Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US betreur afsterwe van Japie van Zyl en Dirk Mudge
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 26/08/2020

Die Universiteit Stellenbosch (US) is diep bedroef oor die nuus van die afsterwe van twee vooraanstaande Namibiese US-alumni, dr Japie van Zyl, een van die wêreld se voorste ruimtewetenskaplikes, en die politikus en 'vredesmakelaar', dr Dirk Mudge. Die feit dat Van Zyl en Mudge op Heldedag in Namibië (26 Augustus) oorlede is, mag nie ongesiens verbygaan nie.

Van Zyl het onlangs afgetree na 'n lang loopbaan verbonde aan NASA se Straalaandrywingslaboratorium (JPL). Sy tegniese leierskapsbydrae tot die suksesvolle Curiosity-sending na Mars in 2012 het onder meer die ontwerp van die radarstelsel behels waarmee dié robot op Mars kon land. Die US het Van Zyl in 2015 vereer met 'n eregraad “vir sy bydrae as dryfkrag agter verskeie suksesvolle ruimteprojekte,as Afrika- en Universiteit Stellenbosch-ambassadeur in straks die mees gevorderde tegnologiese omgewing wêreldwyd, en as inspirasie vir jong wetenskaplikes op sy geboortevasteland". Ten spyte van sy menige suksesse oorsee het die aardsheid en potensiaal van die Afrikavasteland hom steeds na aan die hart gelê. As buitengewone professor in die US se Departement Elektriese en Elektroniese Ingenieurswese het Van Zyl herbelê in die volgende geslag ingenieurs en wetenskaplikes by sy alma mater.

Die US het in 2016 'n eregraad aan Mudge toegeken vir “sy vernuftige dog beskeie leierskap in diens van sy land, sy uitnemende veranderingsbestuurvermoëns, en sy rol om as vredesmakelaar en handelaar in hoop op die vasteland, onafhanklikheid vir Namibië en versoening tussen wit en swart Afrikane te fasiliteer." As vredesmakelaar en skepper van hoop op die vasteland het hy sy stempel as transformasieleier gemaak deur die voormalige Suidwes-Afrika tot onafhanklikheid te help begelei en wit en swart met mekaar te versoen.

Die US groet hierdie twee dapper seuns van Afrika en betuig sy innige meegevoel met hul onmiddellike gesinne, werkskollegas en die breër Namibiese gemeenskap.