Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meer data nodig oor COVID-19-infeksies onder gesondheidsorgwerkers
Outeur: Angela Dramowski
Gepubliseer: 24/06/2020

​Daar is ʼn behoefte aan meer data oor COVID-19-infeksies onder gesondheidsorgwerkers om die pandemie se uitwerking op hulle te bepaal, skryf prof Angela Dramowski (Pediatrie en Kindergesondheid) en haar kollegas in ʼn meningsartikel vir Health24 (22 Junie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Angela Dramowski*

Op 3 Junie het die Internasionale Verpleegkundige Raad (ICN) 'n ernstige beroep op regerings gedoen om data oor COVID-19-infeksies en sterftes onder gesondheidsorgwerkers (GSW's) saam te stel. Tot op hede is daar nog geen internasionale register begin om die pandemie se uitwerking op GSW's na te speur nie, hoewel 'n geskatte 23 000 werkers reeds aangesteek en 600 verpleegkundiges reeds weens COVID-19 gesterf het. Ontledings deur die ICN dui daarop dat 7% van alle COVID-gevalle wêreldwyd onder GSW's voorkom. Opmerklike uitsonderings is sommige hoë-inkomste-lande (die VSA, Spanje en Ierland) waar GSW's 15– 30% van alle infeksies uitmaak.

Daar is 'n duidelik behoefte om gestandaardiseerde epidemiologiese data oor GSW-infeksies te versamel om risikofaktore vir COVID-19-infeksies en -sterftes te bepaal, aangesien baie min studies sover hieroor verskyn het. 'n Enkele hospitaalstudie van 9 000 GSW's in Wuhan het 'n infeksiekoers van 1% onder personeel aangedui met hoofsaaklik vroulike verpleegkundiges jonger as 45 jaar wat ligte simptome getoon het. Die risiko van infeksie was die hoogste in lae-risiko gebiede in die hospitaal, wat op 'n gebrek aan bewustheid onder hierdie GSW's dui. Die infeksiekoers onder personeel het skerp afgeneem namate die uitbreking gevorder het, moontlik danksy verbeterde GSW-opleiding, voorbereidheid en nakoming van infeksievoorkomingsmaatreëls. 'n Studie by twee Nederlandse hospitale vroeg in die pandemie, het getoon dat minder as 1% van 9 705 GSW's besmet is. Die personeel het in 52 verskillende afdelings gewerk, wat daarop dui dat hulle eerder in die gemeenskap besmet is as wat dit deel van 'n uitbreking in die hospitaal was.

Suid-Afrikaanse GSW's is nie gespaar nie, met 511 GSW-infeksies wat 7% van die totale aantal gevalle in die land teen 6 Mei 2020 uitgemaak het. Namate die uitbreking spoed optel, sal ons GSW's al hoe meer blootgestel wees aan COVID-19 in die werkplek, op openbare vervoer en in gemeenskappe. Baie sal siek word, hoewel 'n groot gedeelte asimptomaties sal bly, en die risiko sal loop om onwetend die virus na ander oor te dra (die koers van asimptomatiese siekte strek van 10–80%). In ooreenstemming met die land se bevolking, loop baie GSW's die risiko om ernstig siek te word van COVID-19 weens onderliggende toestande soos hipertensie, diabetes, HIV of vetsug.

Namate COVID-19-infeksies toeneem, sal die afwesigheid van GSW's weens siekte en sterfte die bestaande personeeltekorte vererger. Selfs onder GSW's wat gesond bly, sal COVID-19 bydra tot chroniese moegheid, sielkundige angs en moontlike uitbranding. Hierdie negatiewe direkte en indirekte uitwerkings van COVID-19 word reeds in baie Kaapse hospitale ondervind, met personeel wat vir hul eie en hul pasiënte, kollegas en gesinslede se veiligheid vrees. Die aantal GSW-infeksies en sterftes het saam met die stygende infeksiekoerse in die gemeenskap toegeneem, wat vakbonde genoop het om 'n ondersoek na GSW's se veiligheid in openbare hospitale te eis.

By die grootste fasiliteit in die Kaapse Metropool (Tygerberg-hospitaal) is nagenoeg 6% van die personeel tussen 1 April en 31 Mei met COVID-19 gediagnoseer (296/4 672 personeellede). Dit is nie moontlik om vas te stel of hierdie infeksies beslis in gemeenskap, op openbare vervoer of in die werkplek opgedoen is nie. Soortgelyk aan die Nederlandse COVID-19-studie oor infeksies onder GSW's, het GSW-infeksie by die Tygerberg-hospitaal in 50 verskillende gebiede en sale in die hospitaal voorgekom, wat daarop dui 'n aansienlike gedeelte in die gemeenskap opgedoen kon gewees het, eerder as in gesondheidsorg-verband. Driekwart van die personeel wat met COVID-19 gediagnoseer is, werk inderdaad in nie-kliniese gebiede en lae-risiko sale vir COVID-19 (waar daar baie min of feitlik geen aanraking met pasiënte met COVID-19 sou wees nie). Dit versterk die moontlikheid dat hierdie infeksies nie deur kliniese kontak of kontak met pasiënte opgedoen is nie.

Dit is onduidelik hoekom die Wes-Kaapse en Suid-Afrikaanse GSW-infeksiekoers van COVID-19 baie hoër is as wat in die hospitale in Wuhan en Nederland aangemeld is. Plaaslike GSW-infeksiekoerse stem egter ooreen met wêreldwye skattings soos deur die ICN voorgestel is en kan op hoë blootstelling aan COVID-19 in die gemeenskap dui, asook 'n behoefte aan die verderde versterking van infeksievoorkomingpraktyke in gemeenskappe en gesondheidsorgomgewings.

Gegewe Suid-Afrika se vertraagde blootstelling aan COVID-19 en die verplatting van die uitbrekingskromme wat deur die staat van nasionale inperking bereik is, het ons gesondheidsorgfasiliteite gelukkig meer tyd as baie ander lande gehad om voor te berei. By die Tygerberg-hospitaal is 'n gekoördineerde infeksievoorkomings- en beroepsgesondheidsplan voorgeskryf om die risiko van COVID-19-infeksieoordrag na personeel en pasiënte te verminder. Veelvuldige maatreëls is in werking gestel om die veiligheid van personeel en pasiënte te ondersteun. Dit het die volgende ingesluit: 

  • 'n COVID-19-risikobepaling per afdeling met die identifikasie van hoë-risiko personeel wat mediese beskerming benodig het deur in lae-risiko areas herontplooi te word;
  • COVID-19-voorkomingsopleiding vir alle kategorieë personeel asook COVID-19 opvoedkundige en ondersteuningsboodskappe vir personeel;
  • Daaglikse COVID-19-simptomesifting van alle personeel, pasiënte en pediatriese binnepasiënte se versorgers en besoekerbeperkings;
  • 'n eenvormige maskerbeleid vir personeel en pasiënte en voorsiening van handreiniger by alle ingange en kliniese gebiede;
  • Verbeterde skoonmaak en ontsmetting van oppervlaktes en toerusting, en evaluasie van simptomatiese personeel met prioriteitstoetsing vir SARS-CoV-2;
  • 'n Veilige aanvoerketting vir persoonlike beskermende toerusting (PPE), insluitende versigtige gebruik en ter plaatse ultraviolet-ontsmetting van N95-respirators;
  • Bou van storte vir personeel om na afloop van skofte te gebruik en die installering van suigwaaiers en lughanteringseenhede in waakeenhede.

Ondanks al hierdie aktiewe maatreëls om die veiligheid van personeel en pasiënte gedurende die COVID-19-pandemie te verbeter, is daar steeds talle uitdagings by die Tygerberg-hospitaal en ander gesondheidsorgfasiliteite in ons land. Dit sluit in verouderde hospitaalstrukture met minimale voorsiening vir afsondering van pasiënte, onvoldoende spasie tussen beddens, 'n gebruik aan toegewysde ruimtes vir die aantrek en uittrek van PPE en lae personeel tot pasiënt-ratio's, veral vir verpleegkundiges en skoonmakers. Ondanks die talle uitdagings en die spanningsvolle werksomstandighede, toon Suid-Afrika se GSW's deurlopend hul optimisme, vasberadenheid en bereidheid om aan te pas en struikelblokke te oorkom. Dit is hierdie veerkragtigheid wat GSW's, insluitende dié by die Tygerberg-hospitaal, geloof gee om te hoop vir die beste, terwyl hulle terselfdertyd vir die ergste wat COVID-19 mag bring, voorberei.

*Angela Dramowski is 'n professor in die department Pediatrie en Kindergesondheid aan die Universiteit Stellenbosch. Lede van die Infeksievoorkomings- en Beheer, Aansteeklike Siektes- en Beroepsgesondheidspanne by die Tygerberg-hospitaal en die US het bydraes gelewer. ​​