Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Oorbevolking, klimaatskrisis kan ons oorweldig
Outeur: Mark Tomlinson
Gepubliseer: 09/07/2020

Saterdag 11 Julie is Wêreldbevolkingsdag. In ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (6 Julie) skryf prof Mark Tomlinson (Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing) dat ons nou moet optree om te verhoed dat ons later deur oorbevolking en die klimaatskrisis oorweldig word.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Wat het COVID-19 met Wêreldbevolkingsdag te doen?

Mark Tomlinson

In 1989 het die Verenigde Nasies Wêreldbevolkingsdag ingestel, wat elke jaar op 11 Julie herdenk word. Die keuse van 11 Julie is vanweë 'n mylpaal gemaak – op 11 Julie 1987 het die wêreldbevolking altesaam vyf miljard beloop.

Wêreldbevolkingsdag het elke jaar 'n tema wat 'n kwessie in verband met die wêreldbevolking beklemtoon. In 2011, toe die wêreldbevolking die sewe miljard kerf verby gesteek het, was die tema hoe om al sewe miljard mense te bereik en hulle by die uitdagings van die planeet te betrek. Vanjaar is die fokus op reproduktiewe gesondheid en gendergelykheid en die Verenigde Nasies het 'n beroep op lande gedoen om aan die “onafgehandelde kwessie" van die 1994 Internasionale Konferensie oor Bevolking en Ontwikkeling aandag te gee. Met die “onafgehandelde kwessie" word daar erken dat gendergelykheid noodsaaklik is indien ons volhoubare ontwikkeling wil bereik.

Waarom is bevolkingsgroei en die gepaardgaande kwessies in die brandpunt vandag? Die omvang van die bevolkingsgroei was kolossaal. Dit het die wêreld honderde duisend jaar (en die moderne mense ongeveer 10 000 jaar) geneem om 'n wêreldbevolking van een miljard te bereik. Hierdie mylpaal is in 1800 bereik. In die daaropvolgende 220 jaar het die wêreldbevolking tot 'n geskatte 7,8 miljard aangegroei. Gekoppel aan hierdie groei was die massiewe veranderings in waar mense woon. Vir die grootste deel van die geskiedenis het mense hul hoofsaaklik in landelike gebiede gevestig.

In 2007 was die wêreldwye stedelike bevolking vir die eerste keer meer as dié in landelike gebiede. Die verskuiwing was aansienlik – in 1950 het daar ongeveer 'n driekwart miljoen mense in stedelike gebiede gewoon, maar teen 2018 het dié getal tot 4,2 miljard aangegroei. Suid‑Afrika het hierdie neiging nagevolg en meer as tweederdes van Suid‑Afrikaners woon tans in stedelike gebiede.

Die mens is midde in 'n wêreldwye COVID‑19‑pandemie, en in Suid-Afrika is ons in maand vier van 'n reeks streng inperkings. Honderde duisend mense het hul werk verloor, kinders is maande lank uit die skool gehou en sekere bedrywe het in geheel tot stilstand gekom. In hierdie konteks kan 'n mens tereg vra hoe belangrik Wêreldbevolkingsdag is en watter belang dit vir ons huidige situasie inhou?

Die rede lê hoofsaaklik in die klimaatskwessies wat die wêreld tans in die gesig staar, wat op hul beurt die gevolg van bevolkingsgroei en toenemende menslike indringing in dierehabitats is. Soos daar nou aanvaar word (buiten deur 'n marginale groep ontkenners van klimaatsverandering), het massiewe industrialisasie in die afgelope 200 jaar aansienlike omgewingsagteruitgang tot gevolg gehad.

Die omgewingskatastrofe waarmee ons te kampe het en deur Elizabeth Kolbert as 'n Sesde Uitwissing beskryf word (Kolbert, E. 2014. The Sixth Extinction: An Unnatural History. Henry Holt and Company), is 'n direkte oorsaak van menslike aktiwiteite wat massiewe toenames in kweekhuisgasse veroorsaak en temperatuurstygings, krimpende gletsers en gereelde uiterste weerverwante katastrofes tot gevolg het. Die gevolge van klimaatsverandering is ingrypend, maar sekerlik die belangrikste gevolg is die toenemende verskuiwing van mense. Soos ek hierbo aangedui het, is 'n aansienlike deel hiervan te wyte aan die verskuiwing van mense van die landelik na die stedelike sentra, alhoewel dit ook toenemend aan klimaatskommelings en weerverwante gebeure toegeskryf word. In Bangladesh word daar byvoorbeeld geraam dat een uit elke sewe mense teen 2050 deur klimaatsveranderings verskuif sal word.

“Klimaatsmigrante" is slegs een van die voorbeelde van hoe bevolkingsbeweging verdere druk op reeds kwesbare stede plaas, wat 'n toenemende indringing in voorheen afgeleë dierehabitats en “wilde gebiede" beteken. Die snel groeiende stede verwoes die natuurlewe tot op 'n punt waar ons ons biodiversiteit teen 'n tempo van 1 000 maal meer as in die voormenslike tyd verloor. Die totale massa wilde diere het meer as 80% verminder, terwyl die plantmassa met 50% verminder het.

'n Belangrike gevolg hiervan is dat die oorblywende wilde diere nou moet aanpas om op 'n veel nader afstand van mense te leef. Hierdie nuwe “intieme" konfigurasies, en die toenemende kontak tussen mense en wilde diere, het die uitbreking van aansteeklike soönotiese siektes grootliks verhoog. Soönotiese siektes is siektes wat deur patogene soos virusse, bakterieë en swamme veroorsaak word, en van diere na mense oorgedra word (Quammen, D. 2012. Spillover: Animal Infections and the Next Human Pandemic. W.W. Norton & Company). COVID‑19 is slegs die jongste voorbeeld hiervan, en hoewel ons nog nie die spesifieke dieresoort kon identifiseer wat die oorsprong van die COVID‑19‑virus was nie, is daar min twyfel dat dit deur 'n dier oorgedra is.

Een van die enigmas van klimaatsverval is dat dit wat aan die gebeur is, nie onmiddellik sigbaar is nie; om werklik te begryp wat gebeur, verg 'n langtermynsiening wat vir baie mense moeilik is. Daadwerklike optrede is nodig om die gevolge oor 20 jaar te versag. Ly liewer nou 'n ekonomiese verlies sodat jou kleinkinders in 'n beter ekonomiese posisie sal wees as wat hulle andersins sou wees.

'n Moontlike (voordelige) gevolg van die huidige pandemie is dat die werklikheid van ons menslike indringing, en die gevolglike siektes wat ons die risiko loop om te kry, al moeiliker gaan word om te ontken of weg te redeneer. Daarby begin ons nou die verskuiwings en veranderings op 'n toenemend persoonlike vlak waarneem. Daar is byvoorbeeld toenemende bewyse dat swanger vroue wat aan hoër temperature en groter besoedeling blootgestel word, meer waarskynlik vroeggebore, ondergewig of selfs doodgebore babas sal hê.

Namate die omgewing agteruitgaan, verlaat broodwinners (in arm lande dikwels die mans) al hoe meer die landbougebiede en migreer uit na waar die werk is. Dit lei tot 'n toename in die werklading van vroue en verminder hul toegang tot hulpbronne. In die nadraai van uiterste weerverwante gebeure en rampe is dit vroue wat in toenemende mate die lading van sorg vir hul gesinslede dra. Dit beperk ook hul vermoë om betaalde werk te bekom en daarby betrokke te bly.

Die COVID‑19‑pandemie het 'n vreesaanjaende kollig op die kwesbaarheid van die mens laat skyn en in die skerp lig is ons menslike arrogansie en ons bedrieglike gevoel van meerderwaardigheid en oorheersing van die natuurlike wêreld blootgelê. Die wêreld is deur 'n piepklein virus (0,000065mm in deursnee) lam gelê en ons tas blindelings rond oor die weg vorentoe. Hierdie predikament bied aan ons 'n geleentheid om “beter terug te ploeg" en om erkenning te gee aan ons afhanklikheid van mekaar en van die natuurlike wêreld. Indien ons nie hierdie les ter harte neem nie, sal toekomstige pandemies en klimaatsverval die COVID-19-pandemie na kinderspeletjies laat lyk.

*Prof Mark Tomlinson is die mededirekteur van die Instituut vir Lewensloopgesondheidsnavorsing in die Departement Globale Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch.