Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US gaan nie Leon Schreiber en die DA se PAIA-hofaansoek opponeer
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 27/07/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) sal nie die hofaansoek kragtens die Wet op die Bevordering van Inligting (PAIA) wat verband hou met die onafhanklike ondersoek van afgetrede regter Burton Fourie, teenstaan nie.

Die hofaansoek het gevolg op 'n vroeëre PAIA-versoek van dr Leon Schreiber om inligting beskikbaar te stel wat regter Fourie gebruik het in sy ondersoek na die bewerings dat die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, onreëlmatig ingemeng het in die hofsaak tussen die US en Gelyke Kanse oor die Universiteit se 2016-taalbeleid.

Na oorweging van die hofaansoek en ondersteunende verklarings, asook verwante omstandighede, het die US besluit om nie die aansoek teen te staan nie. Hierdie besluit impliseer nie dat die US die applikante se sienings en bewerings gelyk gee nie. Die US is van mening dat die onafhanklike ondersoek van regter Fourie dr Schreiber en die DA se bewerings weerlê. Die rekord van die Fourie-ondersoek, naamlik die transkripsies van mondelinge verrigtinge, geskrewe kommunikasie en ander dokumente waarin die applikante wil insae hê, sal ook regter Fourie se bevindinge ten opsigte van die Rektor en afgetrede regter Cameron ondersteun. 

Die US-raad het die Fourie-verslag in Desember 2019 aanvaar en ook aan die publiek beskikbaar gemaak. Regter Fourie het in sy verslag bevind dat daar nie meriete in die bewerings van ongerymdhede in die gedrag van die US Rektor, prof De Villiers, of regter Cameron in die Grondwetlike hofsaak oor die Universiteit se 2016-taalbeleid is nie.

Agtergrond

Tien regters van die Grondwetlike Hof het op 10 Oktober 2019 eenparig in die guns van die US beslis in die saak waarin die US 'n hofaansoek van Gelyke Kanse, om die instelling te dwing om na die 2014 Taalbeleid terug te keer, teengestaan het. Hierdie uitspraak van die Grondwetlike Hof het die uitspraak van die Wes-Kaapse Hoë Hof van 2017 bekragtig dat die US se meertalige en inklusiewe 2016-taalbeleid aan die Grondwet en die Nasionale Taalbeleid op Hoër Onderwys (2002) voldoen. 

Op 24 Oktober 2019 het dr Schreiber, in sy hoedanigheid as 'n US-alumnus, versoek dat die Universiteit 'n onafhanklike ondersoek loods teen prof De Villiers wat betref sy rol in die nominasie van afgetrede regter Cameron as 'n kandidaat vir die amp van Kanselier by die US. 

Hierdie bewerings van dr Schreiber het gevolg op 'n versoek wat die Rektor in Julie 2019 aan regter Edwin Cameron gerig het om homself beskikbaar te stel om genomineer te word as kandidaat vir die US-kanselierskap wat begin 2020 vakant sou raak. 'n Kieskollege bestaande uit lede van die Raad, lede van die Uitvoerende Komitee van die Senaat, sowel as die president en visepresident van die Konvokasie van die US, het in September 2019 die nuwe kanselier verkies.

Na oorweging van dr Schreiber se klagte teen die rektor, het die Uitvoerende Komitee van die US Raad (UK(R)) op 31 Oktober 2019 besluit om ʼn onafhanklike ondersoek te loods ooreenkomstig goeie beheer-en-bestuur en deursigtigheid. Die UK(R) het regter Fourie aangestel om die ondersoek uit te voer. 

Op 26 November 2019 het regter Fourie, gegrond op die onderhoude wat hy gevoer het en die dokumentasie wat aan hom beskikbaar gestel is, tot die slotsom gekom dat daar geen bewyse was dat die optrede van die Rektor rakende die nominasie van regter Cameron vir die amp van Kanselier van die US 'n ernstige oortreding van die reg, of ernstige wangedrag uitgemaak het nie. Volgens die Fourie-verslag het die bewyse hoogstens getoon dat die Rektor, soos hy verplig was om te doen, gehelp het – en moontlik selfs die leiding geneem het – om geskikte kandidate vir die nominasie van 'n nuwe Kanselier te identifiseer. Regter Cameron, aan die ander kant, het homself eers vir nominasie beskikbaar gestel nadat advokaat Jan Heunis SC namens Gelyke Kanse skriftelik aangedui het dat hy nie beswaar sal maak teen die nominasie van regter Cameron nie.  Die getuienis in geheel het volgens regter Fourie nie gedui op onbehoorlike gedrag deur die Rektor of regter Cameron nie. (Lees die US se oorspronklike verklaring hier.)