Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA klimaatsverandering-navorser kry Britse Ekologiese Vereniging-toekenning
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 31/08/2020

Die Britse Ekologiese Vereniging se Marsh-toekenning vir navorsing oor klimaatsverandering is aan professor Wendy Foden, 'n navorsingsleier op die gebied van die assessering van klimaatsveranderingskwesbaarheid van bedreigde spesies, toegeken.

Volgens 'n mediavrystelling deur die Britse Ekologiese Vereniging (BEV), word prof Foden vereer vir die globale reikwydte van haar werk met die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) en die Rooi Lys van Bedreigde Spesies, sowel as vir haar belangstelling om wetenskap te vertaal vir praktiese bewaringsgebruik, en in die kweek van bewaringsleierskap. Die toekenning wat voorsien word deur die Marsh Christian Trust  en deur die Britste Ekologiese Vereniging geadministreer word, sal in 2021 oorhandig word.

Prof Foden is tans werksaam by die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke se Kaapse Navorsingsentrum, waar sy 'n span lei wat toegepaste navorsing doen in en rondom die streek se nasionale parke. Sy is ook medeprofessor by die Universiteit Stellenbosch, sowel as by die Universiteit Kaapstad en tree sedert 2014 as voorsitter op van die Klimaatsverandering-spesialisgroep van die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) se Kommissie vir Spesie-oorlewing.

Prof Foden sê 'n nie-liniêre beroepspad wat haar gelaat het met een voet in navorsing en die ander voet in toegepaste bewaring, het haar in staat gestel om gapings en geleenthede raak te sien vir transdissiplinêre samewerking: “Die meeste van my navorsing was hoogs samewerkend. Dus gee die toekenning erkenning aan 'n gemeenskap van baie toegewyde navorsers. Ek is baie bevoorreg om in 'n posisie te wees waar ek sleutelpersone byeen kan bring wat nuttige eindprodukte kan lewer terwyl ons ook lekker lag. Ek is bly dat sulke “sagte vaardighede" ook toenemend erkenning in die wetenskappe geniet."

Van 2007 tot 2013 het sy die IUBN se pogings in die ontwikkeling van 'n metode vir die assessering van spesies se kwesbaarheid vir klimaatsverandering gelei. Sy kon put uit die groot verskeidenheid spesialiste se veldkennis en navorsingsbevindings ten einde 'n assesseringmetode te kon voortbring wat saam met die IUBN se Rooi Lys van Bedreigde Spesies gebruik kan word. Sy verduidelik: “Ons het die metode toegepas op die wêreld se voëls, amfibieë, korale en die studie het uiteindelik die eerste in sy soort geword om volledige spesiegroepe regoor die wêreld aan te pak. Hierdie benadering is wyd aanvaar en word tans deur navorsers en bewaringskundiges wêreldwyd gebruik," verduidelik sy.

Van 2014 tot 2016 het sy hierdie werk voortgesit ten einde globale riglyne vir beste praktyk op te stel  wat gebruik kan word om spesies se kwesbaarheid vir klimaatsverandering mee te bepaal. Hiermee het sy weer 'n diverse groep navorsers en kundiges van oor die wêreld bymekaar gebring: “Aangesien ons studieveld nuut is, het dit 'n moeilike geswoeg deur donker en verstrengelende onsekerhede beteken. Uiteindelik het ons daarin geslaag om praktiese riglyne vir bewaringskundiges op te stel en ons werk tans saam met die IUBN om bogenoemde as deel van die IUBN se Rooi Lys-opleiding in te sluit."   

“Hierdie riglyne het ook 'n aantal belangrike navorsingsgapings en -behoeftes na vore gebring. Ek dink dat die mees onsekere areas van wetenskap ook die mees opwindende is en die grootste geleenthede bied om betekenisvolle en innoverende werk te doen. Ek het dalk meer grys hare en 'n sterker leesbril as toe ek met hierdie werk begin het, maar ek was nog nie een dag verveeld nie en dit is baie bevredigend om te sien dat dit in die praktyk gebruik word," voeg sy by.

Vir hierdie werk het sy onlangs die IUBN se George Rabb Toekenning gekry vir haar “innoverende, dinamiese en deurdagte leierskap van die Kommissie vir Spesie-oorlewing se werk oor klimaatsverandering".

Professor Jane Memmott, president van die Britse Ekologiese Vereniging, sê die pryse gee elke jaar erkenning aan, en vier die uitsonderlike bydraes van individue om ekologie te bevorder en die belangrikheid daarvan aan die samelewing te kommunikeer: “Ek is verheug om my gelukwense aan vanjaar se wenners van die BEV-toekennings te kan oordra vir hulle uitsonderlike bydraes tot ekologie."

Prof Foden sê sy is verras met die toekenning, maar besonder trots om Afrika se vrouewetenskaplikes te verteenwoordig: “Ek hoop die toekenning inspireer ander vrouewetenskaplikes, veral in ontwikkelende lande, om die uitdagings van bewaring en klimaatsverandering die hoof te bied," sluit sy af.  

Meer oor die Britse Ekologiese Vereniging
Die Britse Ekologiese Vereniging  (BEV) wat in 1913 gestig is, is die oudste ekologiese vereniging ter wêreld. Die BES bevorder die bestudering van ekologie deur middel van sy ses akademiese vaktydskrifte, konferensies, finansiële toekennings, onderriginisiatiewe en beleidswerk. Die vereniging het 6 000 lede afkomstig van meer as 120 verskillende lande.

www.britishecologicalsociety.org