Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Werf en behou meer vrouewetenskaplikes
Outeur: Sandra Mulder
Gepubliseer: 11/08/2020

​Prof Soraya Seedat van die Departement Psigiatrie aan die Universiteit Stellenbosch (US) bewys dat 'n klinikus-wetenskaplike in sowel wetenskaplike navorsing as kliniese pasiëntebehandeling sukses kan behaal. In hierdie twee hoedanighede dra sy tot 'n internasionale kundigheidsbasis oor gene-brein-gedragmeganismes by, en bied sy boonop doeltreffende vorme van behandeling vir veral vroue. Asof dít nie genoeg is nie, sorg sy ook dat 80% van die navorsers in haar traumanavorsingsprogram vroue is, en help skep sy sodoende 'n meer gendergebalanseerde wetenskaplike gemeenskap.

Prof Seedat vertel ons meer van haar werk.

Vertel ons meer van jou navorsing.

My navorsing handel die afgelope 20 jaar oor die dwarsliggende tema van sielkundige trauma, veral voortdurende blootstelling aan gewelddadige trauma, tesame met die wisselwerking tussen risiko en veerkragtigheid deur 'n mens se hele leeftyd. My navorsingsprogramme konsentreer op verskeie psigiatriese versteurings, waaronder posttraumatiese stresversteuring (PTSV), angsversteurings en neuroVIGS. Die tipes trauma waarin ek veral belang stel, is mishandeling in die kindertyd, verkragting, en geweld in intieme verhoudings. Dít is besonder algemeen in Suid-Afrika, soos in baie ander lande ter wêreld, en het langdurige negatiewe geestes- en fisiese gesondheidsgevolge.

My studies handel oor die biologiese en omgewingsmeganismes wat gesamentlik tot voormelde versteurings aanleiding gee, sowel as behandelings daarvoor. Omgewingsfaktore wat nog nie juis verstaan word nie, is die gender-, etniese en kultuurverskille wat tot die ontwikkeling van hierdie psigiatriese versteurings bydra. Ek staan aan die stuur van navorsingsprogramme van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) en die Mediese Navorsingsraad (MNR), meer spesifiek die Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in PTSV en die MNR se eenheid vir navorsing oor die genomika van breinversteurings. Ek is ook passievol oor die opleiding van nuwelingnavorsers op die Afrikavasteland.

Waarom of hoe is jou belangstelling in hierdie spesifieke navorsingsgebied aangewakker?

Ek het gedurende my opleiding as 'n kliniese assistent in Psigiatrie in navorsing oor angsversteurings begin belang stel. Ek het van Durban na Kaapstad verhuis om Psigiatrie-opleiding aan die Universiteit Stellenbosch te ontvang. Die US se Departement Psigiatrie het nog altyd 'n baie sterk navorsingskultuur gehad, met uitmuntende, internasionaal gerekende navorsers en navorsingsmentors (soos proff Robin Emsley en Dan Stein). 

My eerste navorsingstudie, wat ek gedurende my opleiding onderneem het, was oor opgaargedrag by pasiënte wat met obsessief-kompulsiewe versteuring gediagnoseer is. Ek het 'n instrument ontwikkel om opgaargedrag te assesseer, en was geboei deur die verhale van die pasiënte met wie ek te doen gekry het – die oorsake, beweegredes en snellers wat hulle vir hulle gedrag aangevoer het, en die algemene verskynsels van trauma vroeg in hulle lewens sowel as meer onlangse stresfaktore. Die wye verskeidenheid navorsingsaktiwiteite, waaronder kliniese proewe, wat destyds in die Departement Psigiatrie aan die gang was, het my verder aangevuur. Ek het op die plek geweet ek wil 'n klinikus-wetenskaplike wees.

Kort na my opleiding het ek my as nadoktorale genoot by die MNR se eenheid vir angsversteurings aangesluit, 'n navorsingskliniek oor adolessente trauma geskep, wat vandag nog bestaan, en met 'n reeks studies oor posttraumatiese stresversteuring by adolessente en volwassenes begin. 

 Waarom dink jy is dit so 'n belangrike navorsingsgebied vir Suid-Afrikaanse vroue?

Vroue en dogters in Suid-Afrika word buite verhouding erg deur seksuele trauma en geweld in intieme verhoudings geraak. Hierdie plaag maak die kern uit van die oorvleuelende epidemies van MIV, moeder- en jeugsiektes, en ander nieoordraagbare siektes in die land. Trauma is 'n risikofaktor vir 'n verskeidenheid psigiatriese versteurings onder vroue, en vroue met voorafbestaande geestesiekte is kwesbaarder om deur ernstige trauma geraak te word. Seksuele trauma by vroue word dikwels nie aangemeld nie as gevolg van verleentheid, skuldgevoelens, vrees en stigma. Die geestes- en fisiese manifestasies is dikwels verborge, en dus volg 'n kliniese diagnose en behandeling veels te laat. Vroeë diagnose en voorsiening van doeltreffende en toeganklike behandelings is noodsaaklik in ons omgewing. 

 

Wat dink jy is die grootste impak van jou navorsing op vroue in die land?

Enersyds bied my traumanavorsingsprogramme my 'n platform om vrouewetenskaplikes te werf en te behou, en hulle in hulle navorsingsloopbane te ondersteun. Dít is besonder bevredigend. Meer as 80% van die navorsers in my programme is vroue. Ek beskou dit as 'n voorreg om vrouenavorsers te ondersteun en hulle kundigheid in traumaverwante navorsing in Suid-Afrika en op die Afrikavasteland uit te brei. Andersyds, omdat baie van my navorsing op vroue konsentreer (soos trauma en PTSV by adolessente, volwassenes en MIV-positiewe populasies), dra ek ook tot die internasionale kundigheidsbasis oor gene-brein-gedrag-meganismes en doeltreffende vorme van behandeling by. 


Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vrouenavorsers?

Suid-Afrika het nou 'n groter behoefte as ooit vantevore aan meer vroue in die wetenskap, en 'n meer gendergebalanseerde wetenskaplike gemeenskap. Vrouenavorsers moes vir veels te lank strukturele, organisatoriese en interpersoonlike uitdagings verduur (soos misbruik in die vorm van geslagsdiskriminasie, afknouery en geslagsverkleinering) waarmee ons manlike kollegas nie te kampe het nie.

As die huidige en volgende generasie navorsers, moet ons ons stem laat opklink en sorg dat ons gelyke geleenthede het, tuis voel en ingesluit word, en dat ons bydraes erken word.

My raad aan jong navorsers is om aktief uit te reik na ander vrouenavorsers wat hulle in hulle loopbane kan help groei. Om bande te bou en te skakel met ander navorsers (sowel vroue as mans), op die Afrikavasteland én internasionaal, sal jou 'n voorsprong gee. Ons vrouenavorsers moet as 'n groep ander sterk, bekwame, suksesvolle en inspirerende vroue vier en aanvaar.