Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hongersnood kan SA se voorland wees
Outeur: Gabrielle Wills ,Servaas van der Berg & Leila Patel
Gepubliseer: 28/07/2020

Hongersnood kan Suid-Afrika se voorland wees indien pogings wat daarop gemik is om die vernietigende impak van die COVID-19-pandemie teen te werk afgeskaal word, skryf dr Gabrielle Wills, prof Servaas van der Berg (beide van die Departement Ekonomie) en prof Leila Patel (Universiteit van Johannesburg) in ʼn meningsartikel vir The Conversation (26 Julie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Gabrielle Wills, Leila Patel en Servaas van der Berg*

Toe Suid-Afrika op 27 Maart 2020 'n tydperk van algehele inperking binnegegaan het, is die regering wêreldwyd geloof vir sy besliste stappe om die “kromme laag te hou" en COVID-19-infeksies in toom te hou. Vier maande later toon ons navorsing waarvoor ons 'n breër nasionale opname gebruik het, dat groter groepe of huishoudings geweldig swaarkry as 'n direkte gevolg van die inperking.

Twee uit elke vyf volwassenes wat tussen Mei en Junie ondervra is, het aangedui dat hul huishouding sy hoofbron van inkomste verloor het sedert die inperking begin het. Dit het rampspoedige gevolge gehad op voedselsekerheid en hongersnood in huishoudings.

Altesame 47% van die volwassenes met wie ons onderhoude gevoer het, het aangedui dat hul huishoudings se kruideniersgeld in April opgeraak het. Tussen Mei en Junie het 21% aangedui dat iemand in hul huishouding honger gely het in die laaste sewe dae. En 15% het aangedui dat 'n kind honger gely het in dieselfde tydperk.

Die regering het drie maatskaplikebeskermingskanale gebruik om mense se bestaan te beveilig: maatskaplike versekering wat die COVID-19 Tydelike Werkgewer-werknemer-hulpfonds behels, toelaes en plaaslike maatskaplike hulppogings. Gemeenskap-, geloof- en nieregeringsorganisasies het ook ongelooflike behendigheid getoon om na hul gemeenskappe uit te reik.

Die organisasies wat in hierdie studie bekyk is – insluitende die regering – het nagenoeg 1 miljoen voedselpakkies verskaf. Dit het moontlik sowat 5 miljoen mense bereik.

Maar die reaksie was nie wyd of diep genoeg om die vernietigende uitwerking van werks- of inkomsteverliese op voedselsekerheid in huishoudings teë te werk nie. Verder het gapings in die reaksie van die regering ook na vore gekom. Administratiewe uitdagings om maatskaplike hulp en versekering te versprei het die verskaffing van hulp aan sommige huishoudings vertraag.

Die opskorting van die nasionale skoolvoedingsprogram, wat gewoonlik 9,6 miljoen kinders bereik, het die gereelde daaglikse voorsiening van etes gekortwiek.

Ons navorsing toon dat die land nie enigeen van die drie kanale van maatskaplike beskerming kan staak indien dit grootskaalse chroniese hongersnood wil voorkom nie. Versuim om dit te doen kan 'n ontwikkelende humanitêre krisis vererger en ekonomiese herstel belemmer.

Die studie

Ons navorsing is as deel van die Nasionale Inkomste-dinamikastudie – Koronavirus Vinnige Selfoonopname (NIDS-CRAM) gedoen. Dit is 'n breë nasionale verteenwoordigende paneelopname van 7 000 Suid-Afrikaners wat maandeliks gedoen word. Die doel is om vinnige data oor sleuteluitkomste soos werkloosheid, huishoudelike inkomste, kinderhongersnood en toegang tot regeringstoelaes verskaf.

Om ons ontleding van hierdie kwantitatiewe data aan te vul, het ons telefoniese onderhoude met sleutelinformante gevoer wat inligting oor die verskaffing van voedselhulp gedurende die tydperk van inperking kon verskaf.

Ander kon kommentaar lewe op die verbintenis tussen maatskaplike hulp (insluitende skoolvoeding) en maatskaplike beskerming. Die mense wat ondervra is, is uit die regering, NRO's, gemeenskap-, geloof- en humanitêre organisasies en liefdadigheidsinisiatiewe afkomstig.

Van ons bevindinge sluit die volgende in:

  • Die toename in maatskaplike regeringstoelaes vir ses maande het 'n belangrike rol in die verskaffing van verligting aan huishoudings gespeel en is oor die algemeen goed geteiken. Dit is egter onvoldoende om voedselarmoede wat met 'n verlies aan inkomste gedurende die inperkingstydperk gepaard gaan, aan te spreek. Voedselarmoede in huishoudings wat 'n kindertoelaag ontvang en waarby 12,5 miljoen kinders baat vind, word deur die verlies aan inkomste vererger.
  • Daar was aansienlike vertragings in uitbetalings deur die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF). Dit moet dringend aangespreek word om huishoudings wat werk in die formele sektor verloor het, te ondersteun. Hierdie uitbetalings is baie groter as toelaagaanvullings en bied meer doeltreffende dekking vir gapings in verliese aan huishoudelike inkomste uit verdienste.
  • Beide die data van die opname en onderhoude met sleutelinformante dui daarop dat goed-gefokusde, plaaslike maatskaplike hulppogings voortgesit en gesteun moet word as 'n maatreël om die gaping te vul om diegene te bereik wat nie deur maatskaplike versekering of maatskaplike hulp gedek word nie.
  • Waar gemeenskappe se pogings om kwesbare huishoudings te ondersteun, goed geteiken is, versterk dit die behoefte aan die doeltreffende vloei van inligting om maatskaplike hulppogings in te lig.
  • Terwyl die land se stelsel vir maatskaplike hulp omvattend is in omvang, was dit tot dusver nie in staat om die behoeftes van groot sektore van die bevolking aan te spreek wat werkloos is of in die informele sektor werk en nie vir maatskaplike versekering kwalifiseer nie.  

Volgende stappe

Terwyl Suid-Afrikaners groot skokke oor hul lewensonderhoud beleef het, is die bedreiging wat honger inhou, 'n groot bron van kommer vir gesondheid-, politieke en maatskaplike stabiliteit. Die land kan nie ekonomies heropgebou word en herstel terwyl groot groepe mense honger ly nie.

Die land moet voortgaan om al drie maatskaplike beskermingskanale so doeltreffend en doelmatig as moontlik te gebruik. Daarom steun ons die huidige maatskaplike beleidspogings en het ons verdere voorstelle om die drie arms te versterk.

Eerstens moet daar dringende aandag gegee word aan die regstelling van tegniese probleme wat in die WVF-stelsel voorkom.

Tweedens is dit uiters noodsaaklik dat die regering voortgaan om die omvang van die toelaagstelsel uit te brei deur middel van die COVID-19-maatskaplike noodverligtingstoelaag.

Ondanks die tegniese uitdagings wat met die inwerkingstelling van hierdie toelaag ondervind is, sal die insluiting van meer Suid-Afrikaners by 'n formele maatskaplike beskermingstelsel die regering in staat stel om vinnig te reageer om noodleniging aan meer huishoudings te verskaf – nou en in die toekoms.

Ons glo ook dat die voortsetting van toelaag-aanvullings vir 'n verdere drie maande tot Januarie 2021 uiters noodsaaklik is. Dit is veral waar in die lig van die skatting dat die ekonomie met 7,2% gaan krimp. Die ekonomie gaan dus baie langer neem om genoegsaam te herstel vir mense om werk te kry.

Die behoefte aan die hervatting van die skoolvoedingskema ongeag die sluiting van skole is verder ook nie onderhandelbaar nie ten einde kinderhongersnood te verlig. En die regering kan NRO's en ander burgerlike organisasies beter gebruik om die voorsiening van voedselhulp te verbeter aan mense wat moeilik bereikbaar is deur maatskaplike versekering, maatskaplike hulp of die regering so maatskaplike noodverligtingspogings.

Die mobilisering van korporatiewe maatskaplike beleggings en liefdadigheidskenkings vir voedselsekerheid is nodig om die finansiële volhoubaarheid van die maatskaplike sektor en sy maatskaplike noodverligtingspogings te verseker.

*Gabrielle Wills is 'n navorser verbonde aan die navorsingsgroep oor Sosiale Ekonomiese Beleid aan die Universiteit Stellenbosch; Leila Patel is 'n professor in Sosiale Ontwikkelingsstudie aan die Universiteit van Johannesburg; en Servaas van der Berg is 'n professor in die Ekonomie en bekleër van die Leerstoel in die Ekonomie van Sosiale Beleid aan die Universiteit Stellenbosch.

Bokang Mpeta, 'n projekbestuurde by Funda Wande, was 'n medeskrywer van die studie waarop hierdie artikel gegrond is.