Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US Toekennings vir Uitnemende Onderrig 2020
Outeur: CTL/SOL
Gepubliseer: 09/07/2020

Aansoeke word tans ingewag vir die Universiteit Stellenbosch Toekennings vir Uitnemende Onderrig 2020. 

Die toekennings erken onderrig van uitstaande meriete by die Universiteit Stellenbosch. Alle personeellede wat onderrig gee – sowel permanente as kontrakaanstellings – kom vir hierdie toekennings in aanmerking.

Die toekennings word in twee kategorieë aangebied, naamlik Ontluikende Dosent en Uitgelese Dosent. Die toekenning vir Ontluikende Dosent is bedoel vir akademici wat in hulle onderrig as “vakkundige opvoeders" optree:

Nadenkende praktisyns besin doelbewus en krities oor hulle onderrigpraktyk, en hersien en dokumenteer hulle professionele groei stelselmatig. Vakkundige opvoeders put boonop uit opvoedkundige literatuur om oor hulle onderrigpraktyk en professionele groei na te dink, en beweeg ook verder as persoonlike besinning na waarneming en portuurbeoordeling van hulle onderrig.

(Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5)

Die toekenning vir Uitgelese Dosent is bedoel vir akademici wat in hulle onderrig as “onderwysvakkundiges" of “toonaangewende onderwysvakkundiges" optree:

Onderwysvakkundiges vors hulle onderrigpraktyk na en dokumenteer hulle professionele groei met die oog daarop om hulle bevindinge in die openbaar te publiseer en tot bestaande onderrig- en leerkennis by te dra. Toonaangewende onderwysvakkundiges dra deur publikasie tot bestaande onderrig- en leerkennis by en bied institusionele, nasionale en internasionale leierskap op die gebied van onderrigpraktyk. 

(Onderrig- en Leerbeleid, 2018:5)

Die toekenning vir Ontluikende Dosent kan slegs eenmalig ontvang word en die toekenning vir Uitgelese Dosent een keer elke vyf jaar.

Ooreenkomstig die Onderrig- en Leerbeleid (2018:5) word die onderrigportefeulje as hoofinstrument gebruik om uitnemende onderrig te beoordeel. Gedurende die institusionele keuringsvergadering word ʼn onderhoud van 10 minute met elke kandidaat gevoer en kandidate in die kategorie Uitgelese Dosent doen dan ook ʼn aanbieding van 10 minute.

Portefeuljes kan in pdf-formaat of 'n elektroniese formaat van die aansoeker se keuse ingedien word. Adviseurs van die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) bied bystand met portefeulje-ontwikkeling in fakulteite.

Benoemdes word aanvanklik deur middel van ʼn interne fakulteitsproses gekies. Suksesvolle aansoeke word daarna by die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL), by kcattell@sun.ac.za, ingedien. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 30 September 2020. Ná beoordeling deur ʼn institusionele keuringskomitee sal die suksesvolle kandidate in die vierde kwartaal van hul toekennings in kennis gestel word. Hulle sal hul toekennings by ʼn plegtigheid aan die einde van daardie kwartaal ontvang. 

Vir navrae, kom gerus in aanraking met dr. Karin Cattell-Holden by kcattell@sun.ac.za