Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Sy help om opvattings en (wan)begrippe van seksuele geweld te verander
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 25/08/2020

Seksuele geweld takel elke burger se menswaardigheid af en verkwis die ryk menslike potensiaal waaroor ons in Suid-Afrika beskik. Deur die betekenisse van seksuele aanranding te bevraagteken, probeer prof Louise du Toit van die Departement Filosofie 'n verskuiwing teweegbring in die opvattings en (wan)begrippe van seksuele geweld in ons land.

As deel van Suid-Afrika se Vrouemaandvieringe, vertel sy ons hoe haar navorsing mense se sienings van seksuele geweld help verander.

Vertel ons meer van jou navorsing.

My navorsing konsentreer reeds jare lank op die probleem van seksuele geweld in Suid-Afrikaanse postkoloniale verband. My feministiese filosofiese benadering (wat op die filosofiese raamwerke en wêreldsienings van sowel Europa as Afrika berus) verskil van die meeste ander benaderinge tot die probleem omdat ek tipiese filosofiese vrae oor die verskynsel vra, soos oor die betekenisse van seksuele aanranding in oorlogstyd, vredestyd sowel as in samelewings in oorgang, vir sowel oorlewendes as plegers, in institusionele omgewings én in nasiestate. Deur die betekenisse van seksuele aanranding te bevraagteken, en hoe hierdie betekenisse gemobiliseer word om 'n werklike materiële en magsuitwerking in die wêreld te hê, is ek deurentyd bewus daarvan dat verskillende kontekste op verskillende betekenisse van “dieselfde" verskynsel staatmaak. Selfs dieselfde voorval kan vir verskillende partye verskillende betekenisse hê.

Trouens, die Franse post-strukturalistiese filosoof Michel Foucault is bekend daarvoor dat hy gesê het seksualiteit is “'n besonder digte oordragpunt vir magsverhoudinge". Ek dink hy het die spyker op die kop geslaan. Ons seksualiteit is veranker in ons lewensenergie, en dus in ons oervermoë om 'n verskil in die wêreld te maak, om die grense van die self oor te steek en na die wêreld en ander toe te leef. Dít is waarom seksuele aanranding potensieel verwoestend is: Ongeag die pleger se bewustelike beweegredes, is die logika agter seksuele aanranding dat dit slagoffers se wêrelde, stemme en eie wil, hulle wese en wording in die wêreld, vernietig. Daarom verstaan ek seksuele geweld as 'n kru dog uiters basiese en uiters doeltreffende manier om mag in die wêreld te herverdeel.

Dít beteken dat seksuele aanranding gewoonlik wyd uiteenlopende, selfs teenstellende, betekenisse het vir plegers, wat dit hetsy as onbeduidend of opwindend en bemagtigend beskou, en vir oorlewendes, vir wie “dieselfde" voorval dikwels aardskuddend is en hulle mees basiese vertroue in die wêreld, in ander én in hulleself verwoes.

Op dié manier het die studie van seksuele geweld my ook daarop attent gemaak dat betekenisskepping altyd voorwaardelik en altyd omstrede is. Dit is een iets om te vra wat die werklike dominante betekenisse van iets is (in wat ons “verkragtingskultuur" noem, is dominante instellings soos die polisie, howe, skole en universiteite byvoorbeeld geneig om uit die oogpunt van plegers in plaas van die oogpunt van slagoffers van seksuele geweld te handel), en iets heeltemal anders om te vra wat die betekenisse behoort te wees. Al vra die filosofie betreklik fundamentele vrae, en is dit daarom by tye nogal abstrak of algemeen, wil ek terselfdertyd die kragtige kritiese instrumente van feministiese filosofie gebruik om iets in die wêreld te dóén: Ek wil ons samelewing anders laat dink oor wat seksuele geweld is en wat dit in die wêreld doen. 

Waarom of hoe is jou belangstelling in hierdie spesifieke navorsingsgebied aangewakker?

Dit was 2001, en ek het na 'n onderwerp vir my PhD gesoek. My kinders was destyds nog klein – die jongste was drie jaar oud. Toe kom die opspraakwekkende nuus oor die verkragting van die nege maande oue baba Tshepang in die arm nedersetting Louisvale naby Upington. Baie mense was destyds nog in wittebroodverwondering oor ons politieke oorgang en ons splinternuwe, progressiewe Grondwet, en my onvermoë om te begryp wat in Louisvale gebeur het, het my diep geskok. Toe besluit ek om die kritiese instrumente van my filosofie-opleiding op die verskynsel van seksuele geweld in Suid-Afrika toe te pas – iets wat nog nie juis in daardie stadium gedoen is nie.

My eerste belangrike insig was dat die Kommissie vir Waarheid en Versoening nie juis verkragting en seksuele aanranding hanteer het nie, want dit was nie een van die “ernstige menseregteskendings" waarvoor mense voor die Kommissie verskyn het nie. Toe ek die verslae deur 'n feministiese lens lees, het ek besef dat alle politiek – ironies genoeg, selfs die oorgang na demokrasie self – in ons geval nog in manlike taal verstaan word, met vroue(burgers) as iets sekondêr, 'n blote bysaak en nagedagte. Trouens, al was daar gedurende die onderhandelinge en oorgang 'n massavrouebeweging oor alle rasse, klasse en politieke partye heen, kon ons sien hoe 'n nuwe vorm van patriargie bloot die ouer weergawe stelselmatig vervang. Die endemiese seksuele geweld in Suid-Afrika is onder meer 'n aanduiding van vroue se sistemiese, ernstige en voortslepende gebrek aan politieke status en inspraak.

'n Mens wil amper sê dat demokrasie nooit vir vroue bedoel was nie, en nog nie vir vroue aangebreek het nie. Wanneer 'n mens sulke uitlatings maak, moet jy natuurlik ook in ag neem dat die situasie in ons samelewing steeds dramaties verskil vir vroue uit verskillende omstandighede wat ras, klas, seksuele oriëntasie, ensovoorts betref. Daarom het ek nog altyd die probleem van seksuele geweld in ons samelewing naas die groter nasionale politieke toneel beskou – hoe hou die sistemiese onderdrukking van vroue deur (vrees vir) seksuele geweld hulle onderdanig?   

Waarom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsgebied vir Suid-Afrikaanse vroue?

Daar is nie 'n vrou of dogter in ons mooi en hartseer land wat nog nie in die een of ander stadium die vrees of werklikheid van seksuele aanranding persoonlik beleef het nie. Dit is ons lewenswerklikheid. Ek het hierbo probeer beskryf waarom seksuele aanranding nie tot 'n suiwer persoonlike of privaat aangeleentheid gereduseer, of aan slegs 'n paar bose mans en hulle paar ongelukkige (onverstandige?) slagoffers toegeskryf kan word nie. Dit is 'n sistemiese probleem, waarvan 'n groot deel in institusionele medepligtigheid opgesluit lê. Ons instellings skaar hulle te dikwels by die plegers deur hulle te beskerm of toegeeflik te behandel (en sodoende ook dikwels hulle “beeld" of “handelsmerk" te bewaar) en slagoffers die skuld vir hulle eie skade te gee.

Diegene wat geneig is om ander seksueel aan te rand word herhaaldelik daardeur gerusgestel dat dit, te oordeel na die statistieke, sowat 95% seker is dat hulle skotvry daarvan sal afkom. Alles werk téén slagoffers in ons samelewing. Ons weet dat verkragtingsverhore skrikwekkend is vir die slagoffers, nie vir die plegers nie. Verkragtingsverhore word gewoonlik so gestruktureer dat dit slagoffers ontmoedig om voorvalle aan te meld en op geregtigheid aan te dring. En as slagoffers van seksuele geweld eers oortuig is dat samelewingsinstellings (die polisie, die howe, ons werkplekke) nie seksuele misdrywe as misdrywe erken nie, sien hulle nie meer die nut daarin om reg te laat geskied nie. Die misdryf verdwyn in wese in die dubbele onreg. Slagoffers word nie net op die mees kru, ontmagtigende manier aangerand nie, maar die skade wat hulle ly, word nog nie in ons samelewing as werklike skade erken óf behoorlik geregistreer nie.

Laat ek egter iets byvoeg waaroor ek baie sterk voel: Dit is nie net vroue en meisies wat in ons samelewing seksueel aangerand word nie. Hoewel die oorgrote meerderheid van plegers mans is, is party vroue ook skuldig, hetsy aan persoonlike of institusionele medepligtigheid, of selfs aan direkte pleging. Ek glo ons sal die aard van die misdryf en die skade wat dit veroorsaak eers behoorlik kan verstaan indien ons die duisende manlike slagoffers, wat tans nog onsigbaar en onhoorbaar is, by ons ontledings en ons reaksies integreer – straks selfs méér as met vroueslagoffers. Kwesbare seuns in ons samelewing word seksueel uitgebuit, en tronkverkragting blyk 'n algemene verskynsel te wees, die reël eerder as die uitsondering. Daar is ook bewyse dat bendes verkragting gebruik om lede te straf. Wanneer mans ander mans verkrag, is dit oënskynlik vir mense makliker om te verstaan hoe seksuele aanranding as 'n instrument vir die herverdeling van mag gebruik word – dit versterk mag vir die plegers en laat die slagoffers kwesbaar vir verdere uitbuiting.

Deur man- en seunslagoffers ten volle by ons ontledings en beleide oor seksuele geweld in te sluit, kan ons die diskoerse oor hierdie aangeleentheid op nodige en belangrike maniere verander. So, hierdie navorsing is ook vir Suid-Afrikaanse mans baie belangrik, sowel direk (as slagoffers en moontlike slagoffers) as indirek (omdat die meeste mans ma's, susters, niggies en dogters het).

Wat dink jy is die grootste impak van jou navorsing op vroue in die land?

Ek hoop my werk help sit 'n stelselmatige verskuiwing van opvattings en (wan)begrippe van seksuele geweld in die land aan die gang. Seksuele geweld is immers almal se probleem (hoewel dit dikwels as 'n eng “vrouekwessie" uitgebeeld word); dit takel elke burger se menswaardigheid af en is 'n ernstige verkwisting van die ryk menslike potensiaal in ons land. Dít is waarom ek altyd met sowel mans as vroue oor hierdie onderwerp praat, veral diegene met mag en besluitnemingsbevoegdheid (baie dikwels mans).

Daarbenewens is dit nie net mans wat seksuele geweld verkeerd verstaan en as onbelangrik afmaak nie; vroue is dikwels ook skuldig daaraan. Selfs oorlewendes van seksuele geweld aanvaar dikwels 'n patriargale siening van hulle eie ervaring, internaliseer die skuldgevoel en verkwalik hulleself. Dít is die tipes verwronge betekenisse waarop ek in my werk konsentreer. Dit het potensieel transformerende implikasies vir hoe noodreaksiewerkers soos polisiebeamptes en mediese personeel die slagoffers van seksuele geweld hanteer; vir hoe verkragtingsverhore onderneem word; vir traumaterapie; vir hoe instellings soos kerke, skole, kolleges, universiteite en selfs internasionale straftribunale en vredeskommissies op die slagoffers van seksuele aanranding behoort te reageer. Ek glo my werk is relevant vir 'n aantal verskillende dissiplines en kontekste.      

Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vrouenavorsers?

Ondersteunende netwerke vrouenavorsers het my al baie in my loopbaan as 'n vroue- en feministiese navorser gehelp. Soms is hulle hier reg by jou; ander tye moet 'n mens hierdie “medestryders" 'n bietjie verder as jou eie instelling gaan soek. Ek het inspirerende groepe navorsers wat my passies en belangstellings deel en my help om my beste te gee. Sulke omgewings waar feministiese kreatiwiteit en solidariteit floreer, kombineer gewoonlik twee noodsaaklike aspekte, naamlik veiligheid en uitdaging, in presies die regte hoeveelheid. Soek na of skep sulke netwerke, vriendskappe en ruimtes, en belê daarin, want dít is die inkubators vir intellektuele kreatiwiteit.