Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dit vat 'n dorpie om ʼn kind groot te maak.
Outeur: Dr Janina Theron
Gepubliseer: 18/06/2020

​Dit neem ʼn dorpie om ʼn kind groot te maak. Deur sy lewe het Elvin Hendricks stuk-stuk sy eie dorpie met inwoners gevul. Dit is deels aan hierdie groep mense wat hy sy sukses toeskryf. Eerstens, is Elvin ʼn oumaskind. Hy het met sy broers, niggies en neefs in sy ouma se huis grootgeword. Toe hiérdie pilaar egter in die begin van sy hoërskoolloopbaan oorlede is, het dinge in die huis ʼn ernstige wending geneem. Hy is van Stellenbosch na Gugulethu en in Graad 9 sluit hy by Hoërskool Heideveld aan. Nadat dinge by sy suster in Gugulethu nie uitgewerk het nie, moes Elvin terugtrek Cloetesville toe waar hy daagliks dou voor dag die trein skool toe moes haal. Hierdie nuwe roetine tesame met ongewenste huisomstandighede het die tol begin eis.

Een van sy klasonderwysers, Juffrou Witbooi, het opgelet dat iets hom terughou, en die potensiaal in Elvin raakgesien. Die skool het begin help met ondersteuning en sakgeld. Die Witbooi-gesin het hom aanvaar as een van hul eie en hy het naweke daar gaan bly en Sondae saam ʼn familiemaaltyd geniet. Dit was nie die enigste gesin wat hulle deur vir hom oopgemaak het nie. In graad 12 het Elvin by ʼn klasvriendin se gesin gaan bly. Hier het hy vir Tannie Wilhelmina, die matriarg van die gesin, gaan help waar sy werk, die Stellenbosch United Church.

By hierdie kerk is hy toe voorgestel aan Pastoor David, wat hom ook oor Elvin ontferm het. Ná weeklikse geselsies oor sy toekoms, het Pastoor David en die kerk ingespring om Elvin sy eerste stoot in die rigting van die Universiteit te gee; Elvin het met Prof Charl Cilliers, tóe die direkteur van die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling ontmoet. By die SSVO het hy lank sielkundige ondersteuning ontvang en toe sy aansoek tot Stellenbosch nie aanvaar is nie, het Prof Cilliers SciMathUS voorgestel.

Gedurende sy SciMathUSjaar in 2012 het hy net soveel ondersteuning ontvang van die personeel en sy fasiliteerders. Dit was die klein goedjies, die mense wat belangstel in hoe dit gaan; hiérdie klein dinge was ʼn dryfveer vir Elvin. Tydens sy studieloopbaan by die Fakulteit Opvoedkunde, het die Stellenbosch United Church Education Fund vir hom finansiële ondersteuning gebied bó en behalwe sy Funza Lushaka beurs. Saam met hierdie ondersteuning, het die kerk vir Elvin ʼn mentor, Ulrike Reuter, aangewys. Hulle het tweeweekliks ontmoet en Elvin praat met deernis oor hoe baie sy vir hom beteken het. Ulrike het vir hom ondersteuning op nie net akademiese vlak gebied nie, maar uit haar pad gegaan om hom te help met sy geestelike welstand. Toe Elvin Berlyn toe gereis het vir ʼn akademiese kortkursus, was dit Ulrike wat hom bygestaan het met die verkryging van ʼn paspoort.

Vandag gee Elvin klas by Hoërskool Uniondale en staan hy in meer as een dorp vir die inwoners as Meneer 'Legend' bekend. Sy passie lê nie net met die vak wat hy aanbied nie, maar veral by die kinders met wie hy ʼn pad stap. Kinders én ouers is dankbaar vir die tweede myl wat Elvin ook saamloop. Hy het selfs gedurende die grendelstaat se skoolvakansie kinders oor Whatsapp uitgedaag met daaglikse wiskundige probleme.

Die goue draad wat duidelik deurgekom het tydens my en Elvin se geselsies – en daar was baie wat ongelukkig nie hierdie berig gemaak het nie (Elvin is byvoorbeeld as Primarius van Lobelia aangestel ná sy onderhoud vir die tesourierspos) – is sy dankbetuigings vir die individue wat hom oor sy lewenspad gehelp het om te kan wees waar hy nou is. Hy noem nie net grootkoppe soos pastore en professore nie, maar sê ook dankie vir Tannie Hendrikse by Akkommodasie sowel as Tannie Williams en Tannie Niemand by die Beursekantoor. Elvin is ʼn merkwaardige individu met ʼn groot dorpie wat agter hom staan. ​