Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Spesifieke strukturele hindernisse verhoed gedragsverandering in SA tydens pandemie
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 27/07/2020

Soos die COVID-19 infeksiekoers teen 'n onrusbarende tempo styg in Suid-Afrika, waarsku 'n artikel deur twee akademici van die Universiteit Stellenbosch (US) dat nakoming van inperkingsmaatreëls in toestande waar burgers leef sonder versekerde en betaalde werk moeilik mag wees sonder om die land se strukturele hindernisse vir gedragsverandering aan te spreek.

“In Suid-Afrika, anders as in die Verenigde State waar die infeksiekoers teen 'n eksponensiële tempo styg om politieke en ideologiese redes, staar ons spesifieke strukturele hindernisse in die gesig wat eie is aan hierdie land en individuele gedragsverandering sal verhoed," verduidelik prof Ashraf Kagee, 'n sielkundige en Uitgelese Professor in Sielkunde aan US, en een van die medeskrywers van die navorsingsartikel.

Die medeskrywer van die artikel is dr Bronwyné Jo'sean Coetzee, ook van die Departement Sielkunde aan die US.

“Terwyl ons President die situasie goed hanteer het en die implementering van inperking ons gesondheidstelsel tyd gegee het om voor te berei vir die invloei van pasiënte met COVID-19 en die groot aantal mense wat nou behandeling benodig, het die inperking vereis dat mense tuis bly en slegs hul wonings verlaat om noodsaaklikhede soos kruideniersware en medikasie te koop," sê Kagee.

“Soos ons weet woon 'n groot deel van die bevolking en lae en middel-inkomste lande in wisselvallige omstandighede. Inperking dwing miljoene mense om lang periodes saam deur te bring in nabyheid van ander en met beperkte hulpbronne. Op verskeie maniere lyk pogings om die verspreiding van COVID-19 te beperk in digbevolkte gemeenskappe met beperkte toegang tot voedsel, water en sanitasie teen-intuïtief. Dit is baie moeilik in haglike toestande," voeg Kagee en Coetzee by.

Hierdie omstandighede, verduidelik Kagee en Coetzee, het weer die kollig geplaas op die feit dat terwyl COVID-19 miskien nie teen enigeen diskrimineer in terme van vatbaarheid vir die infeksie nie, dit wel diskrimineer op die basis van sosio-ekonomiese status.

“Isolasie veronderstel dat almal toegang het tot persoonlike ruimte en die vermoë het om tuis voort te gaan met betaalde werk. In baie lae en middel-inkomste lande soos Suid-Afrika is werk dikwels van fisieke aard en kan dit nie op 'n afstand gedoen word nie, soos die geval is met baie witboordjie-werk wat geïntegreer is in die digitale ekonomie. Dus gaan poste in die informele sektor, soos straatverkope, bestuur van minibus-taxi's, smous, vakmanskap, huishulpwerk en tydelike werk in klein besighede, wat algemeen is in Suid-Afrika, verlore. In hierdie mate diskrimineer COVID-19 dus beslis volgens sosio-ekonomiese status aangesien dit sosiale ongelykheid vererger as gevolg van inperking."

Soos vele ander deskundiges in verskeie sektore in Suid-Afrika, meen Kagee en Coetzee albei dat bestuur van die krisis in die land vereis dat 'n multi-dissiplinêre span kundiges soos beleidmakers, ekonome, sielkundiges en medici saamwerk om realistiese oplossings te vind spesifiek vir Suid-Afrika se uitdagings. Hulle glo dat daar ook 'n unieke rol is vir sielkundiges en geestesgesondheid-spesialiste om te speel om gedragsverandering en nakoming van regulasies te verseker.

Coetzee en Kagee neem kennis dat “gedragsverandering moeilik en kompleks is" selfs onder die beste omstandighede. Deur egter wat bekend staan as die Teoretiese Domein-raamwerk te gebruik, wat 'n reeks teorieë oor gedragsverandering insluit wat ontwikkel is deur gesondheid-sielkundiges en teoretici en implementeringsnavorsers in die konteks van ander gesondheid-uitdagings, het hulle moontlike oplossings vir plaaslike uitdagings ontwikkel. Die raamwerk meet gedragsverandering deur die gebruik van faktore soos kennis; vaardighede; sosiale/professionele rolle en identiteit; oortuigings oor vermoëns; optimisme; oortuigings oor gevolge; versterking; doelwitte; geheue, aandag en besluitnemingsprosesse; die omgewingskonteks en hulpbronne; sosiale invloede; emosies; en gedragsregulering.

“Gebaseer op hierdie raamwerk het ons 'n paar aanbevelings gemaak wat die uitwerking van die inperking mag verlig in lae en middel-inkomste lande soos Suid-Afrika. Die eerste is vir regerings in hierdie lande om hul bevolkings in hul vertroue te neem en deeglike toegang tot inligting oor die verspreiding van die pandemie te verseker. Toegang tot sulke inligting moet geredelik en maklik beskikbaar, eenvoudig en duidelik wees en gereeld akkuraat en sorgvuldig opgedateer word," verduidelik Kagee en Coetzee.

“Dit behels die beklemtoning van die verantwoordelikhede van burgers om te kyk na hul gesondheid en dié van hul medeburgers, eerder as die strafmaatreëls geassosieer met die oortreding van inperk-voorwaardes. Daarmee saam moet die rede vir inperkingsmaatreëls op deursigtige wyse deur regerings aan burgers gekommunikeer word. Dit is een van die dinge waaroor ek baie krities was. Ons het ministers wat na vore kom met voorstelle en riglyne wat nie sin maak vir die Suid-Afrikaanse bevolking nie. Om gehoorsaamheid te verseker moet die regering sy burgers in sy vertroue neem en die inligting waarop besluite gebaseer word, deel," voeg Kagee by.

Kagee en Coetzee beveel ook aan dat “outoritêre en militêre benaderings om nakoming te verseker tot 'n minimum beperk word."

Ander aanbevelings deur Kagee en Coetzee sluit in:

  1. Dat inligting oor COVID-19 en reëls en regulasies beskikbaar gemaak word en aangepas word vir kinders en jong mense en dat aan ouers die gereedskap en hulpbronne verskaf word wat ouderdom-geskik en kind-vriendelik is. Aanpas van boodskappe vir die jeug is veral van belang aangesien vorige ondervinding, soos om riskante gesondheidsrisikogedrag onder die jeug te wysig wanneer dit kom by veilige seks, moeilik was om onder die jeug te implementeer. Dit is weens 'n gevoel van onoorwinlikheid en dat hulle niks het om te verloor nie en dus immuun is vir die korona-virus en sy gevolge.
  2. Dat internettoegang algemeen beskikbaar gestel moet word deur data so bekostigbaar as moontlik te maak, of selfs gratis, om die vrye vloei van inligting aan alle burgers moontlik te maak: Gratis of bekostigbare data sal meer mense toegang gee tot inligting, insluitend waar om hulp te soek vir COVID-19-verwante simptome, geestesgesondheid-kwessies, hulp vir diegene wat geraak word deur geslagsgebaseerde geweld, en toegang tot leermateriaal vir skool- en universiteitsleerders. 
  3. Kriminaliseer vals nuus en wan-inligting om paniek en verkeerde gesondheidspraktyke te verminder.
  4. Verhoog toegang tot e-bankwese om burgers toe te laat om welsyn-verligting te ontvang waar nasionale begrotings dit toelaat. 
  5. Dat NRO's en plaaslike welsynsorganisasies betrek word by die verskaffing van voedsel aan behoeftige gemeenskappe sowel as verskaffing van watertenks en sanitasie-toerusting deur die regering.
  6. Betrek tradisionele genesers in lande waar hulle invloed het, om mense aan te moedig om inperkingsmaatreëls en riglyne vir veilige gedrag na te kom.​

Nakoming is nie net moeilik vir diegene wat in oorvol gebiede in  Suid-Afrika woon nie, soos bewys is deur lede van die publiek wat video en foto's deel van individue in beter ekonomiese omstandighede wat die reëls verbreek. Dit, sê Kagee, is gedeeltelik weens die feit dat individue 'n “inherente behoefte het om naby ander mense te wees en betrokke te wees."​

“Daar is baie angs onder gewone mense wat bekommerd is oor of hulle toegang sal hê tot gesondheidsorg as hulle siek word en wat sal gebeur as hulle in 'n hospitaal beland en op 'n ventilator geplaas moet word, wat vrese oor die dood veroorsaak. Mense met onderliggende geestesgesondheid-toestande sukkel nog meer, terwyl geslagsgebaseerde geweld ook toegeneem het.

“Die werklikheid is dat hierdie virus nie gou gaan verdwyn nie en dat daar geen manier is om te voorspel wanneer dinge sal stabiliseer nie, wat beteken dat ons oplossings moet vind om risiko in hierdie omstandighede te verminder. 'n Paar dekades gelede het niemand sitplekgordels gedra nie en hulle het in bioskope gerook, maar dit het oor die jare verander met die implementering van regulasies wat gedragsverandering teweeg gebring het. Dit wys dat ons ons sosiale norme kan verander en dit weer kan doen met hierdie pandemie om ten minste die felheid van die inperking te versag."

Toegang tot die volle navorsingsartikel kan hier verkry word: https://doi.org/10.1080/17441692.2020.1779331