Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika benodig langtermyn-strategie om COVID-19 te klop
Outeur: Njeri Mwagiru
Gepubliseer: 17/06/2020

Afrika is uiters kwetsbaar vir die COVID-19-pandemie en sal ʼn langtermyn-strategie nodig hê om dit te klop, skryf dr Njeri Mwagiru van die Instituut vir Toekomsnavorsing in ʼn meningsartikel vir News24 (13 Junie).

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Njeri Mwagiru*

Onsekerheid, kompleksiteit en skielike onderbrekings is 'n kenmerk van ons werklikheid. Die wêreldwye Covid-19-gesondheidsramp vererger dit en beklemtoon uitdagings van besluitneming en optrede in vinnig veranderende, dinamiese omstandighede en kontekste van krisisse.

Saam met die hartseer en probleme van die coronavirus-pandemie is daar ook waardevolle lesse en insigte. Die krisis bied geleenthede om prioriteite vir besluitneming, beleid en aksie te herorganiseer en om beter toekomste te bedink in die herstel van geaffekteerde stelsels.

Vir hierdie geleenthede om 'n positiewe opbrengs te lewer, is daar egter 'n doelbewuste en doelgerigte belyning deur regerings, besighede en die samelewing, op gemeenskaps- en individuele vlak, nodig.

As 'n streek is Afrika veral kwetsbaar vir rampe en in 'n gevaarlike posisie as dit met krisisse gekonfronteer word. Afrikalande het oor die algemeen swak gevaar op menslike ontwikkelingsindekse, met 'n hoë armoedesyfers, die laagste inkomste per capita ter wêreld, die las van verwoestende siektes, asook verskeie bestuursprobleme.

Enersyds het die Afrika-streek ondanks hierdie ontberings uithouvermoë getoon. Andersyds is dit noodsaaklik dat Afrikalande hul gereedheid en veerkragtigheid moet verbeter om die gevolge van rampe te kan weerstaan.

Strategiese versiendheid

Die waarde van strategiese versiendheid vir vooruitbeplanning, relevante besluitneming en optrede om rampe die hoof te bied en te bestuur, is 'n belangrike punt wat uit Covid-19 na vore kom, met besondere relevansie vir die Afrika-streek. Strategiese versiendheid pas verskillende metodes, instrumente en tegnieke toe om:

  • 'n langtermyn en wye omvang van die probleemareas te bied
  • tred te hou van belangrikste drywers van neigings en gebeurep en dit te ontleed
  • kritieke impakfaktore te identifiseer en te monitor
  • onstabiele dinamika en onsekerhede op te spoor ten einde ontwrigtings uit te wys

Die doel van strategiese versiendheid is om 'n sinvolle lens in komplekse, onstabiele en dubbelsinnige kontekste te bied om te help met:

  • die antisipering van gebeure en uitkomste
  • die beklemtoning van verskeie opsies rakende besluitneming, optrede en implikasies
  • die definiëring van kort- tot langtermynprioriteite
  •  

As 'n oorkoepelende krisis wat gou verander en 'n groot impak het, onderstreep Covid-19 die belangrikheid daarvan om sistemiese kompleksiteite te verstaan, onsekerhede te navigeer en om vinnig by verandering aan te pas. Voorts, as ʼn kenmerk van rampe, het die nadraai van die corona-virus-pandemie vernietigende sistemiese en ernstige kort- tot langtermyngevolge. Die krisis onderstreep daarom ook hoekom dit belangrik is om verskeie moontlike gebeurtenisse te karteer ten einde 'n reeks uitkomste in teenswoordige en toekomstige tydsraamwerke te antisipeer.

Langtermyn-belegging

Hoewel dringende kwessies tydens rampe onmiddellik toegewyde aandag vereis, is fokus en belegging op die lang termyn nodig om oorsaaklike kwessies en snellerpunte vir krisisse volhoubaar aan te spreek . As sodanig is daar 'n kritieke behoefte om die onmiddellike risiko's van Covid-19 aan te spreek ten einde lewensverlies en die vernietiging van bestaansmiddele te verminder. Tog is dit ook noodsaaklik om endemiese kwessies wat risiko's verhoog en kwetsbaarhede vererger, veral in Afrika, aan te spreek.

Om die dringendheid van noodreaksies wat nodig is vir die pandemie doelbewus met 'n langtermyn strategiese fokus te kombineer en aan te vul, kan volhoubare waarde toevoeg tot pogings wat verlang word. Strategiese versiendheid kan op die kort termyn die nodige taktiese reaksies vergemaklik, ondersteun deur visioenêre voornemens op die lang termyn.

Enersyds bied strategiese versiendheid insigte om besluite en aksies te lei om voor te berei en te reageer op gebeure, ontwrigtings en rampe op die kort- tot langtermyn. Andersyds, verder as die huidige risiko's en krisisse, bevorder 'n toekomsgerigte benadering die implementering van volhoubare oplossings, en maak dit innoverende en kreatiewe denke moontlik wat denkpatrone kan verbreed, gedragsverskuiwings kan motiveer en die herkonfigurasievan verouderde en gebrekkige benaderings en modelle kan vergemaklik.

Covid-19 is hier om te bly

Om die Covid-19-pandemie in Afrika aan te spreek, is 'n onmiddellike rampreaksie nodig wat beskerming teen infeksies en sterftes, sowel as bestaansmiddele bied. Terselfdertyd is langtermyn-reaksies nodig wat die kontinent se vermoë om uit te hou, in 'n vermoë om te presteer, kan omskakel.

Covid-19-infeksies sal voortduur totdat 'n entstof gevind en wêreldwyd voldoende versprei is. Na verwagting sal die post-Covid-19-wêreldwye herstel ʼn minimum van twee jaar duur; dit is langer as voorspel, vererger deur ander kwessies, veral 'n skerp wêreldwye resessie. Die situasie bly onstabiel met 'n gebrek aan akkurate gegewens oor die verspreiding van infeksies gekombineer met 'n gebrek aan inligting oor streeks- en kontekstuele variasies van hoe die virus verskillende geografiese sones sal beïnvloed.

Onsekerheid duur voort en kan toeneem namate besluitnemers en beleidmakers, verskillende rolspelers en verskeie belangegroepe die verwoesting van die wêreldwye pandemie oorweeg. Die Afrika-kontinent bly uiters kwetsbaar. Om doeltreffend op die kort termyn te reageer, en om op die langtermyn-gereedheid en -veerkragtigheid teen rampe te ontwikkel, is dit uiters belangrik om die miasma van verskeie uitdagings wat Afrika in die gesig staar aan te spreek.

Soos wat regerings, besighede, gemeenskappe, individue mobiliseer om in 'n Covid-19-wêreld te reageer, te herstel en te herbou, hoe kan gesamentlike pogings dan krities met langtermyn-moontlikhede versoen word?

Beskou deur 'n lens van strategiese versiendheid vereis die bou van meer rampbestande toekomste dat huidige onsekerhede en kompleksiteite deur middel van langtermyn-denke, behendigheid, vooruitbeplanning, en funksionele- en strategiese aanpasbaarheid genavigeer word. Dit kan vereis dat prioriteite, beleggings en waardetoewysing herevalueer en herlei moet word, om onmiddellik op rampe te reageer en dit te hanteer, en terselfdertyd beter toekomste te bou.

Die oorweging van beskikbare opsies, implikasies en kompromieë op die kort- tot lang termyn is kernbelangrik en moet die nodige besluite en aksies ten grondslag lê om beskerming te bied teen die blootstelling aan kritieke kwetsbaarhede, terwyl aandag gegee word aan die beskerming, beveiliging en bou van beter toekomste op die vasteland en wêreldwyd.

​*Dr Njeri Mwagiru is ʼn senior toekomskundige by die Instituut vir Toekomsnavorsing aan die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool.