Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tomorrow Trust mik hoog in befondsing van studente
Outeur: Asiphe Nombewu /Corporate Communication
Gepubliseer: 22/06/2020

​In 'n poging om ongelykhede in hoër onderwys uit te wis en die speelveld gelyk te maak by die Universiteit Stellenbosch (US), het die Tomorrow Trust meer as R1 miljoen vir studentebefondsing bewillig.

Die trust het volle beurse aan 11 kwalifiserende voor- en nagraadse studente aan die US vir die 2020-akademiese jaar toegeken.

Stacey Rontiris, hoof: Studenteprogramme en 'n beradingssielkundige by die Tomorrow Trust, sê die niewinsgewende organisasie strewe daarna om deur sy programme gelyke geleenthede aan wees- en kwesbare kinders en jeugdiges te bied deur akademiese, loopbaan- en psigososiale ondersteuning te bied.

Rontiris sê die trust het in die verlede een of twee US-studente ondersteun, maar 'n formele ooreenkoms wat in 2018 gesluit is, het die aantal US-studente wat deur die trust se tersiêre programme ondersteun word, vermeerder. “Ons beurse vanjaar beloop meer as R1 miljoen, wat 'n groot sprong is van waar ons in 2018 met ses studente begin het. Verlede jaar het ons ons nege studente gehelp en vanjaar 11. Ons hoop om dit volgende jaar tot 15 studente op te stoot, afhangende van befondsing," voeg sy by.

Sy sê die studente in die tersiêre program het die geleentheid om in beide hul akademiese en persoonlike selfontwikkeling en groei te belê. “Ons doel is om onafhanklike jong volwassenes wat bewus is van dinge rondom hulle, te kweek wat die werkplek as selfstandige individue sal betree wat gereed is om suksesvolle lewens te lei."

Rontiris sê die trust en die US deel 'n soortgelyke passie om 'n verskil in studente se lewens te maak, terwyl hulle ook die behoefte aan en belangrikheid van holistiese akademiese ondersteuning verstaan. Dit het samewerking met die US moeiteloos gemaak. “Ons sien uit daarna om ons vennootskap verder uit te bou en om in die jare wat voorlê, nog meer US-studente te help.

“Om vir ondersteuning deur die Tomorrow Trust oorweeg te word, moet studente die aansoekvorm saam met die lys vereistes van ons webwerf aflaai. Aansoeke sluit 31 Oktober, waarna ons in Januarie/Februarie onderhoude voer, alvorens die finale keuse in Maart gemaak word," sê sy.

Die Adjunkdirekteur by die US se Nagraadse Kantoor en hoof van Nagraadse Befondsing, Nugent Lewis, sê hulle is baie bemoedig deur die ruimhartige ondersteuning wat die Tomorrow Trust aan hul studente verskaf en waardeer dit opreg.

“Die huidige realiteite wat studentebefondsing in die gesig staar, maak dit noodsaaklik dat alle pogings deur die regering, private sektor, niewinsgewende organisasies en die hele hoëronderwyssektor van voor af bekyk moet word. Die finansiële ondersteuning wat die Tomorrow Trust aan ons studente bied, sal 'n betekenisvolle en blywende invloed hê," voeg hy by.

Vir meer inligting oor die Tomorrow Trust, klik hier.