Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderwysers onderrig met moed gedurende die COVID-19-pandemie
Outeur: Aslam Fataar
Gepubliseer: 24/06/2020

Deur middel van omgeepraktyke, pak onderwysers die uitdaging van onderrig gedurende die COVID-19-pandemie moedig aan, skryf prof Aslam Fataar van die Departement Opvoedingsbeleidstudie in ʼn meningsartikel vir Daily Maverick (22 Junie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Aslam Fataar*

Die “nuwe normaal" in skole gedurende die COVID-19-pandemie hou baie uitdagings vir onderwysers in. Hulle het hul bedenkinge oor die haas om skole te heropen in omstandighede waar sanitasie, diepskoonmaak en fisieke afstandskepping moeilik gewaarborg kan word. Hulle is veral senuweeagtig oor infeksiepieke onder onderwysers met immuungekompromitteerde gesondheidsprofiele. Hulle is egter ook angstig en gretig om die beste manier te vind om die kurrikulum vir hul leerders aan te bied.

In ons hoedanigheid as opvoedkundige akademici is ons betrokke by voortdurende prosesse om onderwysers en kurrikulumadviseurs te ondersteun om hul kurrikula en onderrig aan te pas ten einde die COVID-19-omstandighede aan te spreek. Ons interaksie met hulle het getoon dat baie onderwysers die tweede myl loop om hul onderrig in hierdie ingeperkte omstandighede aan te pas.

Onderwysers het gewaarsku oor 'n aanlyn-leerbenadering tot die kurrikulum. Hulle het gevoel dat hierdie benaderings leer in die middelklasskole, wat op die oog af hul sillabusse moeiteloos aanlyn verskuif het, bevoordeel.

Die probleme wat met aanlyn-leer verband hou, word in meer gemarginaliseerde skole vererger. Die onderwysers in hierdie skole waarmee ons werk, het aangedui dat hulle aandag moet gee aan groterwordende uitdagings in gesondheid, hongerte en psigososiale omstandighede onder die hul leerders. Dit is te verstane dat die onderwysers se omgeepraktyke 'n beduidende deel van hul professionele betrokkenheid gedurende hierdie pandemietyd geword het.

Hulle sukkel om op die lewering van die kurrikulum te fokus binne 'n konteks waar die regering daarop aandring dat die “skooljaar gered moet word". Nogtans wy hulle hul aandag daaraan om hul onderrig aan te pas.

Die werklikheid en beperkings van aanlyn-leer

Gedurende die staat van inperking het die lewering van die kurrikulum aanlyn – meer akkuraat aangedui as noodafstandsonderrig – die standaardmetode van onderrig geword. Regerings, onderwysbestuurders en IT-ondernemings het aanlynleer sterk aangemoedig.

Terwyl aanlyn-leer as 'n doeltreffende manier beskou word om die kurrikulum te dek, kan die benadering bevraagteken word. Onderwysers is geneig om hul aanlynonderrig op oordragtipe-onderrig te grond, wat tot oppervlakkige papegaaileer lei. Die inhoud van die kurrikulum word tot op die been gestroop, terwyl terugvoering en assessering uitdagend is. Ons gesprekke met verskillende groepe onderwysers in werkersklasskole deur middel van die Teams en Zoom-platforms wek kommer oor aanlynleer en die oproep tot selfgerigte leer.

Onderwysers sê hulle uitgeput omdat hulle sukkel om tred te hou met die behoefte aan deurlopende aanlyn-interaksie met hul leerders en ouers. Hulle bekommer hulle daaroor of die werk wat hul leerders tuis doen, voldoende en toepaslik is.

Die vernaamste klagte oor aanlyn-onderrig is die voortbestaan van ongelykheid in die onderwys, wat veral in Suid-Afrika toepaslik is weens die geweldige gaping tussen ryk en arm. Die onderwysers het my daaraan herinner dat slegs 15% van alle huishoudings oor voldoende rekenaartoestelle en die nodige internetverbinding vir toegang tot aanlyninhoud beskik. Terwyl die middelklasskole naarstigtelik besig was om hul leerders via aanlynplatforms te onderrig, dui ander onderwysers se weergawes daarop dat hul ervarings van aanlynonderrig baie ongelyk was.

Werkersklasskole probeer om onderrig via aanlynplatforms aante bied. Maar aanlyn-leer is uiters moeilik in hierdie skole weens die gebrek aan toestelle en internetverbinding. Dit het duidelik geword in ons werk met onderwysers in 'n laerskool. Ons het die skool gehelp om leerhulpbronne soos werkblaaie en leestekste as aanlyn-inhoud te verpak. Ons het saam met die onderwysers gewerk om hierdie bronne via WhatsApp te deel, wat die enigste tegnologie is wat maklik toeganklik vir ouers in die werkersklas is.

Hoewel die ouers die WhatsApp-boodskappe ontvang en gelees het, het die onderwysers gou agtergekom dat die ouers nie oor die nodige data beskik het om die hulpbronne af te laai nie. Die onderwysers moes toe terugval op die uitdruk van leermateriaal wat ouers dan by die skool moes gaan afhaal. In sommige gevalle kon die onderwysers aan die ouers verduidelik hoe om hierdie leermateriaal te gebruik om hul kinders te help leer.

Onderwysers het begin om 'n onderrigbenadering te ontwikkel wat op die interaktiewe gebruik van onderrig in die klaskamer, WhatsApp-boodskappe, WhatsApp-gesprekke, beperkte gebruik van aanlyn-platforms, leermateriaal wat op geheuestokkies gelaai word en die uitdruk van materiaal gegrond is.

Wat hieruit voortgevloei het, is 'n kombinasie van kontakleer, die gebruik van aanlyn-platforms en deelbare onderriginhoud wat onderwysers in werkersklasgemeenskappe in staat stel om doeltreffend met onderrig voort te gaan. Onderwysers is besig om te ontdek hoe om hierdie verskillende formate in die konteks van verminderde kontakleer en in situasies waar tuisleer noodsaaklik geword het, te gebruik.

Onderwysergerigte multimodale leer

Wat steeds die kern van hierdie onderwysers se werk bly gedurende die pandemie, is die besef dat die veelvoudige modes van onderrig en leer daar is om die onderwysers te help en om hul sentrale verhouding met leerders in stand te hou. Die onderwysers staan daarop dat kontak in die klaskamer steeds die hoeksteen van leer moet bly. Onderwysers en die sosiale leer wat in die klaskamer plaasvind, kan nie deur digitale konneksies vervang word nie.

Onderwysers was verbyster toe sommige departementele beamptes met die idee van “selfgereguleerde studenteleer" as die steunpilaar van leer in die huidige konteks vorendag gekom het. Hulle het geweier om 'n siening oor onderwys te aanvaar wat daarop sinspeel dat leerders individueel en persoonlik tuis en deur aanlyn-interaksies vir hul eie leer verantwoordelik sal wees.

Namate hulle meer ondervinding in die veelvuldige metode van onderrig en leer opgedoen het, het die onderwysers 'n rasionaal en 'n stel tegnieke ontwikkel wat op onderrig in die klaskamer by die skool gegrond is om met hul leerders oor kurrikulêre leer te kommunikeer.

Onderwysers beskou kontakonderrig as noodsaaklik om nuwe inhoud en konsepte aan te bied en te verduidelik, en om duidelike opdragte aan leerders te gee om hul tuisleer te rig. Dit bied en bou ook sosiale konneksies tussen leerders in hul interaksies met ander, waarop ook verder gebou kan word deur die gebruik van digitale metodes.

Onderwysers beskou as tuisleer as 'n geleentheid vir leerders om hul begrip van die inhoud van die kurrikulum te versterk en te verdiep. Onderwysers berei nie net verklarende notas voor om leerders tuis rigting met hul studies te gee nie, maar verskaf ook noukeurige opdragte en leertekste om leiding aan leerders te gee in hul omgang met die materiaal.

Met die verminderde kontakonderrig, kyk onderwysers ook na die maniere oor hoe leer tuis moet plaasvind. Een van die groot uitdagings is om te verseker dat leerders daaglikse roetines ontwikkel om hul skoolwerk te doen.

Ons gesprekke met die onderwysers het 'n benadering ontwikkel tot die bestuur van leerders se tyd op die dae wanneer hulle tuis leer, soos om te eksperimenteer met die verskaffing van vasgestelde tydgleuwe vir spesifieke vakke. Die leerders word aangemoedig om gedurende hierdie vasgestelde tye aan vakke te werk. Die onderwysers is dan op spesifieke tye vir konsultasie via WhatsApp-geselsgroepe beskikbaar vir die leerders. Dit lei tot baie produktiewe interaksies tussen die onderwyser en die klasgroep.

Onderwysers moedig leerders aan om die dissipline en verbondenheid te ontwikkel wat nodig is vir doeltreffende tuisleer. Hulle verskaf wenke oor leer en selfstudie en maniere waarop hulle hul huislike omstandighede kan bestuur om hul selfstudie te vergemaklik. Hulle oorreed hul leerders om vir hulself leerdoelwitte te stel, wat 'n deurslaggewende taktiek is om op koers te bly. Assessering van inhoudverkryging gedurende tuisleer vind in die klaskamer onder die wakende oog van die onderwyser plaas. Sommige onderwysers het aangedui dat hul huidige interaksie met hul leerders selfs meer is as te vore, wat 'n positiewe uitkoms is, terwyl ander bekommerd is oor die groot aantal leerders wat nie wil of kan deelneem nie.

Die onderwysers stuur WhatsApp-boodskappe van hul leerders oor inhoud en verskaf antwoorde, verduidelikings en leiding om deur die leermateriaal te werk. Hulle het aangedui dat hulle vinnige terugvoer van hul leerders kry oor hoe hulle met hul leer vorder, wat weer die onderwysers in staat stel om die klaskameronderrigtyd te gebruik om leergapings en foutiewe begrip aan te spreek alvorens hulle nuwe inhoud bekendstel.

Onderwysers het ook hul leerders aangemoedig om WhatsApp-geselsgroepe te stig om mekaar te ondersteun deur kommunikasie en steun.

In die geheel gesien, het 'n pedagogiek van sorg 'n belangrike plek ingeneem by die onderwysers saam met wie ons werk. Onderwysers pak die uitdaging van onderrig gedurende hierdie pandemietoestand moedig aan. Hulle is besig om veelvuldige onderrigmetodes te ontwikkel in hierdie nuwe omstandighede waar die vrees dat hulle met die virus besmet kan word, hulle gedwing het om hul onderrigmetodes in omstandighede wat dikwels uiters moeilik is, aan te pas.

Dit is moeilike tye. Dit bly hul belangrikste doelwit om hulleself en hul leerders veilig te hou. Hul onderwysaanpassings word gemotiveer deur die behoefte om dít wat 'n aansienlike verlies aan leer vir hul reeds benadeelde leerders sou beteken indien leer vir lang periodes gestaak sou word, aan te spreek. Baie onderwysers was absolute ware helde in hierdie pandemietyd.

* Aslam Fataar is 'n professor in die departement Opvoedingsbeleidstudie aan die Universiteit Stellenbosch.