Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Virtuele bespreking kyk na onbewuste vooroordele in die samelewing
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 06/08/2020

Te midde van 'n wêreldwye koronavirus-pandemie het die voortslepende strukturele rassisme en bevooroordeling in alle sfere van die samelewing die afgelope maande weer onder skoot gekom in die #BlackLivesMatter-beweging.  

In 'n poging om van die kwessies wat deur hierdie wêreldwye beweging aangeraak is, te ondersoek, het die Sosiale Geregtigheid-kafee by die Universiteit Stellenbosch onlangs 'n virtuele bespreking oor sosiale geregtigheid en onbewuste vooroordele aangebied.

Die geleentheidspreker by die bespreking was Nene Molefi, HUB van Mandate Molefi MH-konsultante en 'n internasionaal-erkende denkleier op die gebied van diversiteit en insluiting, waardegedrewe leierskap en transformasie. Ander deelnemers aan die paneelbespreking het ingesluit: Fanelesibonge Ndebele, Ko-kurrikulum Projekkoördineerder en 'n senior LLB-student aan die US; Thembalethu Seyisi, 'n derdejaar LLB-student aan die US en 'n raadslid van die Kaapse niewinsgewende organisasie, Salesian Life Choices; Daniele-B von Ziegler Smith, 'n student en skrywer by Matie Media aan die US; en Zulaikha Patel, 'n Suid-Afrikaanse aktivis en hoërskoolleerder.

Die Sosiale Geregtigheid-kafee is 'n inisiatief wat deur prof Thuli Madonsela, bekleër van die Leerstoel vir Maatskaplike Geregtigheid in die Fakulteit Regsgeleerdheid aan die US, van stapel gestuur is.

Die doel van die kafees is om met jongmense in gesprek te tree oor kwessies rakende sosiale geregtigheid en demokrasie en aksie vir insluiting wat deur menseregte geïnspireer word, soos vervat in die VN se volhoubare ontwikkelings- en nasionale ontwikkelingsdoelwitte, met die oog daarop om die vrugte van die jeug se werk in te span om teen 2030 armoede te beëindig en ongelykheid te verminder.

Die sprekers het gedurende die bespreking, wat deur Madonsela gefasiliteer is, persoonlike staaltjies gedeel oor voorvalle van vooroordeel teen hulle, of waar hulle self dit teen ander gepleeg het.

Volgens Molefi het elkeen in die samelewing 'n vooroordeel, en dit is belangrik om daarvan bewus te wees sodat dit aangespreek en oorkom kan word.

“Wanneer ons oor onbewuste vooroordele praat, moet ons besef dit kan nie as 'n verskoning vir bewuste vooroordeel gebruik word nie. Daar moet insluiting en 'n oproep tot aksie wees. Dit sluit in om voortdurende waaksaam te wees en om jou invloed te gebruik om die stemme van diegene wat uitgesluit word, te laat opklink," het Molefi gesê.

Smith het saam met Molefi gestem en bygevoeg dat sy “as 'n wit bevoorregte vrou" ook ontvanklik daarvoor moes wees om “baie goed af te leer" ten einde 'n beter medestryder te wees vir diegene wat deur die samelewing gemarginaliseer is.

“In ons soeke om versigtig te wees, moet ons onsself oopstel om te leer en nog belangriker, om af te leer. Ons moet ook ons misnoeë teenoor vriende of familie uitspreek wat rassisties, homofobies en bevooroordeeld teenoor ander is."

Patel was slegs 13 jaar oud toe sy die krag van haar oortuiging vir die wêreld gewys deur saam ander swart skoolvriende 'n optog te hou om teen die Hoër Meisieskool Pretoria se “anti-swart" haarbeleid beswaar te maak.

Patel, wat nou 17 is, het weer eens beklemtoon hoe belangrik oop gesprek is en om die “grondoorsaak van bewuste en onbewuste vooroordeel", wat nog steeds weens “ons baie onlangse rasseverlede" voorkom, aan te spreek.

“Die gebrek aan gesprekke in bevoorregte gemeenskappe oor hul bevoorregting en die uitwerking daarvan is 'n probleem. Die enigste manier om die kwessies wat met onbewuste vooroordeel verband hou, aan te spreek, is deur voortdurende oop gesprekke daaroor te hê," het Patel gesê.

Ndebele en Seyisi het albei met Patel saamgestem dat oop en eerlike gesprekke nodig is. Volgens Ndebele moet daar 'n “vlak van verantwoordbaarheid wees wat saam met die manier waarop ons onbewuste vooroordeel hanteer, gaan" en almal moet gereeld selfondersoek doen om seker te maak dat hul onbewuste vooroordeel nie ander begin onderdruk nie.

Die volgende Sosiale Geregtigheid-kafeebespreking word Woensdag, 2 September 2020 gehou.

Besoek https://socialjustice.sun.ac.za/ vir meer inligting.