Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe nagraadse program lei strategiese menslikehulpbron- bestuurders op
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 30/09/2020

​Die Departement Bedryfsielkunde het aangekondig dat dié departement 'n nuwe nagraadse program in menslikehulpbronbestuur in Januarie 2021 van stapel gaan stuur.

Die Nagraadse Diploma in Strategiese Menslikehulpbronbestuur is die eerste program in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe wat ontwerp is vir 'n hibriede leeromgewing en sal dus beide aanlyn- en kontaksessies insluit.

Die program bied gegradueerdes in enige vakgebied 'n ontwikkelingsgeleentheid om hul kwalifikasies met kennis van en vaardighede in menslikehulpbronbestuur aan te vul. Dit rus hulle ook toe om die strategiese toepassing van die menslikehulpbronfunksie in organisasies te ondersoek.

“Volgens ons markanalise bestaan daar 'n groot behoefte in die mark onder senior menslikehulpbronpersoneel en lynbestuurders aan vaardighede in strategiese menslikehulpbronbestuur. Dié vaardighede word benodig vir die suksesvolle uitvoering van besigheidstrategie," het mnr Marius Meyer, programleier, gesê. “Hierdie program berei bestuurders vir senior- en topbestuursposte voor, en verleen toegang tot die direksies van maatskappye."

Die program is ontwerp met behulp van insette deur top menslikehulpbrondirekteure, sakelui en denkleiers, en is 'n toonaangewende benadering tot die beste menslikehulpbronpraktyke; een wat boonop ooreenstem met die werklikheid en kompleksiteit van die nuwe werksomgewing.

Volgens Meyer verskil die program van dié wat deur ander universiteite aangebied word omdat dit op strategiese menslikehulpbronbestuur fokus en terselfdertyd vir 'n volledige kwalifikasie sorg.

“In die meeste programme is strategiese menslikehulpbronbestuur 'n module wat deel is van 'n kwalifikasie in Bedryfsielkunde of Menslikehulpbronbestuur. Hierdie program dek die volle spektrum van strategiese menslikehulpbronbestuurspraktyke wat 'n menslikehulpbronbestuurder in staat stel om op strategiese vlak saam met die senior of topbestuur van 'n onderneming te werk."

Dié kwalifikasie sal ook die opwaartse loopbaanmobiliteit van middelvlakbestuurders in verskillende dissiplines vergemaklik, omdat dit hulle van die vaardighede voorsien om mense te bestuur.

“Wat die program uniek maak, is dat alle studie-opdragte behels dat daar met werklike strategiese menslikehulpbronbestuursprojekte in 'n organisasie gewerk word. Dié benadering help ondernemings om hul strategieë te verfyn en te verbeter," het Meyer gesê.

Die program word met behulp van gemengde leer (aangesig tot aangesig en aanlynkontak) vanaf die Universiteit Stellenbosch se hoofkampus aangebied.

Toelatingsvereistes sluit 'n graad in enige vakgebied in, asook minstens drie jaar werksondervinding, wat verantwoordelikheid vir enige aspek van mensebestuur in 'n organisasie insluit. Aansoekers moet ook oor internettoegang beskik.

Die program is een jaar lank voltyds (agt modules) of twee jaar deeltyds (vier modules per jaar).

Die agt modules is die volgende: Strategiese Menslikehulpbronbestuur en Etiek; Strategiese Menslikehulpbronontwikkeling en -afrigting; Talentbestuur; Indiensnemingsreg; Arbeidsverhoudinge; Organisatoriese Gedrag; Vergoedingsbestuur; en Menslikehulpbronstatistiek.

Meyer het gesê dat die aanlyn-komponent van die program twee bykomende voordele vir studente inhou. Dit kan hulle help om hul werk-, gesins- en studieverpligtinge te balanseer en sal menslikehulpbronpraktisyns in staat stel om hul aanlynleervaardighede te verfyn om sodoende aanlynleer in hul eie ondernemings toe te pas.

Aangesien menslikehulpbronbestuurders 'n belangrike rol in die bestuur van Covid-19 in die werkplek speel, is 'n spesiale afdeling oor die bestuur van hierdie pandemie by risikobestuur in die module oor Strategiese Menslikehulpbronbestuur ingesluit. Verder dek die kurrikulum tipiese Covid-19-vriendelike werkplekprogramme soos buigsame werkreëlings en digitale menslikehulpbronbestuur.

“Dit sal die studente in staat stel om die 'nuwe normaal' te bestuur as deel van hul toekomstige werksprogramme bo en behalwe die verpligte maatreëls rakende werknemersgesondheid, -veiligheid en -welstand wat met die Covid-19-krisis verband hou," het Meyer bygevoeg.

Die nuwe nagraadse diploma is 'n voortsetting van die voorgraadse programme in Menslikehulpbronbestuur en Bedryfsielkunde wat deur die Departement Bedryfsielkunde aangebied word.​
Marius Meyer1.jpg


  • Kontak die kursusadministrateur, Rahkeenah Peters, by indpsych@sun.ac.za vir verdere inligting of om op die toelatingswaglys geplaas te word.
  • Hooffoto deur Alex Kotliarskyi op Unsplash. Foto regs: Mnr Marius Meyer.