Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tomlinson dien op WGO-groep vir moeder- en kindergesondheid
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 08/06/2020

​Prof Mark Tomlinson, mededirekteur van die Instituut vir Lewensloop-gesondheidsnavorsing (ILCHR) beskryf sy aanstelling by ʼn belangrike adviesgroep van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) as ʼn groot eer.

Tomlinson sal deel wees van die Strategiese en Tegniese Adviesgroep van Kenners (STAGE) vir Moeder-, Baba-, Kind-, Adolessent-gesondheid en Voeding vir ʼn termyn van drie jaar van May 2020 tot 2022.

Die STAGE-adviesgroep rapporteer direk aan die WGO se direkteurgeneraal, en sal strategiese en tegniese raad aan die WGO gee oor aangeleenthede wat verband hou met die gesondheid en voeding van moeders, babas, kinders en adolessente en dit sal ook die WGO se Primêre Gesondheidsorg (PHC) en Universele Gesondheidsdekking (UHC) agendas inlig.

In ʼn onderhoud net voor die adviesgroep se eerste vergadering – wat virtueel gehou is in plaas van in Geneva soos voorheen beplan was – het Tomlinson gesê dat hy “aangenaam verras" is oor sy aanstelling tot hierdie gesogte groep.

“Ek is ʼn groot ondersteuner van die WGO se werk en het al vantevore in verskeie kapasiteite werk vir hulle gedoen, insluitend om te help met die saamstelling van 'Nurturing care for early childhood development: A framework for helping children survive and thrive to transform health and human potential'. Deur deel te wees van die STAGE-groep voel dit of ek bydra tot die WGO se agenda.

“Die WGO is baie vertrouenswaardig en het ʼn groot invloed wêreldwyd, en dit voel goed om ʼn bydrae te maak tot globale openbare gesondheid," het hy gesê.

“Hierdie groep sal die WGO help om prioriteitspakkette saam te stel wat verband hou met universele gesondheidsdekking, primêre gesondheidsorg, die gehalte van sorg en ander areas."

Tomlinson het gesê dat ʼn ander taak van die adviesgroep sal wees om raad te gee oor die WGO se riglyneproses. WGO-riglyne is gebaseer op die beste beskikbare bewyse en is “belangrike dokumente wat regerings help met gesondheidsdienslewering".

Tomlinson, ʼn opgeleide kliniese sielkundige wat nou navorsing doen in Openbare Gesondheid het gesê dat baie van sy werk met die ILCHR tydens swangerskap begin en dan moeders, kinders en gesinne oor ʼn tydperk volg – in een geval vir meer as 17 jaar – om waar te neem wat met individue gebeur oor die tydperk.

Oor die afgelope drie dekades was daar ʼn aansienlike afname wêreldwyd in die aantal kinders wat aan voorkombare oorsake sterf – van 12 miljoen gevalle in 1990 tot 4 miljoen per jaar tans. “Dit is ʼn merkwaardige sukses vir globale gesondheid. Ons het nou weg beweeg van ʼn algehele fokus op oorlewing een kyk nou ook na hoe om die kinders wat wel oorleef, te help om te floreer," het hy gesê.

“Ek sal graag hierdie perspektief na die groep wil bring. Wat moet ons doen oor die lewensloop om kinders te help om te floreer? Hoe bou ons die belangrike vroeë fondasies en bou daarop soos die kinders en adolessente ontwikkel."


Foto-erkenning: Stefan Els