Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vyf US-studente oorlede
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 26/08/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van vyf gewaardeerde persone wat met hul studies aan die Universiteit besig was. 

“Ons is as 'n universiteitsgemeenskap baie hartseer oor die verlies van ons studente, en wil ook graag ons diepste medelye aan hul families en medestudente in hierdie hartseer tyd oordra," het prof Arnold Schoonwinkel, die US se Viserektor: Leer en Onderrig gesê.

Brightness Nomphumelelo  Mkoko

Me Brightness Nomphumelelo  Mkoko, wat vir die BTh-program (gemengde leer) ingeskryf was, is op 23 Junie 2020 oorlede. Sy was 'n formidabele vrou, kerkleier en pastoor in 'n onafhanklike kerk.

Sy het baie hard gewerk om haar doelwitte te bereik en het ondanks die baie uitdagings, die nuwe fase in haar lewe as deeltydse studente met vasbeslotenheid en humor aangepak. Sy het 'n pragtige sangstem gehad en was altyd die voorsanger. Dit is werklik baie hartseer dat sy so skielik gesterf het terwyl sy so hard besig was om haar drome te verwesenlik. Sy word oorleef deur vier kinders en twee kleinkinders.

Prof Lungile Pepeta

Prof Lungile Pepeta, 'n bekroonde pediatriese kardioloog, was ten tye van sy dood met die voltooiing van sy PhD in Pediatrie by ons Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe besig. Prof Pepeta was die uitvoerende dekaan van die Nelson Mandela-universiteit se Fakulteit Gesondheidswetenskappe en lid van 'n paneel van 15 lede wat die Oos-Kaapse provinsiale regering oor COVID-19 geadviseer het. Hy 'n visionêre leier en 'n vurige kampvegter vir die gesondheid van veral die provinsie se kinders. Hy was hoogsgerespekteer in die mediese gemeenskap en sy passie was veral om die kinders van die Oos-Kaap in sy gekose subspesialiteitsgebied, pediatriese kardiologie, te dien.

Dit was vir ons 'n eer dat hy gekies het om by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe in te skryf vir sy PhD in Pediatriese Kardiologie, wat naby voltooiing was ten tye van sy dood. Die fakulteit is diep geskok en bedroef oor die verlies van 'n kollega, vriend en medestudent.

Suster Nelani Shabalala

Suster Nelani Shabalala, 'n professionele verpleegkundige, is op Dinsdag, 4 Augustus 2020 oorlede. Sy was by die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ingeskryf vir haar MPhil (MIV/VIGS-bestuur). Suster Shabalala het in KwaZulu-Natal gewoon.

Mnr Ghirshwin Muller

Mnr Ghirshwin Muller, 'n polisiebeampte op Piketberg, het in 2015 met sy studies aan die Fakulteit Teologie begin as 'n tweedeloopbaanstudent. Hy is op 17 Augustus 2020 oorlede. Mnr Muller was 'n uitstekende student wat hoë punte behaal het ondanks al die uitdagings wat hy moes oorkom soos om te pendel en 'n jong gesin te onderhou. Hy het ook op die Teologiese Studentekomitee gedien en was baie aktief by die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) betrokke as 'n bedieningsstudent. Hy het in Desember 2018 sy BTh-graad behaal en was besig om sy Nagraadse Diploma in Teologie te voltooi terwyl hy terselfdertyd vier skofte per week as polisiebeampte gewerk het. Sy lewensdroom om as 'n leraar in die VGKSA te dien, was binne sy bereik ná baie jare se akademiese en finansiële uitdagings en nadat sy gesing baie opofferings moes maak. Hy laat sy vrou, Martiza, en drie kinders agter. Die gemeenskap van Piketberg en die Fakulteit Teologie sal nog lank in rou wees oor hul kollega, medestudent en vriend. Die Fakulteit Teologie wil ook CUM Boeke bedank vir hul jare lange finansiële en ander ondersteuning aan mnr Muller.

Mnr Leon de Haas-Bronkhorst

PhD-student Leon de Haas-Bronkhorst was besig met sy doktorale studies aan die US se Departement Filosofie in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskap onder die supervisie van prof Minka Woerman, en aan die Vrije Universiteit in Amsterdam onder die supervisie van prof Willie van der Merwe. Hy is Amsterdam oorlede en 'n roudiens is 13 Augustus 2020 vir hom in Sint Odiliënberg, Roermond, Nederland gehou. Hy word oorleef deur sy vrou, Mary. 

  • Studente wat deur die afsterwe van medestudente geraak is, is welkom om met die Eenheid vir Psigoterapeutiese en Ondersteuningsdienste by supportus@sun.ac.za of by 021 808 4994 in verbinding te tree. Personeel word ook daaraan herinner dat emosionele ondersteuning vir hulle beskikbaar is deur middel van die Welwees-webblad.