Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Viool kry Afrika-klank danksy US-professor
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 15/07/2020


Die Universiteit Stellenbosch (US) doen al vir baie jare baanbrekerswerk om unieke opvoedkundige kursusse te skep wat 'n instrumentale rol in die opleiding van die land se toekomstige wetenskaplikes speel.

Prof Martina Meincken van die departement Bos- en Houtkunde is een van hierdie wetenskaplikes wat met 'n eiesoortige projek vorendag gekom het om te bewys dat houtkunde nie net oor boumateriale gaan nie, maar ook gebruik kan word om pragtige musiek te maak.

Meincken het die proses van stapel gestuur om inheemse Afrika-houtsoorte te gebruik in die bou van Afrika-viole. Die eerste viool is oor 'n tydperk van drie maande deur een van Suid-Afrika se beste luitmakers, Hannes Jacbobs van Pretoria, uit geel- en sapelehout gebou.

Hout wat vir die bou van musiekinstrumente gebruik word, moet oor sekere fisieke en akoestiese eienskappe beskik en nie alle houtsoorte is geskik vir toonhout nie. Terwyl kitare dikwels van verskeie soorte (inheemse) hout gemaak word, gebruik luitmakers wêreldwyd ingevoerde sparhout vir die voorplaat en esdoringhout vir die agterplaat.

Volgens Meincken wou sy bewys dat die gehalte van die viool vergelyk kan word met dié wat uit versigtig verouderde en gedroogde hout wat gewoonlik gebruik word, gemaak is.

“Die keuse van hout is inderdaad 'n baie wetenskaplike proses. Dit is nie net belangrik om ons plaaslike hout en die eienskappe daarvan ten toon te stel nie, maar veral ook om te bewys dat ander hout behalwe die tradisionele, ingevoerde spar- en esdoringhout wat op grond van sekere fisieke eienskappe gekies is, ook as toonhout gebruik kan word," sê Meincken.

Die skep van die Afrika-viole het voortgespruit uit 'n navorsingsprojek waarby Meincken die afgelope twee jaar by betrokke is. Die deurlopende navorsingsprojek het die karaktereienskappe van verskillende houtsoorte van (Suid-)Afrika opgeteken en bepaal waar hulle by verskillende klassifikasieskemas inpas om die geskiktheid van die hout as toonhout te bepaal.

“Ons het verskillende fisieke en meganiese eienskappe van al die inheemse houtsoorte wat ons kon vind, gemeet en hulle volgens verskillende klassifikasieskemas vir toonhout geklassifiseer om die houtsoorte te kies wat die geskikste is," sê Meincken.

Die departement Bos- en Houtkunde beplan ook om 'n tweede viool te bou as deel verskillende studenteprojekte. 'n Plaaslike luitmaker sal ook met die finale fynere afwerkings en montering van hierdie viole help.

Meincken hoop ook om in samewerking met Louis van der Watt van die US se Musiekdepartement iewers in die toekoms 'n konsert of aanbieding te reël om die maak van die viool en die houtkeuses te verduidelik en ook sodat mense die klankverskille tussen die Afrika-viool en 'n tradisionele viool kan hoor wanneer die instrumente gespeel word.

Klik hier om na die vioolmaakproses te kyk.  

Vir meer inligting, tree met prof Martina Meincken van die departement Bos- en Houtkunde in verbinding by mmein@sun.ac.za of besoek: http://www.sun.ac.za/afrikaans/faculty/agri/forestry/Pages/default.aspx. ​