Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe opname verskaf kritiese data in stryd teen COVID-19
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 16/07/2020

​Die koronavirus-pandemie het Suid-Afrika se sosiale en ekonomiese landskap hard getref en beleidsformulering en -implementering byna onmoontlik gemaak. Binne hierdie konteks werp 'n nuwe studie lig op wie hierdeur geraak word, hoe hulle geraak word en hoe die regering op die krisis kan reageer.

​Die National Income Dynamics Study − Coronavirus Rapid Mobile Survey (NIDS-CRAM) het 'n meningsopname onder 7 000 Suid-Afrikaners gedurende die tydperk 7 Mei tot 27 Junie 2020 gedoen. Respondente is gevra oor hul inkomste en indiensneming, huishoudelike welstand, ontvangs van toelaes en hul kennis en gedrag rakende COVID-19. Die resultaat van dié opname is op Woensdag, 15 Julie 2020 bekendgestel.

Meer as 30 sosiale wetenskaplikes van 'n aantal universiteite en navorsingsorganisasies onder leiding van 'n span van die Universiteit Stellenbosch, asook die Universiteite van Kaapstad en die Witwatersrand het saam aan die studie gewerk.

Dr Nic Spaull van die US se Departement Ekonomie en die hoofnavorser van die NIDS-CRAM-studie, het gesê: “Die studie kan gesien word as 'n soort barometer wat bepaal hoe ondernemings en gesinne geraak word deur die grendeltydperk, die pandemie en die resessie. Dit sal egter ook verslag doen oor die omvang en doeltreffendheid van die regering se maatskaplike en ekonomiese hulpverlening in die komende maande."

Die studie bevat belangrike bevindings uit 11 verslae wat in drie hoofafdelings opgesom is: indiensneming, hongerte en gesondheid. 

  • Vir verdere inligting oor die National Income Dynamics Study-Coronavirus Rapid Mobile Survey (insluitend die navorsingsverslae), gaan na: https://cramsurvey.org​