Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Eenheid vir Gestremdhede verbeter inklusiwiteit en toeganklikheid
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Sandra Mulder]
Gepubliseer: 03/08/2020

Die COVID-19-pandemie het die Universiteit Stellenbosch (US) gedwing om sy leer- en onderrigmetodes aan te pas om studente in staat te stel om die 2020-akademiese jaar suksesvol te voltooi. Terwyl hierdie aanpassings vir sommiges dalk frustrerend was, het die US se Eenheid vir Gestremdhede dit as 'n gulde geleentheid gesien om hul werksmetodes te hersien en gapings te identifiseer.

Volgens die hoof van die US se Eenheid vir Gestremdhede, dr Marcia Lyner-Cleophas, het die eenheid in die COVID-19-tydperk van inperking voortgegaan om inklusiwiteit te verbeter en uit te leef. “Dit is ook die huidige tema van die US se Jaar vir Persone met Gestremdhede. Ondanks die uitdagings kon studente met gestremdhede daarin slaag om toegang tot hul akademiese werk te kry en hul studies aanlyn voort te sit.

“Die pandemie het ons die geleentheid gegee om te sien wat ons goed doen en waar daar gapings is. Ons kon ook bepaal wat redelik en haalbaar vir elke student is, aangesien almal se behoeftes ten opsigte van onderrig, leer en assesserings verskil," sê Lyner-Cleophas.

“Ons metodes om studente te akkommodeer wat toetse en eksamens moet aflê, het geblyk om nuttig en doeltreffend te wees. Dit het nie 'n baie groot skuif van akademiese personeel geverg nie. Die studente is bykomende tyd vir die voltooiing van vasvrae en ander assesserings toegelaat. Personeel was plooibaar en gewillig om assesserings aan te pas," sê sy.

Die tydperk van inperking het ook bygedra tot die verbetering van 'n samewerkende netwerk tussen die Eenheid vir Gestremdhede, die eksamenkantoor, dosente, hul administratiewe personeel en ook studente.

“Saam kon ons die meeste uitdagings in die aanlyn-ruimte te bowe kom. Ons het ook 'n onderrig- en leer-dokument ontwikkel om leiding aan personeel te gee oor die insluiting van studente met gestremdhede in aanlyn-leer en assesserings."

Al die personeel in die Eenheid is toegerus om van die huis af en aanlyn met hul werk voort te gaan. Hulle het die nodige hardeware en sagteware tot hul beskikking. Konsultasies met studente vind telefonies, via WhatsApp-boodskappe of -oproepe, per e-pos of op aanlyn-platforms soos Microsoft Teams en Zoom plaas.

Die meeste studente met gestremdhede het ná aanvanklike haakplekke goed by die aanlyn-omgewing aangepas en slaag daarin om hul tyd tussen hul akademiese werk en assesserings redelik goed te bestuur, sê Lyner-Cleophas. “Dit was vir sommige studente 'n groter uitdaging, maar ons het daarin geslaag om alternatiewe maniere te ondersoek waarop hulle hul studies kan voltooi, soos byvoorbeeld kursusverlengings."

Afgesien daarvan om ondersteuning aan studente te verskaf, fokus die Eenheid vir Gestremdhede ook op aktiwiteite wat met die Jaar vir Mense met Gestremdhede verband hou. Hierdie inisiatief het voortgevloei uit die US se verbintenis tot inklusiwiteit en gelykheid vir elkeen met akademiese meriete om in staat te wees om ten volle op gelyke vlak aan die akademiese reis aan die Universiteit deel te neem.

“Sover ons kon, het ons fisieke aktiwiteite na die aanlyn-omgewing verskuif," sê sy. Ons laat sedert Februarie 2020 artikels in samewerking met die African Network of Evidence to Action (AfriNEAD)* en die Transformasiekantoor verskyn."

Ander aktiwiteite wat vir hierdie semester beplan word, sluit in webinare met studente en personeel in September, virtuele video-werksessies, die SA Gebare Taal Hoëronderrigkode-webinaar in samewerking met die US se Taalsentrum; 'n wêreldwye toeganklikheidsveldtog wat tot in Desember 2020 sal duur en die Gebaretaal-videoreeks bestaande uit agt sessies. Die Gebaretaal-reeks sal aanlyn vir personeel en studente beskikbaar wees.

AfriNEAD bied ook vanjaar van 1–3 Desember sy sesde konferensie virtueel aan. Die konferensie, wat die hoogtepunt van die jaar is en by Kunstekaap in Kaapstad gehou sou word, sal nou aanlyn plaasvind.

Volgens prof Gubela Mji, voorsitter van AfriNEAD, is die konferensie nie net 'n samevatting van die jaar nie, maar dit bring ook verskeie rolspelers byeen om navorsing uit te ruil en die burgerlike samelewing te bekyk en te sien hoe daar regoor Afrika praktiese uiting aan beleid gegee word ten einde die insluiting van alle persone met gestremdhede te bevorder.

*AfriNEAD is 'n Pan-Afrikaanse netwerk wat in 2007 in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe se Sentrum vir Gestremdheid- en Rehabilitasiestudies (SGRS) op die been gebring is. Die netwerk bevorder, fasiliteer en koördineer die inwerkingstelling van bewysgebaseerde navorsing oor gestremdhede in beleid en praktyk deur mense met gestremdhede te betrek; om deur hulle en saam met hulle – en nie net oor hulle nie – navorsing te doen; en om, waar moontlik, hulle die leidende navorsers te maak.

Klik hier om dr Marcia Lyner-Cleophas se meningsartikel oor aanlyn-leer te lees.

Belangrike kontakbesonderhede:  

disability@sun.ac.za – vir enige navrae wat met gestremdheid verband hou

Braille@sun.ac.za – om klasleermateriaal in leesbare formate te laat omskep

skryftyd@sun.ac.za – vir navrae oor bykomende skryftyd

Wentzel Barnard – ww2@sun.ac.za – vir enige sportverwante navrae