Die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) is die regering se gedetailleerde bloudruk van hoe dit teen 2030 armoede wil uitwis en ongelykheid in Suid-Afrika wil verminder, maar die inwerkingstelling daarvan sloer.
“Die NOP kan slegs suksesvol in werking gestel word indien daar 'n beter belyning tussen departementele planne en begrotings en regeringsbeleide is," sê dr Nelia Orlandi wat onlangs haar doktorsgraad in Openbare en Ontwikkelingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.
As deel van haar navorsingstudie, het Orlandi moontlike hindernisse geïdentifiseer wat die suksesvolle inwerkingstelling van die NOP kan belemmer en het sy voorstelle gemaak wat met die fasilitering van die proses kan help. Sy het ook 'n model voorgestel om die sukses of mislukking van die inwerkingstellingprosesse van regeringsbeleide, insluitende die NOP, te evalueer.
Volgens Orlandi sluit van die uitdagings vir die inwerkingstelling die volgende in: probleme met die koördinering van die beplanning, begrotings- en organisatoriese prosesse binne regeringsdepartemente; begrotingskattings wat nie beleidsprioritisering weerspieël nie; en prestasie-aanwysers wat nie 'n doeltreffende grondslag vir meting en bestuur verskaf nie.
“My ontleding van toepaslike beplanningsdokumente en prestasiedata het getoon die uitdaging vir die suksesvolle inwerkingstelling van beleid is die koppeling van die NOP-vereistes met die beplanning, begroting en verslagdoening in die regering se prestasiebestuurstelsel.
“Ek het in my ontleding van die 2014–2019 Medium-termyn Strategiese Raamwerk (MTSR) – die eerste van drie vyfjaar-implementeringsplanne van die NOP – gevind dat nie alle beplanningskonsepte met die beplanningskonsepte van die standaard verantwoordbaarheids-, beplannings- en begrotingsdokumente van die regering ooreenstem nie. Hierdie verskille skep verwarring by bestuurders wat vir die ontwikkeling van prestasie- en bedryfsplanne, begrotings en uitsette verantwoordelik is."
Orlandi voeg by dat die MTSR se nasionale uitkomste ook nie by begrotingsprogramme aansluit nie, wat daarop dui dat uitsette nie met begrotingstoekennings gerekonsilieer kan word nie. “Slegs 36 persent van die MTSR se prestasie-aanwysers is (teen die tyd van die studie) by die jaarlikse prestasieplanne van verskeie staatsdepartemente geïntegreer.
“Die prestasie-aanwysers is nie geskik om die prestasie van al die regering se bydraes tot die inwerkingstelling van die NOP te meet nie. In sommige gevalle is dit ontmoontlik om 'n geloofwaardige prestasiebeoordeling te doen.
“Die weglating van jaareinde-verslagdoening en -ouditering in die stelsel wat ingestel is om oor die NOP verslag te doen, kompromitteer verantwoordbaarheid en lei tot die misbruik van geld."
Aanbevelings
Orlandi sê egter die stryd is nog nie heeltemal gewonne nie, en die regering kan sy vermoë verbeter om die NOP suksesvol in werking te stel deur 'n paar van haar aanbevelings te volg.
“Dit is belangrik dat die 2019–2024 MTSR op die ontwikkeling van strategiese uitkomsgebaseerde doelwitte sal fokus wat aan die nasionale prioriteitsuitkomste van die NOP gekoppel is."
Orlandi stel die ontwikkeling van prestasie-aanwysers en teikens voor wat goed beskryf is, asook 'n beter integrasie van die NOP in die bestaande aktiwiteite van departement in alle regeringsfere.
“Alle begrotingsprogramstrukture moet hersien en korrek geklassifiseer word om voorsiening te maak vir die toepaslike hulpbronne en kapasiteit, asook om NOP-uitkomste en -aktiwiteite te akkommodeer waarvoor geld beskikbaar gestel moet word.
“Hierdie inkorporering is belangrik om begrotings aan die NOP te koppel, wat ook 'n wetlike struktuur verskaf vir uitgawes op aktiwiteite wat nodig is om die NOP in werking te stel. Die inkorporering van NOP-aktiwiteite in standaard regeringsprosesse sal ook behoorlike jaareinde-verslagdoening en -ouditering verseker."
Die regering moet ook die uitkomsgebaseerde bestuurstelsel vir die monitering van en verslagdoening oor resultate versterk, voeg Orlandi by.
“Hierdie stelsel vereis die ontwikkeling en voorsiening van geïntegreerde finansiële en nie-finansiële inligting in die vorm van die monitering van finansiële verslae en kwartaallikse prestasieverslae gedurende die jaar, wat dan op jaareindverslae uitloop wat aan evaluasie en oudits onderhewig is. Die verpligte ouditproses van alle regeringsaktiwiteite sal verantwoordbaarheid vir die NOP se verseker."
Orlandi stel voor dat 'n nuwe bedryfsmeganisme ingestel moet word om die uitdagings van ontwerp en inhoud, onbevoegdhede en verantwoordbaarheid wat met die 2014–2019 MTSR en die regering se Aksieprogram ondervind is, aan te spreek. Sy sê hierdie soort meganisme kan ook die toekenning van prioriteitsgebaseerde hulpbronne ondersteun deur prestasie-aanwysers ten opsigte van die NOP vir verskillende sektore te ontwikkel.
Volgens Orlandi vereis die suksesvolle inwerkingstelling van die NOP gefokusde leierskap, institusionele hervorming, die mobilisering van hulpbronne, skikkings en ooreenkomste, 'n bereidwilligheid om te prioritiseer en die behoefte aan versigtige volgordebepaling vir inwerkingstelling.
“Indien die NOP in werking gestel word soos dit aanvanklik bedoel is, kan dit inderdaad Suid-Afrika se sosio-ekonomiese en makro-ekonomiese uitdagings aanspreek."
SLEGS VIR MEDIANAVRAE:
Dr Nelia Orlandi
E-pos: norlandi@parliament.gov.za
UITGEREIK DEUR:
Martin Viljoen
Bestuurder: Media
Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Universiteit Stellenbosch
E-pos: viljoenm@sun.ac.za