Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rooibos op die agenda vir Vrouedag
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 18/08/2020

Alumni van die Fakulteit AgriWetenskappe het hopelik almal met 'n lekker koppie rooibostee in die hand gesit en luister na die instelling se eerste virtuele Vrouedag-geleentheid. Dit is op Donderdag 13 Augustus in samewerking met die Universiteit se Alumni-kantoor gehou.

 

Die spreker was Lize du Preez, 'n direkteur van Carmién Tea en in beheer van nasionale en internasionale bemarking en verkope by die rooibosmaatskappy waarby sy reeds sedert 2011 werksaam is. Haar ma, Mientjie Mouton, het dit in 1998 op die plaas Brakfontein in die Citrusdal-omgewing gestig.

 

Du Preez is 'n oud-Matie wat in die 2000's BA Sosioinformatika aan die US studeer het, en ook 'n nagraadse diploma in bemarking vanaf die instelling verwerf het.

 

Gepas vir Vrouemaand (en vir Covid-19 tye, daarom die virtuele aanbieding) het Du Preez haar praatjie begin met 'n aanhaling deur Eleanor Roosevelt: “A woman is like a tea bag - you can't tell how strong she is until you put her in hot water."

 

Sy het 'n oorsig gegee oor hoe daar op net sowat 70 000 hektaar met rooibos, wat inheems tot Suid-Afrika is, geboer word, en die stappe waardeur gegaan word voordat iemand behaaglik aan 'n koppie kan drink.


Suid-Afrikaners is steeds die grootste rooibosteedrinkers ter wêreld, maar daar is sterk markte in veral Asië en Europa. Volgens Du Preez voer Carmién Tea sowat 95% van hul produkte na die buiteland uit.

 

Sy het uitgelig hoedat die bedryf danksy die belangstelling van 'n plaaslike dokter van Clanwilliam, dr Le Fras Nortier, tot stand gekom het, en hoedat talle wetenskaplikes sedertdien tot dit bydra. Onder hulle is alumnus prof Lizette Joubert van die Landbounavorsingsraad en 'n buitengewone professor in die Departement Voedselwetenskap. “Sy was die eerste persoon wat die idee gehad het om groen rooibostee te maak, na aanleiding van die groen tee wat die Japanese graag drink en in kos gebruik. Groen rooibos bevat selfs meer antioksidante as gefermenteerde rooibos," het Du Preez vertel, wat ook 'n oorsig oor die gesondheidswaarde van rooibos gegee het.

 

Een van die ander projekte waarby US-navorsers soos dr Joubert en Nina Muller betrokke was, was die samestelling van 'n sensoriese geurwiel vir rooibostee, wat sedertdien 'n waardevolle hulpmiddel vir die bedryf is.

 

Na afloop van haar praatjie moes Du Preez heelwat vrae oor die produksie van rooibos beantwoord, asook oor hoe om die perfekte koppie daarvan te maak.

 

“Dit hang af of dit in 'n teesakkie kom, met los teeblare of stokkies gebrou word, of 'n gegeurde tee is," het Du Preez verduidelik.

 

Sy verkies die piramiede-gevormde teesakkies waarin Carmién Tea se produkte ook verpak word, en laat dit vir minstens vyf minute trek.

 

“Moenie kookwater ingooi nie, maar wag eers bietjie met die water. Baie van die gesonde antioksidante gaan verlore as jy kokende water gebruik. Water teen 60 grade Celsius is die beste."​