Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die SciMathUS-studente is terug op kampus
Outeur: Dr Janina Theron
Gepubliseer: 27/07/2020

Dit is nodeloos om te noem dat 2020 sover nog nét skokkend vir Suid-Afrika en die res van die wêreld was. Die Covid-19 pandemie het verder die akademiese wêreld op 'n ondenkbare vlak ontwrig. Ons het onsself in 'n situasie bevind waar ons ons daaglikse klasse op kampus moes staak en 'n nuwe leerprogram aanlyn moes volg. Terwyl dit vir dié studente wat bekend was met e-Leermetodes maklik was, was dit nie die geval vir ander nie. Die algemene SciMathUs-student bevind hom/haar in die laasgenoemde groep. Die SciMathUS-program lok spesifiek studente van opvoedkundig-agtergeblewe agtergronde en bied hulle die kans om hul NSS-punte vir Wiskunde, Natuur- en Skeikunde, sowel as Rekeningkunde te verbeter. Dit is 'n intensiewe jaarprogram gebaseer op versnelde onderrig- en leermetodes.

Toe die opskorting van klasse in die onderwysinstellings deur die Ministers van Onderwys (DBO & DOO) aangekondig is, moes SciMathUS (Science and Maths at the University of Stellenbosch) soos alle ander studente die kampus middel-Maart skielik verlaat. Ná die inwerkingtreding van die reguleringsbepalings wat opgestel is, het die personeel en studente van hierdie program sedert 31 Maart hierdie jaar 'n nuwe pad van onderrig en leer, genaamd 'aanlyn' begin.

Alhoewel die SciMathUS-studente ietwat gewoond was daaraan om aanlyn te werk deur SUNLearn an WhatsApp-groepe, was om alleen, tuis en aanlyn te werk, 'n ander storie. Daar was nie net tegniese probleme soos konnektiwiteit, gebrek aan data en geen toegang tot rekenaars nie, maar studente het hul nou in 'n heel ander omgewing bevind. Waar daar eens ondersteuning, gefokusde eweknieë en onverstoorde studietye in die koshuis op kampus was, moes ons studente nou voldoen aan die reëls en roetines van die huis- en gesinslewe, tesame met die daaglikse roetine van aanlynklasse. Daar was bloot geen sprake van die opskorting van klasse nie; die fasiliteerders het 'n daaglikse rooster opgestel om met studente in gesprek te tree en die leerproses aan die gang te hou.

Die studente moes hul eie roetes rondom hierdie uitdagende omstandighede bepaal met behulp van hul slimfone as 'n primêre middel van toegang tot SUNLearn en om opdragte op te voltooi. Tydens hierdie onsekere tye het ons studente besef dat hulle hul leer nóu meer as ooit in hul eie hande moes neem. Gedurende hierdie tyd – wat op die ou-end 13 weke in beslag geneem het - het hulle nie net akademiese inhoud gedek nie. Die kurrikulum is aangepas om ook te fokus op ondersteunende lewensvaardighede soos stres- en tydsbestuur en 'n uitgebreide kursus oor studiemetodes en –tegnieke is aangebied met die doel om hulle toe te rus vir hierdie nuwe studieomgewing. Studente was ook in hierdie tyd afsonderlik ondersteun met die aansoeke by hoëronderwysinstellings vir 2021 deur een van die personeellede van SciMathUS, mev. Elsje Beyers. Hierdie het alles via hul slimfone plaasgevind. Die geeskragtigheid wat ons studente in hierdie tyd getoon het, is onmiskenbaar.

Toe die regering die geleentheid bied dat 'n derde van die studente weer op kampusse toegelaat mag word, het die Universiteit van Stellenbosch die SciMathUS-studente geleentheid gegee om deel te wees van hierdie derde. Hierdie besluit was gebaseer daarop dat studente weereens 'n bevorderlike ruimte en praktiese hulpmiddels aangebied sou word wat krities is om hul SciMathUS-jaar te voltooi. Hulle het die naweek van 10 tot 12 Julie by die koshuis aangekom. Ná tien dae van kwarantyn is klasse van aangesig-tot-aangesig weer ingefaseer. Alhoewel die nuwe omstandighede en protokol iets is om aan gewoond te raak, is ons studente vasberade om die akademiese jaar op 'n hoë noot te eindig. Personeel en studente is opgewonde en dankbaar vir die geleentheid om weer in die klas te wees.