Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
COVID-19 ʼn geleentheid om ons sirkels groter te maak
Outeur: Judy-Ann Cilliers
Gepubliseer: 04/08/2020

Die COVID-19-pandemie behoort ook as ʼn geleentheid gesien te word om uit te reik na kwesbare buitelanders wat in Suid-Afrika ʼn bestaan probeer maak, skryf dr Judy-Ann Cilliers van die Departement Filosofie in ʼn doktoraal-gebaseerde meningsartikel vir die Mail & Guardian (31 Julie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Judy-Ann Cilliers*

Toe president Ramaphosa op 15 Maart die nasionale ramptoestand aankondig, het baie ʼn sug van verligting geslaak. Ons was getuies van 'n wêreld wat deur 'n nuwe virus verteer word, met baie wêreldleiers wat nie na wense opgetree het nie. Die vroeë en beslissende reaksie van ons regering het 'n begeerte om sy mense te beskerm, gekommunikeer. Maar selfs toe het ons geweet dat die koste groot sal wees, en dat dit meestal betaal sal word deur diegene wat reeds in ons samelewing gemarginaliseer is.

Die afgelope klompie maande het ons meer gevalle van huishoudelike- en geslagsgeweld gesien, meer mense het hul werk verloor namate besighede sluit, en namate die aantal infeksies toeneem, meer mense sonder voldoende toegang tot gesondheidsorg. In 'n wêreld wat al meer gunstig vir xenofobiese nasionalismes begin word het, lees en hoor ons van toenemende aanvalle op buitelanders, veral van Asiatiese afkoms, regoor die wêreld  ̶  enige buitestaander is 'n bedreiging, 'n potensiële draer van die virus.

Terwyl ons praat van die 'ongekende tye' wat ons beleef, is hierdie soort aanval nie ongekend nie. Dit is 'n algemene storie in Suid-Afrika dat buitelanders uitgehou moet word omdat hulle siektes die land inbring. Alle soorte xenofobiese diskriminasie, uitsluiting en geweld teen buitelandse burgers is geregverdig deur die bewering dat 'hulle' die oorsaak is van werklike siektes, soos MIV/Vigs, en morele 'siektes', soos dwelmverslawing en misdaad is. Dat dit slegs in sommige gevalle waar is, is nie relevant vir die vreemdelingehater nie; mense ekstrapoleer maklik van 'sommige' of selfs 'een' na 'almal'. Die individuele, kollektiewe en sistemiese oorsake van vreemdelingehaat, en die kruising daarvan met rassisme, seksisme en ander vorme van onderdrukking, is ingewikkeld op maniere waarop ek nie hier reg kan laat geskied nie.

In die bestudering van gevalle van xenofobiese diskriminasie en geweld, word een ding duidelik: die keuse van slagoffer word nie bepaal deur die skuld van die individu, optrede, wetlike status of selfs hul werklike nasionaliteit nie. Dit is genoeg dat hulle hier bestaan (waar 'hier' ook mag wees), en dat hulle deur die vreemdelinghater as 'n vreemdeling beskou word. Xenofobie is dus nie 'n reaksie op 'n spesifieke bedreiging nie  ̶  ondanks ons rasionalisering oor misdaad en gebrek aan werk en virusse  ̶ maar op 'n waargenome bedreiging, waar die persepsie gevorm word deur die vreemdelinghater se eie vooroordele en stereotipes, en deur ons politieke vertellings rondom behoort, grense, nasionaliteit en lidmaatskap. Sulke vertellings vorm ons idees oor wie die reg het om hier te behoort of te bestaan, en wie nie.

Die vrees onderliggend aan sulke persepsies kan verskillende oorspronge of motiverings hê. In die Suid-Afrikaanse konteks identifiseer migrasie- en ontwikkelingskundige Loren Landau 'n diep besorgdheid oor die betekenis van behoort, 'n vrees wat die antropoloog Frances Nyamnjoh plaas in 'n histories onderdrukte en uitgeslote burgery wat vir die grootste deel steeds nie betekenisvolle toegang tot die voordele en regte het wat met lidmaatskap gepaard gaan nie.

Xenofobie is 'n reaksie op 'n gevoel van onsekerheid, om nie 'n plek te hê waar 'n mens behoort nie, en 'n gepaardgaande poging om veiligheid te bewerkstellig. Terwyl ons die uitwerking van die Covid-19-pandemie  ̶  stygende werkloosheid, laer vlakke van voedselsekerheid, 'n verswakte ekonomie en individuele en kollektiewe trauma  ̶  in die gesig staar, kan die vreemdelingehaat wat reeds kenmerkend is van die hedendaagse Suid-Afrika, meer gereeld voorkom en verskans word.

Die ironie is dat die logika onderliggend aan sulke geweld en sulke pogings om veiligheid en n gevoel van 'behoort tot' te vestig, die moontlikheid verhinder om 'n veiliger samelewing te vestig, want dit is 'n logika wat poog om dit wat vreemd of nuut is uit te sluit en selfs te vernietig, en dit word onvermydelik self in beslag neem. As die idee van 'behoort tot' streng gedefinieër en gepolisieer word, word die kring van wie 'waarlik behoort' onvermydelik kleiner en kleiner.

Hierdie logika is in teenstelling met wat politieke teoretikus Hannah Arendt die fundamentele menslike kapasiteit van nataliteit noem  ̶  ons vermoë om iets nuuts te begin. Hierdie vermoë is die wortel van ons vryheid, aangesien ons voortdurend nuwe dinge in die wêreld inbring deur ons optrede en interaksie met ander. Dit is ook noodwendig onvoorspelbaar, daarom reageer ons gereeld daarop met vrees en 'n begeerte om te beheer. As ons beheer uitoefen, verban ons die nuwe en die vreemde en die onvoorspelbare, en daarmee saam ons eie vermoë om vryelik op te tree en te bestaan.

Die pandemie hou 'n uitdaging in wat vir die meeste mense radikaal nuut is. Ons het rede om bang te wees in ons huidige omstandighede  ̶  om te vrees vir ons lewens en lewensbestaan, om bekommerd te wees oor die toekoms van die land en die wêreld. Hierdie vrees is nou verbind aan ons vrees vir ander, en die pandemie maak dit baie moeiliker om daardie bande te verbreek.

Dit is moeiliker om 'n vorm van 'behoort tot' wat nie uitsluitend is nie, te konseptualiseer as ons van mekaar afgesonder is, wanneer die risiko's om die wêreld met ander te deel, so duidelik is, en wanneer ons nie eers in ons eie huise veilig voel nie. In hierdie pandemie het ons voorbeelde gesien van ongelooflike selfsug en wreedheid. Sommige van die regulasies wat uitgestel is om mense in Suid-Afrika gedurende hierdie tyd te beskerm en te ondersteun, het buitelanders negatief geraak op anders as wat die geval met Suid-Afrikaanse burgers was. Dit was veral die regulasies wat aanvanklik die aktiwiteite van informele handelaars en werkers beperk het.

Die nuutheid en vreemdheid van ons situasie bied ons egter die geleentheid om ons aannames te herevalueer, met nuwe wêreldvormende vertellings vorendag te kom en op onvoorspelbare maniere op te tree. Na orkane of aardbewings, groot brande of terreuraanvalle, wanneer mense op die randjie van die lewe staan en toegang tot hulpbronne nie gewaarborg kan word nie, sien ons nie net genadelose kompetisie nie, maar ook altruïsme, solidariteit en empatie, dikwels tussen mense wat onder normale omstandighede nie na mekaar sou uitreik nie. Onsekerheid kan ons laat val, maar dit kan ook ons oë oopmaak vir realiteite en ongeregtighede wat ons nie voorheen kon sien nie.

Terwyl ons in hierdie pandemie en uit hierdie virus betekenis skep, terwyl ons die implikasies van die inperking ontleed en deurleef, en terwyl ons probeer om te herbou en miskien nuut te bou, moet ons 'n kritiese bewustheid hê van die moeilike posisie van buitelanders in ons samelewing, sowel as die werklike gevaar vir 'n samelewing wat nie sy mees kwesbare lede beskerm nie.

  • Foto: ʼn Groep mense by ʼn saamtrek. Krediet: Wikipedia.

*Dr Judy-Ann Cilliers is 'n nadoktorale navorser in die Departement Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch (US). Hierdie artikel is deels gebaseer op haar onlangse doktorsgraad in filosofie aan die US.