Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Matie-studente help gedurende COVID-19-pandemie
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 22/06/2020

Toe Suid-Afrika se president Cyril Ramaphosa 'n beroep op landsburgers gedoen het om 'n verskil te maak gedurende die COVID-19-pandemie, het drie studente van die Universiteit Stellenbosch (US) hul moue opgerol en ingespring om te help.

Stefan Stofberg en die twee broers, Daneel en Stephan Steinmann, het die “All in Africa"-beweging begin om 'n verskil in die lewens van minderbevoorregtes te maak, terwyl hulle ook aan sportgeesdriftiges 'n eiesoortige geleentheid bied om unieke memorabilia van Suid-Afrikaanse sportsterre te wen.

“Ons het die 'All in Challenge' in Amerika gesien en dit het ons aan die dink gesit om die idee eie aan Suid-Afrika te maak en geld vir ons eie land in te samel. Weens die staat van inperking wat in lande wêreldwyd ingestel is, het ons besef daar lê baie potensiaal opgesluit in die skep van waarde aanlyn deur sosialemediaplatforms. Ons het dus besluit om hierdie geleentheid te gebruik om die aanlyn-potensiaal te hefboomfinansier om 'n verskil te maak deur die 'All in Africa'-uitdaging te begin," sê Daneel.

As 'n niewinsgewende organisasie bied die “All in Africa"-beweging aan plaaslike glanspersoonlikhede, openbare bekendes en sportsterre die geleentheid om memorabilia of ander artikels van hul keuse, en in sommige gevalle selfs 'n persoonlike ervaring met hulle, te skenk wat 'n lid van die publiek dan kan wen deur 'n skenking te maak.

'n Donasie van R100 bied aan die persoon wat die skenking maak, een kans om die spesifieke artikel of ervaring te wen. Hoe meer mense skenk, hoe meer inskrywings ontvang hulle en hoe meer mense kan baat by die geld wat ingesamel word. Die geld word aangewend om voedselpakkies aan verskeie gemeenskappe te verskaf.

Sover het die beweging R93 000 ingesamel met die hulp van bekendes en sportsterre soos AB de Villiers, Dale Steyn, Siya Kolisi, Handré Pollard, Pieter Steph du Toit, Willie le Roux en Bobby en Karlien van Jaarsveld.

“Hierdie pandemie het my die ware betekenis van die spreekwoord, 'waar daar 'n wil is, is daar 'n weg' geleer. As jy iets regtig uit die diepte van jou hart wil bereik, kan jy, maak nie saak wat jou omstandighede is nie. Dit het my geleer om tot aksie oor te gaan en self die verandering wat ek in die wêreld wil sien, te wees," sê Stephan.

Die beweging het vennootskappe met liefdadigheidsorganisasies soos die Hillsong Africa-stigting, die Kolisi-stigting, die Hanna Liefdadigheid- en Bemagtigingsstigting en die Hey! Help! A Light in the World-stigting gesluit om die geld wat ingesamel word, te gebruik vir die verspreiding van voedselpakkies in die gemeenskappe wat hulle bedien.

Hoewel hy sy akademiese verantwoordelikheide aan die US moes balanseer, sê Stephan die pandemie het hom ook tyd gegee om na te dink oor hoe onbelangrik sommige van sy persoonlike uitdagings is in vergelyking met die armoede, hongersnood en daaglikse oorlewingstryd wat ander mense in die gesig staar.

“Die COVID-19 pandemie het my tyd gegee om na te dink oor my eie situasie en het my laat besef hoe bevoorreg ek is. Hierdie gewaarwording het my verder aangemoedig om in hierdie tyd na meer te strewe en nie net op my eie akademiese verantwoordelikhede te fokus nie, maar ook om mense wat in hierdie krisis in nood verkeer, te help."

Om “All in for Africa" te wees, kan jy die webwerf, www.allinafrica.co.za besoek om 'n donasie te maak en die geleentheid te kry om die artikel of ondervinding van jou keuse te wen. Sakelui wat ook 'n skenking aan die beweging wil maak, kan met hulle in verbinding tree deur 'n e-pos te stuur aan info@allinafrica.co.za