Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe boek oor die opbou van kennis in hoër onderwys in Suid-Afrika
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 03/08/2020

Wat beteken die “dekolinialisering" van die wetenskapkurrikulum by 'n hoër onderwysinstelling in die praktyk? Hoe kan dosente studente help om die gaping tussen die abstrakte kennis van Chemie en die toepassing daarvan te oorbrug, spesifiek in die geval van eerstejaarstudente wat medies en ingenieurswese studeer?

Bogenoemde is slegs twee van die onderwerpe wat gedek word in 'n nuwe boek getiteld Building Knowledge in Higher Education, wat deur Routledge gepubliseer  is as deel van 'n reeks oor die gebruik van Legitimasiekodeteorie (Legitimation Code Theory) ten einde onderrig en leer in hoër onderwys te bevorder. Legitimasiekodeteorie (LCT) is 'n gesofistikeerde raamwerk, bestaande uit verskeie eiesoortige instrumente, wat vakkundiges in staat stel om hulle navorsing en onderrigpraktyk te modelleer binne die konteks van sosiale geregtigheid en die opbou van kennis.

​Prof Ingrid Rewitzky, visedekaan vir onderrig en leer in die Fakulteit Natuurwetenskappe, sê sedert die stigting van die Fakulteit se Onderrig- en leerforum in 2013, het verskeie dosente met Legitimasiekodeteorie  (LCT) kennis gemaak en hul navorsing by internasionale LCT konferensies aangbied.

In die hoofstuk “Decolonizing the science curriculum: When good intentions are not enough", ondersoek dr Mags Blackie, van die department Chemie en Polimeerwetenskap, en dr Hanelie Adendorff, senior adviseur by die US se Sentrum Onderrig en Leer, die #Sciencemustfall" insident gedurende die  #Feesmustfall studenteprotesbetogings in 2015. Deur gebruik te maak van Legitimasiekodeteorie se konsep van spesialisasiekodes, wys hulle hoe huidige dekolonisasiepogings gesien kan word as 'n voortsetting van die onreg van die verlede, ten spyte van elke bedoeling om positief en effektief te reageer: “Ons ondersoek die verwantskap tussen die spelers, idees en voorwerpe in die veld van wetenskap ten einde dit waaroor dit éintlik gaan en wat aangespreek moet word, bloot te lê," skryf hulle in die samevatting van die hoofstuk.

Hulle voer aan dat dit “byna onmoontlik" is om in hierdie debat eenstemmigheid te bereik, en dat die poging om inheemse kennissisteme aan wetenskaplike kennis gelyk te stel, beteken dat “wetenskap heeltemal ontmagtig word". Hulle stel dan 'n alternatiewe benadering voor en herformuleer die vrae in terme van outonomie. Met ander woorde, deur bloot inheemse kennis by die bestaande kurrikulum te voeg, soos om byvoorbeeld die tradisionele manier van biermaak in die mikrobiologiekurrikulum in te bring as 'n voorbeeld van hoe dit in Afrika toegepas word, dien dit slegs die doel van wetenskap as 'n westerse konsep. Maar wanneer wetenskap in die hande van studente geplaas word as 'n werktuig waarmee hulle hulle eie geleefde omstandighede kan verken, voer hulle aan dat: “dit steeds die gevoel van wetenskap het, maar 'n wetenskap wat begin om as't ware weier as ditself te kyk".

In die hoofstuk “Missing the target? How semantics can reveal the (mis)alignments in assessments", het dr Blackie en dr Ilse Rootman-le Grange, gemengdeleer koördineerder vir die Fakulteit Natuurwetenskappe, die gaping verken wat bestaan tussen eerstejaarstudente se teoretiese begrip van hoofkonsepte in chemie, en hulle vermoë om hierdie kennis na hulle domein, soos byvoorbeeld geneeskunde en ingenieurwese te kan oordra.

“Chemie is 'n weggesteekte wetenskap," skryf hulle: “As 'n vak in eie reg, het dit veel langer geneem om te voorskyn te kom as die nabyverwante dissiplines soos fisika en biologie. Dit is omdat die molekulêre en atomiese begrip van materie nie intuïtief of ooglopend vir die gewone waarnemer is nie. Presies as gevolg van hierdie diepgaande abstrakte aard van die vak, het studente geen werklike lewenskonteks of verwysingsraamwerk van Chemie nie".  

Deur gebruik te maak van die semantiek-konsep in Legitimasiekodeteorie , het hul die vrae wat in die finale chemie-eksamen vir eerstejaarstudente in gesondheidswetenskappe gevra is, geassesseer. Dit het getoon dat die vrae hoofsaaklik studente se begrip van die taal van chemie getoets het, maar gefaal het om die diepte van hulle konseptuele begrip van die vak genoegsaam te toets.

Ander hoofstukke in die boek deur US dosente sluit in “From principle to practice: enabling theory-practice bridging in engineering education" deur Karin Wolff; “Building the knowledge base of blended learning: implications for educational technology and academic development" deur J.P. Bosman en Sonja Strydom; en “Legitimate participation in program renewal: the role of academic development units" deur Gert Young en Cecilia Jacobs.

Twee verdere boeke in die reeks wat in 2021 gepubliseer sal word, sal ook ander outeurs uit die Fakulteit Natuurwetenskappe se werk insluit. Decolonising knowledge and knowers: struggles for university transformation in South Africa, en Enhancing Science Education: Exploring knowledge practices with legitimation code theory.​