Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Voorskoolse leerder samel geld in vir Maties se #Train4Fees-veldtog
Outeur: Development & Alumni / Ontwikkeling & Alumni
Gepubliseer: 13/08/2020

Michael Allcock (5) is in die pylvak van sy poging om 50 km af te lê ten bate van die Universiteit Stellenbosch se #Train4Fees-veldtog. Trouens, die veldtog se jongste fondsinsamelaar sal dalk selfs 'n paar ekstra kilometer by sy doelwit voeg noudat die veldtog se einddatum tot 31 Augustus verleng is.

Die veldtog, wat op 1 Junie 2020 deur Maties Sport en die Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge van stapel gestuur is, is daarop gemik is om studente-atlete te help wat finansiële steun verloor het weens die impak van COVID-19.

Altesaam R837,512 is tot dusver ingesamel, en Michael het al 75% van sy teiken van R5 000 bereik.

Volgens sy ma, Candice Egan, het sy ouderdom – vyf – 'n rol gespeel in die besluit om teikens van 50 km en R5 000 te stel.

Egan, wat in die US se Afdeling Ontwikkeling en Alumni-betrekkinge werk, beskryf Michael as 'n baie nuuskierige, baie energieke seuntjie wat belangstel in wat rondom hom gebeur.

Hy het gehoor toe sy die #Train4Fees-veldtog bespreek, en het besluit dat “hy ook wil saamspeel".

“Ek het gedink dit is dalk 'n goeie manier om van oortollige energie ontslae te raak, en alles vir 'n goeie saak," sê Egan.

Michael dra 'n fiksheidnasporingtoestel wanneer hy deur die buurt stap, aangesien hy daarvan hou om verskillende roetes te kies.

“Só weet ons hoe ver hy gestap het – gewoonlik tussen 1,5 en 2,5 km per uitstappie."

Hoewel hy nie die #Train4Fees-konsep heeltemal verstaan nie, het Michael – wat die Barkly House Pre-Primêre skool in Kenilworth bywoon wanneer daar nie 'n pandemie is nie – 'n vae begrip dat wat hy doen “groot kinders sal help om skool toe te kan gaan".

Egan wil graag hê haar kinders moet leer dat dit belangrik is om te deel, en empatie ontwikkel vir diegene wat minder bevoorreg is. Soos hulle ouer word, sal hulle hopelik besef dat enigiemand 'n verskil kan maak deur net die bietjie waartoe hulle in staat is, te doen.

Met die verlengde einddatum het die veldtog nou 'n nuwe fondsinsamelingsteiken van R2 miljoen.

“Ons het tans meer as 300 studente-atlete wat om finansiële hulp aansoek gedoen het, en ons wil hulle almal graag help," sê fondswerwingsbestuurder Hans Scriba.

Hoe kan JY betrokke raak?

Jy kan enige van die fondswerwers op die Maties GivenGain-platform in jou gekose sportsoort borg – rugby, sokker, krieket, netbal en hokkie – of ander sportkodes op die Maties-sportbladsy ondersteun – of jy kan 'n fondswerwer vir #Train4Fees word – deur te hardloop, fiets te ry, op 'n skaatsplank te klim of op 'n drafstappie te gaan … watter oefening jy ookal geniet om fiks te bly.