaande kennis nie, maar vereis eerder van studente om ongewone probleme op te los met algemeen bekende metodes. Ten einde die probleme te kan oplos, moet deelnemers 'n meer as gemiddelde begrip van hoërskool en eerstejaar wiskunde hê, asook 'n oorsig van die konneksies tussen idees en die tipe probleme wat dit kan oplos."

Die vraestel bestaan uit 20 probleme en word sedert 2012 elke jaar deur die Suid-Afrikaanse Wiskundige Vereniging aangebied.

Op die foto's bo, Ralph McDougall (links) en Lourens van Niekerk. Foto's verskaf