Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oorleef, streef en floreer gedurende COVID-19
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 21/08/2020

Die veerkragtigheid van van vroue in die spervuur van die koronavirus-pandemie is onlangs tydens die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se eerste virtuele Vrouedag-geleentheid gevier.

Die geleentheid met die tema COVID-19: Oorleef, streef en floreer is aangebied onder die voorsitterskap van prof Tania Ajam, professor in Openbare Beleid, Finansies en Ekonomie. Gassprekers van uiteenlopende kulturele en professionele agtergronde het ook insette gelewer.

In haar openingsrede het prof Pregala Solosh Pillay, vise-dekaan: Sosiale Impak en Transformasie, vroue geprys vir hul veerkragtigheid en innerlike krag om mylpale te bereik ten spyte van die omwentelinge en teenspoed wat met die COVID-19-pandemie gepaard gaan.

“Ons leef in 'n onvolmaakte wêreld en omhels ons onvolmaakthede as moeders, enkellopendes en beroepsvroue. Ons geniet wat ons doen ondanks geweldige uitdagings. Ons passie bring 'n hernieude energie om die lewe beter en draagliker vir ander te maak."

Sy het manlike rolmodelle − vaders, seuns, broers, mentors en base − geprys vir hul bydrae om vroue te help.

“Ons waardeer julle ondersteuning en hulp onder baie moeilike omstandighede; veral diegene van ons wat 'n huis en akademiese lewe moet balanseer. Julle empatie is kenmerkend van julle leierskap en karakter," het sy gesê.

Pillay het ook instellings vir hoëronderwys uitgedaag om meer te doen vir die vooruitgang, gesondheid en welstand van hul personeel en het gesê dat meer klem op organisasiekultuur geplaas moet word omdat dit vroue en die vooruitgang van vroue kan ondersteun.

Naseeba Jappie, 'n senior mediese tegnoloog van die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdienste, wat 'n kollega aan die virus afgestaan en agt vreesaanjaende dae in isolasie deurgebring het, het haar traumatiese ervarings gedeel.

“Dit was die moeilikste agt dae van my lewe, maar gelukkig was my toetsuitslae negatief. Maar om iemand met wie ek gewerk het aan die dood af te staan weens die siekte, was moeilik en het my laat besef dat dit net so maklik ekself kon gewees het," het 'n emosionele Jappie gesê.

Alhoewel die voortdurende gevaar van besmetting geestelik en fisies uitputtend was vir die ervare tegnoloog, het sy haarself nogtans gedwing om met haar werk voort te gaan "vir die lede van die publiek wat angstig op hul toetsuitslae gewag het".

Carin Strydom, eienaar van 'n vulstasie, het uitgebrei oor hoe sy die ekonomiese gevolge van die grendeltydperk wat deur die pandemie genoodsaak is, hanteer het.

Volgens haar het haar besigheid daarin geslaag om te oorleef omdat sy haar fokus op haar personeel, kliënte en verskaffers verskerp het.

“Ek het my 44 personeellede van vitamiene en griepinspuitings voorsien om hulle gesond te hou. Ek was ook deursigtig met hulle wanneer ek werksure moes verminder weens die verlies aan besigheid. Wat my verskaffers betref, het ek daarin geslaag om beter kredietvoorwaardes met hulle te onderhandel. Ons het ook sosiale media gebruik om met ons kliënte in voeling te bly."

Alhoewel die maatskappy in die vroeë stadium van die grendeltydperk 'n finansiële verlies gely het, het Strydom gesê dat hulle nou weer in die swart is en dat dat hulle nie een van hul personeellede moes aflê nie.

Malie Ntshangase, skoolhoof en eienaar van Capella House School in Vishoek, sê die COVID-19-krisis het haar gedwing om haar leierskapsvaardighede te verskerp en meer deursigtig en gemeenskapsgerig te wees.

“Alhoewel ons as skool altyd voorbereid is vir verandering, was ons nie voorbereid vir aanlynonderrig nie. Ons het geen idee gehad hoe dit werk nie. Ons moes as personeel bymekaarkom om ons vaardighede te deel sodat ons die aanlynomgewing kan betree.

“Ons het ook besef dat die meeste van ons ouers finansieel swaar kry weens die impak van die pandemie op die werksomgewing. Ons het met hulle in verbnding getree om hul emosionele en finansiële toestand te beoordeel en om uit te vind hoe ons van nut kan wees.

“Jy kan nie self hierdie krisis oorkom nie. Jy het buigbare leierskap nodig en 'n duidelike begrip van wat gedoen moet word om die pandemie te oorleef."

Najewa Moffat, 'n kantoorbestuurder by @Heart – 'n organisasie sonder winsoogmerk wat MIV-/vigs-toetsing en berading in die Kaapse Wynlandomgewing lewer – het in Junie positief getoets vir die virus.

​“Die impak van die siekte – die verlies aan reuk en smaak, die afsondering van my ma en my dogter – was moeilik genoeg om te hanteer, maar die ergste was om as gevolg daarvan gestigmatiseer te word.

“Vriende en familie wat ek my lewe lank ken, het my skielik vermy en teen my gediskrimineer. Hulle het my laat voel asof ek onverantwoordelik was, terwyl ek net my werk gedoen het. Jy word depressief omdat mense jou wegstoot en jy nie ondersteuning kry nie.

“Dit was 'n nagmerrie, maar ek wil nog steeds mense help en hulle oor die siekte opvoed. Ek wil nog steeds 'n verskil maak in hul lewens," sê sy.

  • Foto:  By die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe se virtuele Vrouedagviering, het prof Solosh Pillay (links), visedekaan: sosiale impak en transformasie van die Fakulteit, die openingstoespraak gehou, terwyl prof Tania Ajam van die Skool vir Publieke Leierskap as voorsitter opgetree het.