Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-navorsers ontdek nuwe spesies luise, chiggermyte
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 11/08/2020


Twee nuwe luisspesies en ses nuwe chiggermyt-spesies wat die eerste keer deur onderskeidelik 'n nagraadse student en 'n navorser van die Universiteit Stellenbosch (US) op verskeie plekke in Suid-Afrika ingesamel is, het onlangs naam gekry en is aan die wetenskapswêreld bekend gestel. Dit wys net hoe ryk die verskeidenheid van parasiete is wat mens in Suid-Afrika kry, en wat nog wag om ontdek te word, sê prof Sonja Matthee van die US Departement Bewaringsekologie en Entomologie in die Fakulteit AgriWetenskappe, wat die chiggermyte ingesamel en benoem het.

Die twee nuwe luisspesies is ontdek deur Bellvilliet JC Bothma, gedurende sy MSc-studies in Dierkunde. Hy was ten tye daarvan besig om die evolusionêre verwantskap tussen parasiete en hul gashere te bestudeer in terme van die luise wat op vier Suid-Afrikaanse muisspesies gevind word. Bothma, wat verlede jaar sy graad cum laude verwerf het, het sy veldwerk op twintig plekke in Suid-Afrika gedoen, en die nuwe luisspesies in die Fraserburg-omgewing gekry.

Nuus oor die nuwe luisspesies het onlangs in die vaktydskrif Journal of Parasitology verskyn. Luiskenner prof Lance Durden van die Georgia Southern Universiteit in die VSA het die tegniese ondersoeke en beskrywing van die nuwe spesies gedoen. Hy werk reeds sedert 2003 gereeld saam met prof Sonja Matthee op verskeie projekte. Hy was juis op besoek aan die Universiteit Stellenbosch in 2018 om 'n luisuitkenningskursus vir haar studente aan te bied toe Bothma aan hom van die luise gewys het wat hy gedurende 'n versameltog in die Karoo gevind het.

Onder hulle was twee onbekende spesies, skaars groter as 1 mm elk, wat Bothma van 'n paar Grant se klipmuise (Micaelamys granti) afgehaal het. Op daardie stadium het die Stellenbosse navorsingspan reeds geweet dat die luise geneties heel uniek is in vergelyking met enige ander spesie wat al op Suid-Afrikaanse knaagdiere gevind is. Durden het van die luise teruggeneem na die VSA, en daarna die stap-vir-stap proses van ontleding en beskrywing van 'n nuwe spesie deurgegaan.

Die spesies het die name Hoplopleura granti en Polyplax megacephalus gekry. Albei is bloedsuiende parasiete wat vir hul hele lewensduur – van eierstadium tot volwassenheid – hulself sover bekend slegs tuismaak op die lyf van 'n Grant se klipmuis.

Hoplopleura granti is so genoem omdat Grant se klipmuise sy gasheer is. Polyplax megacephalus is so genoem omdat manlike lede van dié spesie 'n redelike groot (“mega" in Latyn) kop (“cephalus") het in vergelyking met meeste van die ander 550 soorte luisspesies wat wêreldwyd gevind word.

Bothma het sy studies onder leiding van molekulêre ekoloog prof Conrad Matthee van die Departement Plant- en Dierkunde in die US Fakulteit Natuurwetenskappe en prof Sonja Matthee in die Fakulteit AgriWetenskappe gedoen.

Prof Sonja Matthee het onlangs ook saamgewerk met 'n Russiese kollega, prof Alexandr Stekolnikov van die So֧ölogiese Instituut van die Russiese Akademie vir Wetenskap, om ses nuwe chiggermyt-spesies te identifiseer. Sy het die myte op veldmuise naby Hoedspruit in Mpumalanga gekry. Die aankondiging oor die nuwe spesies is in die vaktydskrf Systematic and Applied Acarology gemaak.

Chiggermyte is teen minder as 'n millimeter besonders klein, en daarom geensins maklik om op die oog af raak te sien of uit te ken nie. Hulle val in die groter Arachnida-klas waartoe spinnekoppe, bosluise en skerpioene ook behoort.

Chiggermyte maak hulself gedurende die larwestadium op gashere tuis, en val daarna af om deur hul ander lewenstadiums in die veld te ontwikkel. Wanneer die larwes op hul gashere (soos mense, vee en troeteldiere) voed, veroorsaak dit dikwels irriterende, jeukerige bytplekke.

Die meeste van die 80 Suid-Afrikaanse chiggermyt-spesies (daar is 440 beskryfde spesies wêreldwyd) waarvan kenners weet kom in KwaZulu-Natal voor, maar min opnames oor hulle is al elders in die land gedoen.

Twee van die nuwe spesies, Ascoschoengastia ueckermanni en Schoutedenichia horaki, is vernoem na twee van prof Matthee se mentors. Hulle is die Suid-Afrikaanse arakaloë (myt- en bosluis kenners) prof Eddie Ueckermann van Noordwes Universiteit en professor Ivan Horak van die Universiteit van Pretoria. Beide is al verskeie jare afgetree (tans is Ueckermann 69 jaar oud en Horak 86), maar steeds besig met navorsing in hulle onderskeie velde. 'n Derde spesie, Trombicula walkerae, is vernoem na wyle dr Jane Walker, wat 'n kenner was oor die bosluisverskeidenheid van Afrika, en onder meer handleidings oor die spesies in Botswana en Kenia help skryf het.

Vlooie, luise, myte en bosluise word almal as uitwendige parasiete beskou wat op een of ander stadium gedurende hul lewensiklus op die liggame van gasheerdiere voorkom en op hul bloed voed. Mens kry ook inwendige parasiete, soos lint-, plat en rondewurms. Elke dierspesie het gewoonlik 'n reeks parasiete wat heel uniek tot hulle is.

Prof Matthee reken aansienlik meer moeite moet gedoen word met opnames oor die verspreiding van spesies en hul beskrywing, aangesien elkeen 'n unieke rol speel in die behoud van ekosisteme. Parasiete verteenwoordig ʼn noemenswaardige deel van die biodiversiteit op aarde, want meer as 50% van alle dierlewe is parasiete of vertoon een of ander vorm van parasitisme gedurende hul lewensiklus. Sommige kan ook siektes oordra na mense en diere, en daarom is dit nodig om te weet waar in die land verskillende spesies voorkom.

“Parasietnavorsing is erg 'n verwaarloosde studieveld in Suid-Afrika," sê prof Matthee, wat reeds die afgelope twee dekades daarby betrokke is. “Daar is 'n gebrek aan kundiges in die land en daarom maak ons gereeld van oorsese kollegas gebruik om ons te help om nuwe spesies te beskryf."

Een van prof Matthee se voormalige doktorale studente, dr. Andrea Spickett van die Landbounavorsingraad se Onderstepoort Veeartseny Instituut, het gedurende haar opnames oor die inwendige parasiete wat in 13 soorte muisspesies regoor Suid-Afrika gevind word, minstens 13 onbekende soorte wurms gevind. Hulle moet egter eers formeel bestudeer word om hul uniekheid te bevestig.

Foto's

​Prof Sonja Matthee van die Universiteit Stellenbosch het ses nuwe spesies chiggermyte ingesamel en help vernoem.  JC Bothma, 'n MSc-gegradueerde van die Universiteit Stellenbosch, wat twee nuwe luisspesies naby Fraserburg ontdek het. 'n Foto onder die mikroskoop van een van die nuwe luisspesies, Polyplax megacephalus, wat skaars een millimeter groot is

​