Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: ‘Die toekoms is ons s’n om te skep!’
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking [Sandra Mulder]
Gepubliseer: 28/08/2020

As 'n senior futuris het sy die versiendheid om verby vandag na die toekoms te kyk om moontlikhede te voorspel en besluite wat geneem en beleide wat geformuleer moet word, te beïnvloed. Dr Njeri Mwagiru, verbonde aan die Instituut vir Toekomsnavorsing (ITN) by die Universiteit van Stellenbosch Besigheidskool (USB) wend tans haar vaardighede en kennis spesifiek aan vir navorsing wat met die toekoms van die vasteland van Afrika verband hou.

Sy vertel ons meer oor haar werk en hoe dit die vinnig-veranderende en onseker wêreld help om voorbereid te wees en die veerkragtigheid te hê om aan te pas, te reageer en hefvermoë op die talle geleenthede vir vooruitgang te hê.

Vertel ons meer oor jou navorsing?

Ons is by die ITN by verskeie toekomsnavorsingsprojekte betrokke wat ontluikende neigings en die uitwerking daarvan ondersoek, terwyl ons ook verskeie moontlike toekomstige uitkomste vir verskillende bedrywe en Afrika-lande ten opsigte van spesifieke probleemareas en temas wat vir Suid-Afrika, die vasteland en die wêreld van belang is, voorstel.

Een van die sleutelprojekte waaraan ons tans binne die Afrika-toekoms-portefeulje werk, is die Toekoms van Afrika-staatsbestuur 2063 voortspruitend uit Afrika-Unie se Agenda 2063 Visie, waar ons die beste, slegste en verrassende gevalle-scenario's vir Afrika voorstel. Ons is bevoorreg om saam met die African Peer Review Mechanism (APRM) en die African Governance Architecture-platform (AGA) aan hierdie projek te werk ten einde die Afrika-staatsbestuurverslag 2021 te lewer.

Waarom of hoe het jy in hierdie spesifieke navorsingsgebied begin belangstel?

Ek kom uit 'n akademiese en professionele agtergrond van onderwys en ontwikkeling, internasionale verhoudinge en organisatoriese leierskap en transformasie. Ek fokus veral op kwessies van diversiteit en inklusiwiteit deur veral deur 'n genderlens te kyk en 'n kritiese benadering te volg. Ek word voortgedryf deur die noodsaaklikheid om gelykheid en volhoubaarheid te bevorder, om die vasteland se ware belofte en potensiaal te verwesenlik en om beter Afrika-toekomste met kollektiewe voordele vir almal te bou.

Die belangrikheid van die insluiting van 'n verskeidenheid stemme en perspektiewe word in toekomsnavorsing beklemtoon om 'n volledige omvang van ontleding te verseker wat 'n wye gebied van inligting, kennis asook belange en bekommernisse dek. 'n Trans- en multidissiplinêre benadering en 'n kritieke lens word aangewend om verskillende insigte oor die gebeure van vandag en die implikasies te verkry, asook die daaropvolgende besluite en aksies wat nodig is om ons doelwitte en visies vir môre te bereik. Toekomsnavorsing bied dus 'n unieke platform vir die samevloeiing van verskillende idees, standpunte en belanghebbers, en verskaf 'n aanknopingspunt vir verskeie stemme om strategies in toekomsstudies betrokke te raak, insluitende diegene wat dikwels op die rand en buite die sirkel is.

My belangstelling in Afrika-toekomsnavorsing is om diverse en kreatiewe maniere van denke, leer en leiding te ondersoek, asook alternatiewe modelle om as 'n streek op persoonlike, organisatoriese en nasionale vlakke te organiseer en vooruit te gaan. By die ITN volg ons ook 'n normatiewe benadering as deel van ons navorsing oor toekomste in Afrika wat toekomste voortdryf wat waardegebaseerd is en die diversiteit wat deur die vasteland verteenwoordig word, insluit.

 Waarom dink jy is hierdie navorsingsgebied so belangrik vir Suid-Afrikaanse vroue?

Soos die geskiedenis reeds bewys het, speel Suid-Afrikaanse vroue 'n sentrale rol om die toekoms van hierdie land te bepaal. Hulle is op verskeie gebiede 'n noodsaaklike stem op die vasteland en in die internasionale arena. 

Die veldtog vir transformasie, gelykheid en regte om die daaglikse lewens van vroue in Suid-Afrika te beskerm en hul toekoms te verseker, weerklink regoor die vasteland en die res van die wêreld waar soortgelyke uitdagings tot verskeie mates regoor kontekste ondervind word.

Die ITN, die enigste instituut van sy soort in Afrika, het 'n groeiende gemeenskap vrouetoekomsnavorsers wat plaaslik en internasionaal aan 'n verskeidenheid onderwerpsvelde en onderwerpe op die toekomsgebied saamwerk.

Ter viering van Vrouemaand 2020, stel die ITN die belangrike werk wat vroue op die toekomsgebied verrig, ten toon. Uitsonderlike vroue deel meer oor hul belangstellings en inisiatiewe in toekomsnavorsing hier: https://www.youtube.com/playlist?list=PLtP90xm_xY5Lt9kYsipdoe5ta4UV00UZ3

Wat dink jy is die grootste uitwerking van jou navorsing op vroue in die land?

Die doel van toekomsnavorsing is om nuttige insigte op te lewer ter ondersteuning van doeltreffende besluitneming en beleidsformulering en om toepaslike aksies aan te dryf.

As sodanig, word kwessies vir vroue en gemarginaliseerde groepe by toekomsnavorsing ingesluit ten einde strategiese teikens en doelwitte vir gelyke voordelige uitkomste vir almal te versterk. Dit is uiters belangrik om kommer oor gender en diskriminasie in toekomsnavorsing te sentreer sodat langtermyn-inisiatiewe vroue en almal se behoeftes sal reflekteer, hul groei sal ondersteun en hul welstand sal bevorder.

Ons beklemtoon in toekomsnavorsing dat hoewel sommige goed wat met ons gebeur, buite ons beheer is, ons nietemin versigtig daarvoor kan antisipeer, voorberei en toepaslik op hierdie magte kan reageer. Net so kan ons ons toekoms vorm en skep deur die inisiatief te neem en verandering teweeg te bring.

Toekomsstudies en -navorsing verbreed die moontlikhede en toegangspunte vir vroue in Suid-Afrika en Afrika om gelykheidsgebaseerde toekomste voor te stel, te ontwerp en te konstrueer waar geslagsgebaseerde diskriminasie en mishandeling op alle vlakke uitgeskakel kan word.

Wat is jou boodskap aan die volgende geslag vrouenavorsers?

Die toekoms is ons s'n om te skep! Dit is belangrik dat vroue by toekomsdenke en -navorsing betrokke raak ten einde die reeks moontlikhede in hul lewens, vir hul families en gemeenskappe, in hul bedrywe, asook op nasionale, streeks- en globale vlakke te visualiseer en in die vooruitsig te stel.

Ons is nie verbind tot enige voorafbepaalde toekomste wat deur die status quo of huidige waardes voorgeskryf word nie.

Ondanks die ingewikkelde uitdagings wat ons in die gesig staar, kan ons saamwerk om ons vermoëns ui te bou, ons vaardighede te verbeter en ons gereedheid en veerkragtigheid te verseker om aan te pas en te reageer in 'n vinnig-veranderende, onseker wêreld, maar ook 'n wêreld wat propvol geleenthede vir ons vooruitgang is.