Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Om armoede en ongelykheid in gesondheid in Afrika aan te spreek
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 26/08/2020

Terwyl die wêreld met die COVID-19-pandemie voortworstel, staar baie armer lande, veral in Afrika, ontsaglike ongelykhede in gesondheid weens armoede en benadeling wat die gemeenskap raak, in die gesig.

Dit is vir Ronelle Burger, 'n professor in die departement Ekonomie by die Universiteit Stellenbosch, reeds baie jare 'n belangrike deel van haar 'n navorsingswerk om teen ongelykheid te veg en probleme in die lewering van gesondheidsorg aan te spreek.

Ter viering van Suid-Afrika se Vrouemaand, bied Burger hier 'n insig op haar werk en die belangrikheid daarvan om in meer vroulike navorsers te belê.

1.      Vertel ons meer oor jou navorsing.

Ons navorsing ondersoek ongelykheid en armoede. Ons probeer die meganismes verstaan wat die benadeling en armoede in ons samelewing bevorder, asook in ander Afrika-lande. My belangstelling is veral in ongelykhede in gesondheid: ons werk saam met niewinsgewende organisasies en die regering om te probeer om die gesondheidstelsel se reaksie op die behoeftes van die armste gemeenskappe te verbeter.

2.      Waarom of hoe het jy in hierdie spesifieke navorsingsgebied begin belangstel?

Ek het nog altyd ietwat van 'n idealistiese streep gehad, maar my belangstelling in ontwikkelingsbeleid het ná drie jaar as bestuurskonsultant in 'n meer volwaardige betrokkenheid ontwikkel. Ek het baie dele van my lewe as konsultant geniet, maar die werk was vir my uiters betekenisloos en sieldodend. Daarom het ek teruggegaan universiteit toe om my meestersgraad in Ekonomie en toe uiteindelik ook my PhD te voltooi en hier is ek nog steeds. My werk is regtig fantasties en ek is dankbaar daarvoor.

3.      Waarom dink jy is hierdie navorsingsgebied so belangrik vir Suid-Afrikaanse vroue?

Ek dink vroue is van nature geneig om 'n meer samewerkende en holistiese perspektief te hê. Gesondheidsnavorsing vereis samewerking en 'n omvattende perspektief van die hele persoon om al die dimensies van die probleem te verstaan en om al die beperkinge te ondersoek.

4.      Wat dink jy is die grootste uitwerking van jou navorsing op vroue in die land?

Ons navorsing het 'n hele aantal belangrike bydraes gelewer, maar wanneer ek oor die betekenis daarvan moet nadink, is die waardevolste ding wat ons doen, ons belegging in die volgende geslag navorsers. Ek het die voorreg gehad om as studieleier vir 'n skitterende groep PhD-vrouestudente op te tree, en ek verwag dat hulle almal dit nog ver gaan bring. Die opleiding en mentorskap van navorsers is beslis die sinrykste deel van my werk.

5.      Wat is jou boodskap aan die volgende geslag vrouenavorsers?

Ek het ongelukkig nie enige wyse woorde nie. Ek dink die werkomgewing gaan al hoe meer uitdagend en mededingend vir navorsers en akademici word weens die druk op befondsing. Aan die anderkant verwag ek ook dat navorsing waardevoller en nuttiger gaan word weens die groter maatskaplike en ekonomiese onsekerheid. Ons moet dieper delf; ons moet die kreatiewe moed vind om ou raamwerke en tradisionele benaderings uit te daag. Vroue pas goed by hierdie veranderende omgewing in, want hulle is geneig om taai baanbrekers te wees. Daar is byvoorbeeld gevind dat vroulike langafstandatlete baie waarskynliker is om marathons in uiters slegte weersomstandighede te voltooi as hul manlike eweknieë.