Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
"Die kenmerk van ’n vegter is om deur die storm vorentoe te beur..."
Outeur: Transformation Office | Disability Unit | AfriNEAD
Gepubliseer: 21/07/2020
​Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het laat verlede jaar aangekondig dat 2020 die Universiteit se Jaar vir Persone met Gestremdheid sal wees. Die hoogtepunt van die jaar sal die sesde konferensie van African Network for Evidence-to-Action in Disability (AfriNEAD), 'n hoogaangeskrewe internasionale netwerk, wees wat van 30 November tot 3 Desember 2020 by die US aangebied sal word. Om dit te vier en te eer, sal die Transformasiekantoor en die Eenheid vir Gestremdhede, te same met AfriNEAD, maandelikse meningsstukke of artikels deur persone met gestremdhede publiseer. Ons vyfde stuk is geskryf deur Ulf-Dieter Koepp, 'n junior tegniese beampte, in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe.​


Ek is Ulf-Dieter Koepp, oorspronklik van Windhoek. Ek is doof en met 'n gesplete verhemelte gebore. My doofheid is veroorsaak deur die Duitse masels wat my ma opgedoen het terwyl sy swanger was. My ma het my leer liplees toe ek nog baie klein was, en ek het vanaf 1982 tot 1998 die Dominikaanse Grimley Skool vir Dowes in Houtbaai bygewoon.

Ek werk die afgelope drie jaar as junior tegniese beampte by die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US). Voordat ek by die US aangestel is, was my werk om verskeie toepassings deur Android Studio en MIT App Inventor uit te toets (aanlyn). Een van my talle idees was dié van Ava (https://www.ava.me/). Ek ondersteun ook die HUMARGA Hulptoonbank deur persoonlike rekenaars en drukkers in stand te hou en die papiervoervoorraad aan te vul. Ek het omtrent vyf jaar ondervinding as drukkertegnikus by verskeie maatskappye. 

Aan die begin van 2017, een jaar nadat ek by die US begin werk het en my ma in Junie 2016 skielik oorlede is, het ek by 'n vurk in die pad te staan gekom. Ek was al 41 jaar daaraan gewoond om doof te wees, maar “die groot K" was 'n ander saak. Op daardie punt in my pad het “K", in die vorm van nasofaringeale karsinoom, 'n geweer teen my slaap kom druk.

Hoe het hierdie wrede rower my lyf so stilletjies bespring? Hoekom het ek dit nie vroeër agtergekom nie? Om die waarheid te sê, ek het al vlugkaartjies bespreek vir 'n vakansie van drie weke in Namibië in November 2016. Min het ek geweet ek sou 'n ander, onbekende koers inslaan. Ek het die oor-neus-en-keelspesialis gevra of ek as 'n nuwe kandidaat vir 'n kogleêre inplanting in aanmerking sou kom. En daar tref die bom my: Die radioloog ontdek op die CT- en MRB-skandeerbeelde 'n massiewe letsel diep in my linker-nasofarinks-streek. Daar is aanvaar dat die toestand in fase 1 is – sommer nog vroeg! Binne twee weke het dit egter na fase 2 gevorder. Ek het geen simptome – geswelde limfkliere, nekswellings, erge hoofpyne of voortdurende sinusprobleme – gehad nie.

Hoe het ek dit ooit reggekry om anderkant uit te kom? Ek het nog altyd gedink die US is 'n buitengewone werkgewer wat jaarlikse en siekverlof betref, maar ek was verstom oor die manier waarop hulle my siekverlof kon struktureer. Dit het oortref wat ek logieserwys verwag het. Ek weet dat, wanneer 'n werknemer 'n siekte opdoen, die standaardprosedure by enige maatskappy is om die werknemer 'n beperkte deernistyd toe te laat. Toe ek egter sien hoe die US my siekverlof struktureer, het ek gedink: “Sou ek dít by enige ander werkgewer kon kry?" Wanneer 'n werknemer vir 'n lang ruk baie siek is, bied die US iets wat “ongeskiktheidsdekking" genoem word en wat enorm baie help om jou verlies aan inkomste te dek. Regtigwaar, die US bied 'n duidelike, verenigde en onoortreflike front wat enig in sy soort onder werkgewers is wat egte verbondenheid tot studente en personeel betref – ook diegene met 'n gestremdheid!

En ja, ek het die stryd teen kanker gewen en is sedert Augustus 2017 volledig in remissie. Die kenmerk van 'n vegter is om deur die storm vorentoe te beur en op 'n dag weer in die sonskyn uit te kom. Alles wat voor my amptelike diagnosering en tydens die behandelings gebeur het, het my kaalgestroop soos 'n ui wat afgeskil word. Nooit sou ek kon dink dat my teologiese studies aan die Kaapse Teologiese Seminarie ('n pentekostalisties-charismatiese Bybelkollege, 1999 tot 2002), eendag beproef sou word deur “die groot K" wat my lewe soos 'n Goliat tot stilstand sou dwing nie.

Kon ek toe die inplanting kry? Ongelukkig nog nie, maar ek is bewus daarvan dat Discovery Health se voordele wel vir hierdie soort operasie betaal. My onkoloog en my oor-neus-en-keelspesialis wonder albei of ek eens nog die kogleêre inplanting wil kry. Die waarheid is: Dit is nie vir almal bedoel nie.

My raad aan ander mense met gehoorverlies, op grond van my ondervinding aan die US, is: Wees jouself en hou jou vlammetjie aan die brand sodat jy diegene om jou kan aanvuur. Jy is 'n bate. Wees oopgestel vir klein stukkies genade wat jou hele manier van dink en aanpas kan verander.