Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA-regering nie ernstig oor beskerming van vlugtelinge nie
Outeur: Callixte Kavuro
Gepubliseer: 23/06/2020

​Ondanks die Wet op Vlugtelinge en die edele oogmerke daarvan, is Suid-Afrika polities nie bereid om aan asielsoekers en vlugtelinge die beskerming wat hulle so dringend nodig het, te verskaf nie, skryf dr Callixte Kavuro van die Departement Publiekreg in ʼn meningsartikel vir Weekend Argus (20 Junie).

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

SA-regering nie ernstig oor beskerming van vlugtelinge nie

Callixte Kavuro*

Saterdag, 20 Junie, het mense wêreldwyd Wêreldvlugtelingdag herdenk. Op hierdie spesiale dag gee staatsamptenare, burgerlike organisasies en akademici erkenning aan vlugtelinge se benarde posisie en hul situasie en veerkragtigheid in gasheergemeenskappe. Vir Suid-Afrika is dit 'n geleentheid om na te dink oor die land se onderneming van die afgelope 20 jaar om vlugtelinge te beskerm.

Dit is uiters belangrik om daarop te wys dat vlugtelinge nie in die land toegelaat is voor 1994 nie. Diegene wat daarin geslaag het om die land binne te kom, moes hier bly as onwettige immigrante en moes deur die uitbuiting van arbeid oorleef. Omdat daar geen vlugtelingbeskermingstelsel in plek was nie, kon vlugtelinge nie op regeringsondersteuning of wetlike beskerming staatmaak nie. Wetlik en polities is hulle as “ongewenste persone" beskou wat opgespoor, gevange geneem en gedeporteer moes word.

Toe Suid-Afrika in 1994 'n demokrasie word, het die land sy grense vir asielsoekers oopgestel. Voortgedryf deur die beginsels afkomstig uit die filosofieë van ubuntu en menswaardighede, het Suid-Afrika die 1969 Konvensie vir die Regulering van die Spesifieke Aspekte van Vlugtelingprobleme in Afrika (die 1969 Afrika-vlugtelingkonvensie) en die Konvensie rakende die Status van Vlugteling van 1951 (en die 1967-protokol daarvan) in 1995 en 1996 onderskeidelik aanvaar. Hierdie aanvaarding is bekragtig deur die aanvaarding van die Wet op Vlugtelinge van 1998, wat in 2000 in werking getree het.

Anders as ander Afrika-lande waar vlugtelinge in vlugtelingkampe woon, pas Suid-Afrika die benadering van gemeenskapsintegrasie toe. Hierdie benadering beteken individue wat uit hul geboorteland vlug om asiel in Suid-Afrika te soek, moet gehelp word in die gemeenskap geïntegreer te word. Humanitêre hulp staan sentraal tot gemeenskapsintegrasie bloot omdat asielsoekers nie genoeg voedsel saam met hulle bring op die moeilike reis na ballingskap of vir hul aanvanklike integrasie in die land van asiel nie. Op hul reis op pad na hul bestemming – dikwels oor moeilike terrein of op die oop see, word hulle deur geweld, dehidrasie, wanvoeding, honger, uitputting en toenemende kwesbaarheid en swak gesondheid geteister.

Ondanks hierdie humanitêre bekommernisse, het Suid-Afrika 'n vlugtelingbeleid van selfintegrasie aanvaar wat nie vir humanitêre reaksies voorsiening maak nie. Asielsoekers moet dus hulself in gemeenskappe integreer. Hulle moet hulself ondersteun totdat hul aansoeke aanvaar is en hulle amptelik as “ware" vlugtelinge aanvaar word. Gedurende hierdie tyd moet hulle vir hul eie verblyf en voedsel sorg en hul kinders skool toe stuur. Ten einde aan hul behoeftes te voorsien, moet hulle werk.

Hoewel hulle vir hulself moet sorg, verhoed vlugtelingwetgewing asielsoekers om te werk, om klein sakeondernemings te bedryf of toegang tot kritieke dienste wat lewens kan red. Die uitsluiting by maatskaplike welsyn en ekonomiese aktiwiteite het die Appèlhof se bevel in die 2004-saak, Minister van Binnelandse Sake teen Watchenuka, gelei dat die staat asielsoekers moet toelaat om te werk en te studeer. Terwyl die reg om te studeer as n manier gesien is om beroepsvaardighede te verkry, is die reg om te werk as asielsoekers se enigste instrument beskou om in hul basiese behoeftes te voorsien.

Die regering was nie gelukkig met die Watchenuka-besluit nie. In 2017 is die Wet of Vlugtelinge hersien om aan te dui dat die reg om te werk en te studeer in baie beperkte omstandighede beskikbaar is. Die 2017-aanpassings (word nog nie toegepas nie) wil asielsoekers uit gemeenskappe verwyder en hulle tot die Asielsoekerverwerkingsentrums beperk waar die Verenigde Nasies se Hoë Kommissaris vir Vlugtelinge na hul behoeftes sal omsien. Dit laat die regering nog onwilliger lyk om asielsoekers te beskerm.

Hierdie onwilligheid het sigbaar geword in die sluiting van die Vlugtelingontvangskantore (VOK's) in Kaapstad en Port Elizabeth. Asielsoekers in hierdie stede moes elke drie maande – saam met hul afhanklikes – na VOK's in Gauteng, Limpopo en KwaZulu-Natal reis om hul permitte te laat regulariseer. Asielsoekers in nood wat nie na hierdie provinsies kon reis nie, het oornag onwettige buitelanders geword. Dit het tot 'n botsing met wetstoepassers en 'n verlies aan werk gelei aangesien hulle nie meer wetting in die land was nie. Sonder werk het hul lewens onuithoudbaar geword. Wonder geldige permitte is hulle onder meer aan inhegtenisneming, aanhouding en deportasie blootgestel.

Die nie-beskerming van asielsoekers word deur die regering geregverdig op grond daarvan dat hulle ongewone immigrante is wat nie vlugtelingbeskerming verdien nie. Hulle word daarvan beskuldig dat hulle die asielbestuurstelsel misbruik om hul verblyf te regulariseer en dan met landsburgers vir toegang tot beskikbare nasionale hulpmiddele meeding, wat 'n risiko vir die land inhou.

Die 2017 Witskrif oor Internasionale Migrasie versterk hierdie betoë deur met kommer daarop te duidat Suid-Afrika se grootste ekonomie in die SAOG-streek en in Afrika is deurdat dit baie ekonomiese vlugtelinge lok wat die asielbestuurstelsel as 'n intreepunt gebruik. Die hoë eise wat dit aan die vlugtelingbeskerming stel, stel die staat se vermoë om doeltreffende beskermingsdienste te verskaf aan “ware" vlugtelinge en asielsoekers wat die grootste behoefte aan beskerming het, in gevaar.

Die voormalige adjunkminister van Binnelandse Sake, me Fatuma Chohan, het in haar toespraak ter viering van Wêreldvlugtelingdag in 2011 erken dat die instroming van ekonomiese vlugtelinge na Suid-Afrika formeel-erkende vlugtelinge tot nadeel strek, aangesien hulpbronne weggelei word van die volle regsbeskermingsdienste vir vlugtelinge waarna die Wet op Vlugtelinge strewe.

Die regering se wanopvattings oor asielsoekers het 'n negatiewe uitwerking op hul beskerming en hul aansoeke. Die afgelope tien jaar is 90% van die aansoeke verwerp, wat asielsoekers gedwing het om in die land aan te bly as individue wat wag vir besluite oor hul appèl. Dit skep angs en onsekerhede oor hul toekoms in die land. Hierdie situasie waar alles hangende is, word verder vererger deur die regering se huiwering om hul permitte te hernieu. Dokumentasie word n integrale deel van die frustrasie en onsekerhede wat beide asielsoekers en “ware" vlugtelinge moet trotseer. Dit is 'n werklikheid ondanks die feit dat die Wet of Vlugtelinge lof ontvang het dat dit progressief is.

Dit is duidelik dat die regering die afgelope 20 jaar teenstrydige en botsende ingesteldhede teenoor die beskerming van ware vlugtelinge getoon het, in teenstelling met “kamma" asielsoekers en ekonomiese vlugtelinge. Hierdie teenstrydige ingesteldhede kan gesien word in die aanvaarding van sosio-ekonomiese maatreëls wat geneig is om sosio-ekonomiese regte en voordele aan voorheen- of histories-benadeelde mense te verskaf.

Vlugtelinge word uitgesluit by sosio-ekonomiese maatreëls wat ingestel word om diepliggende of geërfde ongelykheide aan te spreek en uit te wis. Hulle het geen toegang tot gesubsidieerde sosio-ekonomiese ontwikkelingsprogramme soos behuising en finansiële hulpskemas vir studente nie. Hulle val nie binne die bestek van regstellende aksie ten opsigte van indiensneming nie. Swart ekonomiese bemagtiging en nasionale gesondheidversekering is buite hul bereik.

Gedurende die staat van inperking, is die teenstrydige ingesteldhede duidelik in vlugtelinge en asielsoekers se uitsluiting van die COVID-19-ekonomiese hulpmaatreëls wat ontwerp is om op 'n ekonomiese en humanitêre krisis te reageer. Terwyl hulle sukkel om toegang tot noodsaaklike basiese dienste te kry, het vlugtelinge en asielsoekers die strate van Kaapstad en Pretoria ingeneem om te eis dat hulle in 'n derde land hervestig word.

In die lig hiervan is dit regverdig om te sê dat ondanks die Wet op Vlugtelinge en die edele oogmerke daarvan, Suid-Afrika nie polities bereid is om aan asielsoekers en vlugtelinge die beskerming wat hulle so dringend nodig het, te verskaf nie.

*Dr Callixte Kavuro is 'n postdoktorale navorser in die departement Publieke Reg aan die Universiteit Stellenbosch