Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bou kapasiteit vir bewysgebaseerde gesondheidsorg en openbare gesondheid in Afrika suid van die Sahara
Outeur: Michelle Galloway
Gepubliseer: 26/06/2020

Die Samewerkingsnetwerk vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg in Openbare Gesondheid in Afrika (CEBHA+) beoog om in die langtermyn kapasiteit en infrastruktuur te bou vir bewysgebaseerde gesondheidsorg en openbare gesondheid in Afrika suid van die Sahara, wat primêre navorsing; bewys-sintese; en bewysgebaseerde beleid en praktyk insluit.

"CEBHA+ neem ʼn bevolkingsperspektief aan wat siektevoorkoming en versorging insluit. Die navorsing dra by tot die Wêreldgesondheidsorganisasie se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte, veral doelwit 3," het professor Taryn Young gesê. Young is die uitvoerende hoof van die Departement Globale Gesondheid en die direkteur van die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg (CEBHC) by die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

CEBHA+ is ʼn samewerkingsnetwerk wat instansies van Rwanda, Suid-Afrika, Uganda, Malawi, Ethiopië en Duitsland insluit, en ontvang befondsing van die Duitse Ministerie van Opvoeding en Navorsing vanaf 2017 tot 2022, as deel van die Navorsingsnetwerke vir Gesondheid-innovasie in Afrika suid van die Sahara Befondsing-inisiatief.

Die Afrika-vennote sluit in die Armauer Hanse Navorsingsinstituut in Ethiopië, Makerere Universiteit in Uganda, die Universiteite van Rwanda en Malawi. Die drie Suid-Afrikaanse CEBHA+-vennote wat saam daaraan werk om projek-aktiwiteite te implementeer is die Chroniese Siektes Inisiatief vir Afrika, Cochrane Suid-Afrika en die CEBHC. Die Duitse vennote is die Universiteit van Freiburg en die Ludwig-Maximilians Universiteit in München.

CEBHA+ sluit navorsing, netwerk- en kapasiteitsontwikkeling in. Die navorsing kyk ondermeer na bewysgebaseerde oplossings vir verbeterde sifting en modellering van gesondheidsorg lewering en bevolkingsvlak-bemiddeling vir hipertensie, diabetes en hartsiektes, asook voorkoming van verkeersongelukke.

Die projek bevorder nou interaksie tussen Afrika en Europese vennote en bring Afrika-inisiatiewe byeen wat soortgelyke doelwitte nastreef en ontwikkel plaaslike kapasiteit. Die CEBHC lei die implementasie van kapasiteitsontwikkeling met ʼn fokus op die bevordering van kapasiteit vir beide die onderneming en gebruik van navorsingsbewyse in openbare gesondheid. Geïntegreerde kennisvertaling is sentraal tot die projek.

"Vir die CEBHC stel die projek samewerking in staat wat nie slegs navorsing en kapasiteitsontwikkeling vir bewysgebaseerde openbare gesondheid bevorder nie, maar ook aktiewe skakeling met besluitnemers om te verseker dat ons navorsing ʼn impak maak op beleid en praktyk," het Young gesê.

Uitligging van kwessies

In Maart 2020 het CEBHA+ sy jaarlikse netwerkingsvergadering in Kaapstad gehou, gevolg deur ʼn nasionale navorsingsimposium oor nie-oordraagbare siektes (NOGs) wat gesamentlik aangebied is deur die Suid-Afrikaanse vennote en die Nasionale Departement van Gesondheid. Dit het navorsers, beleidmakers en praktisyns byeengebring om kennis te deel oor die voorkoming en behandeling van diabetes, hipertensie, die risikofaktore van hartsiekte, asook verwante geestesgesondheidskwessies; die identifisering van kennisgapings; en om gesprekke te voer oor die implikasies vir beleid en praktyk.

Die Minister van Gesondheid, dr Zweli Mkhize, het NOGs in Suid-Afrika as ʼn “komende tsoenami" beskryf. Hy het uitgewys dat daar ses NOGs in die top tien oorsake van sterftes is en dat "dit nie slegs ʼn gesondheidskwessie is nie, maar ook ʼn impak maak op alle vlakke van maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling. NOGs is ʼn groot uitdaging vir volhoubare ontwikkeling."

Mkhize het die simposium beskryf as ʼn "beduidende mylpaal in ons pogings om NOGs te voorkom en te beheer" en hy het die behoefte beklemtoom vir alle sektors en regeringsdepartemente om saam te werk.

Die simposium het drie parallelle sessies gehad – bevolking-intervensies om risikofaktore aan te spreek; risikofaktore, sifting en kennisvertaling; en NOG-bestuur.

"Hierdie projek plaas ons op die voorgrond om die uitdagings van die toenemende siektelas van NOGs aan te spreek," het Young gesê. "Dit benodig ʼn multidissiplinêre benadering, skakeling met besluitnemers, plaaslike relevante navorsing, en om van mekaar te leer en saam te werk om ʼn verskil te maak in die lewens van die Afrika-bevolking."

Die projek het ʼn nuusbrief opgelewer, werkswinkels gehou, meesters en PhD-vennootskappe aangebied, ʼn bewysgebaseerde openbare gesondheid sakboekie ontwikkel, asook sistematiese oorsig en primêre navorsingsartikels opgelewer.

Sien https://www.cebha-plus.org/

 

Onderskrif: CEBHC-direkteur prof Taryn Young, die Suid-Afrikaanse Minister van Gesondheid dr Zweli Mkhize en prof Jimmy Volmink, dekaan van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch.