Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#WomenofSU: Meer lig op die voorplantingsgesondheid van Suid-Afrikaanse vroue
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 04/08/2020

Die voorplantingsgesondheid en welstand van vroue is vir baie jare in talle gemeenskappe as 'n verbode onderwerp beskou. Dit het swak gesondheidsdienste vir moeders tot gevolg gehad, veral onder die mees gemarginaliseerde vroue in die samelewing.

Dr Efua Tembisa Prah, wat aan die Universiteit Stellenbosch se departement Sosiologie en Antropologie verbonde is, probeer om die narratief en praktyke te verander deur te ondersoek hoe genderdinamiek, identiteit en kultuur van toepassing is op Suid-Afrika se opgetekende geskiedenis van gesondheidsdienste vir moeders.

Ter viering van Suid-Afrika se Vrouemaand, bied Prah hier meer insig in haar navorsingswerk oor voortplantingsgesondheid en die belangrikheid daarvan om lig te werp op die verswygde geskiedenis van gemarginaliseerde vroue in Suid-Afrika.

Vertel ons meer oor jou navorsing.

Ek ondersoek tans beide die historiese en eietydse etnografiese navorsing oor voortplantingsgesondheid in Suid-Afrika. Die doel van die navorsing is om 'n bydrae tot 'n antropologiese platform te lewer wat poog om die manier waarop genderdinamika, kultuur, die samelewing, aanhorigheid en individualiteit met Suid-Afrika se opgetekende gesondheidsrekord van moeders verband hou, beter te verstaan. Die navorsing volg en weef deur beskrywings van voortplantingsgesondheid en -welstand in Suid-Afrika se geskiedenis as 'n manier om verhale wat in 'n wyer biblioteek van beliggaamde kennis gedeel is, op te spoor en vas te lê. Dit fokus veral op slawe se belewenisse van swangerskap, geboorte en moederskap en hoe hierdie verlede ons huidige gesondheiduitkomste van moeders gevorm het.

Waarom of hoe het jy in hierdie spesifieke navorsingsgebied begin belangstel?

Ek het nog altyd daarin belanggestel om die liggaam as beide 'n subjektiewe en performatiewe konstruksie te verken. Verder vind ek ook swangerskap, die geboorteproses en vrouegesondheid oor die algemeen baie fassinerend. Ek was nog altyd baie lief vir geskiedenis en is gefassineerd deur die manier waarop die opgetekende geskiedenis baie keer sekere narratiewe en lewens verswyg en verberg. Ek is dus reeds van vroeg af in my akademiese opleiding deur geskiedenisse aangetrek wat die verhaal van die ontluiking van 'n meer geneeskundige benadering tot die vroulike anatomie, seksualiteit, swangerskap en die geboorteproses in die algemeen vertel het, en ook wat hierdie geneeskundige ontwikkeling vir vroue – veral swart, Indiër- en bruin vroue in Suid-Afrika – beteken het.

Waarom dink jy is hierdie navorsingsgebied so belangrik vir Suid-Afrikaanse vroue?

Ek dink ons het as Suid-Afrikaners 'n verantwoordelikheid om soveel as moontlik te leer oor ons verlede en die manier waarop ons hede hierdie geskiedenisse wat dikwels verswyg is, weerspieël. Vroue, en veral hul voortplantingswelstand, is histories na die kantlyn uitgeskuif. Ons sien die gevolge hiervan in ons ongelyke en gefragmenteerde regeringspraktyke vir gesondheidsorg vir moeders. Hierdie beleide lyk op die oog af onberispelik, maar tog is die inwerkingstelling van hierdie beleide weens verskeie ingewikkelde redes – waarvan baie 'n weerspieëling van ons rasverdeelde verlede is – in wanorde.

Wat dink jy is die grootste uitwerking van jou navorsing op vroue in die land?

Ek kan maar net hoop dat my werk – hetsy deur film of etnografiese studie – iets vir die vroue waarmee ek direk werk, sal beteken. Hierdie vroue se verhale is kragtige rekords wat 'n belangrike argief vir ander skep om op voort te bou en met kritiese ontleding te besiel.

Wat is jou boodskap aan die volgende geslag vrouenavorsers?

Ek dink ons is op ons kragtigste as ons saamwerk. Deur idees uit te ruil en mekaar te inspireer en te ondersteun, word ons die vertellers van ons eie stories.