Kanker van die slukderm is een van die kankers in Afrika wat die minste bestudeer is. Hierdie siekte het ʼn buitengewone verspreiding in die wêreld, en het ʼn hoë voorkoms in China en Afrika. In suidelike Afrika is dit meer algemeen aan die oostelike kant van die kontinent, en strek af tot in Suid-Afrika. Navorsers probeer nog uitpluis hoekom dit die geval is.
Dit is hoekom Hannah Simba, ʼn PhD-kandidaat in Openbare Gesondheid (aan die Afrika Kanker-instituut) opgewonde was toe sy gehoor het dat sy een van 11 begiftigdes was van die Margaret McNamara Opvoedingstoekenning ter waarde van $7000 (ongeveer R120 000) om hierdie siekte nouer te bestudeer.
Die toekenning sal aangewend word vir haar PhD-navorsing met die titel: "The role of Environmental and Genetic Factors in the Aetiology of Squamous Cell Carcinoma of the Oesophagus (OSCC) in the Eastern Cape Province of SA".
"Ek was baie opgewonder toe ek uitgevind het dat ek die toekenning ontvang het. Ek het al verskeie kere aansoek gedoen en het gewonder of ek moet aanhou probeer, of nie. Ek is veral opgewonde aangesien die toekenning my in staat stel om voltyds aan my PhD te werk. Baie studente het nie hierdie voorreg nie weens ʼn tekort aan befondsing. Dus is ek gelukkig en dankbaar," het Simba tydens ʼn onderhoud gesê.
Sy stel veral belang in die Oos-Kaap aangesien slukdermkanker in Suid-Afrika meer voorkom in daardie provinsie. “Wat my interesseer is om te probeer uitvind hoekom dit so ʼn buitengewone verspreiding het, en wat die faktore is wat daartoe bydra," het sy gesê.
"Slukdermkanker is dodelik en dit is tot nou toe min bestudeer in die Afrika-bevolking, daarom word die epidemiologie, asook die genetiese en omgewingsbasis van die siekte nie goed verstaan nie. Die resultate van hierdie studie sal meer lig skyn op die etiologie van OSCC, en kennis oor die omgewingsblootstellings en die rol van genetiese faktore in die ontwikkeling van die siekte bekend maak."
Die Margaret McNamara Opvoedingstoekenning ondersteun vroue van ontwikkelende lande wat hulle nagraadse studie doen. Die organisasie "word geïnspireer deur Margaret McNamara, en haar visie vir opvoeding en gendergelykheid". Die toekennings word jaarliks aan ʼn gekose groep vroue toegeken wat hulle finansiële behoefte, asook hulle toewyding aan die welstand van vroue en kinders bewys het.
Simba, 29, is oorspronklik van Zimbabwe, en het in 2011 na Suid-Afrika toe gekom om haar voorgraadse studies te doen. Sy stel belang in die mentorskap en begeleiding van meisies in Afrika en glo dit is noodsaaklik vir hulle om hul potensiaal te bereik. Buiten haar studies was sy vir die afgelope agt jaar nou betrokke by bemagtigingswerk vir meisies deur mentorskap in skole en die organiseer van kampe en werkswinkels.
Sy is ʼn streek-leier by Working to Advance STEM education for African Girls (WAAW), ʼn organisasie wat opleiding in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde vir Afrika-meisies bevorder. Deur haar werk het sy al ongeveer 20 universiteitstudente gementor en honderde meisies bereik.
"Die response was tot dusver baie goed. Die kinders stel baie belang in hierdie vakke. Ons doen wetenskaplike eksperimente vir die kinders, en praat met hulle oor loopbane in die wetenskap. Dit is opbouend! Jy voel so goed na die tyd.
"As ʼn jong meisie was ek altyd geïnteresseerd in wetenskap. Meisies word nie aangespoor om wetenskapsvakke te neem nie, of hulle is bang daarvoor."
As sy nie werk nie, doen Simba graag joga of gaan strand toe, en sy beplan om ʼn loopbaan te bou in die akademie en navorsing. “Ek sal graag in die veld van kankernavorsing wil bly, en selfs meer belangrik sal ek graag ander jong wetenskaplikes wat in die akademie probeer kom wil koester.
"Ek is net een. Ek kan nie alles doen nie, maar ek kan iets doen" is die woorde wat sy uitleef. "Ek het my doel gevind in mediese navorsing en die bemagtiging van vroue. Ek wil die status quo verander. Deur die loop van my voorgraadse studies het 28 kursusse geloop, en ek het net een vroulike professor gehad. Dit het my gepla. Ons benodig vroulike wetenskaplikes wat plaaslik opgelei is en op die noodsaaklike besluitnemende liggame sal wees en vroue verteenwoordig. Met ʼn tekort aan mentorskap en leierskap bereik vroue nie hulle volle potensiaal nie. Ek wil dit verander."