Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MobiLex: Veeltalige glossariumprojek
Outeur: Dr Michele van der Merwe
Gepubliseer: 30/06/2020

Die US Fakulteit Opvoedkunde ​se glossariumprojek is in 'n gratis toegang selfoontoepassing, genaamd MobiLex ontwikkel. Akademici in die fakulteit stel 'n glossarium saam as deel van die fakulteit se taalplan om veeltaligheid te bevorder. Die MobiLexprojek is 'n poging om die akademiese geletterdheid van voorgraadse studente te verbeter deur vakwoordeskat in 'n student se huistaal te verduidelik.  

Studente kan terme wat hulle moeilik vind om te verstaan, of wat vreemd is, in Afrikaans, Engels of isiXhosa naslaan. Die glossarium verskaf terme in drie tale, sowel as 'n kort, vakspesifieke definisie in die gebruiker se voorkeurtaal. Tans is daar terme in opvoedkundigverwante vakke soos geskiedenis, wiskunde, natuurwetenskap, geografie, ekonomiese en bestuurswetenskappe, opvoedkundige sielkunde, taalopvoeding en kurrikulumstudie.

Die selfoontoepassing is sopas opgegradeer, met nuwe funksies soos 'n navraagblad waar gebruikers navrae rakende terme kan rig, asook 'n terugvoerbladsy waar terugvoer aan die samestellers van die woordeboek verskaf kan word. Hierdie vernuwings verseker meer interaksie met gebruikers. Die toepassing is gratis bekombaar in die Apple Appstore, asook Google Play en kan afgelaai word om gratis te gebruik.

“Daar is 'n definitiewe verband tussen studente se woordeskat en akademiese skryfvaardighede," volgens projekbestuurder, dr. Michele van der Merwe van die Departement Kurrikulumstudie. “Die terugvoer wat ons ontvang, is dat MobiLex gebruikersvriendelik is en nuttige inligting bevat. Studente gebruik dit in die klas, terwyl hulle hersiening doen en ook wanneer hulle studeer. Huistaalsprekers van die opgenome tale dui aan dat hulle gereeld van MobiLex gebruik maak vir taalondersteuning."

MobiLex is nie net op studente as gebruikers gemik nie, maar ook op dosente om onderrig te integreer en te verryk. Die glossarium kan gebruik word vir beter begrip van vakterminologie en gevolglik van 'n vakgebied, om nuwe konsepte in 'n lesing bekend te stel, om 'n netwerk van betekenisse saam te stel, om die korrekte term vir 'n definisie te vind, asook vir die vertaling van terminologie. MobiLex het veral gedurende aanlynonderrig 'n belangrike funksie om te verrig.

Die projek word ondersteun deur befondsing van onder meer Finlo, die Departement van Kuns en Kultuur (HLT projekte) en die Universiteitskapasiteitsontwikkelingsfonds.