Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Doen jou deel om ons oseane te red
Outeur: Molly Czachur
Gepubliseer: 08/06/2020

Maandag (8 Junie) is Wêrelddag vir Oseane. In ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian (7 Junie), skryf Molly Czachur van die Evolusionêre Genomika-groep dat ons almal ons deel moet doen om die oseane te red.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Molly Czachur*

Almal bewonder die skoonheid van die oseane en die seelewe – hetsy met ons eie oë of wanneer ons na ʼn gunsteling-dokumentêre program op die televisie kyk.

Gesonde oseane is die longe van ons planeet en verskaf die meeste van die suurstof wat ons inasem. Hulle lewer ook jaarliks ʼn verstommende ekonomiese bydrae van biljoene Amerikaanse dollars. Hulle verskaf vir ons kos, vervoer en energie, en help selfs om ons klimaat te reguleer en lewer belangrike kulturele dienste. Dit sou verstandig wees om hierdie voordele te benut, maar die vraag is: Hoe bereid is mense om ʼn wederdiens te bewys en tot aksie oor te gaan ten bate van ons oseane?

Mense oor die wêreld heen vier elke jaar op 8 Junie Wêrelddag vir Oseane om klem te lê op die belang van beskerming van ons oseane en ons seelewe. Ons gaan hoor van die bedreigings en uitdagings vir seelewe, en dit is dikwels oorweldigend. Eerder as om in syfers verstrik te raak, is ʼn belangrike volgende stap vir ons almal om tot aksie oor te gaan om ons oseane te beskerm. As ons ons werklik daarop toespits, sal ons talle saadjies van hoop in ons daaglikse optrede kan vind, en wanneer ons almal saamstaan, groei en versterk hierdie saadjies.

Alle dade bring ons nader aan die bereiking van die Verenigde Nasies se 14de Volhoubare Ontwikkelingsdoelwit vir “lewe onder die water". Dit is ʼn internasionale poging om te verseker dat ons ons seehulpbronne volhoubaar gebruik.

My eie ervaring van optrede in hierdie verband begin by my beroep as ʼn mariene bioloog. Ons gebruik DNS-gebaseerde instrumente om die seelewe in Suider-Afrika te beskryf. Dit is soms moeilik om genetika te beskryf, en ek sê altyd vir mense dat dit nie net ʼn vervelige skoolvak is nie! As deel van my persoonlike missie om mense oor genetika te inspireer, het ek ʼn strokiesprent geskep om my werk te illustreer, en ek was verstom deur die aanlyn reaksie daarop. Honderde onderwysers uit die uithoeke van die aarde het my gevra vir ʼn afskrif vir hul klaskamers, en dit is sedertdien in etlike tale vertaal. Dit was ʼn eenvoudige daad met ʼn wydverspreide impak. Hierdie onderwysers het my idee versterk dat mense tot aksie oorgaan (selfs vir genetika) as hulle die regte instrumente daarvoor kry.

Kom ons verskuif nou van die klaskamer na die dorpies van Kenia, waar wortelboomwoude oor die kusgebiede van die land strek. My eerste indruk van wortelbome was dat hulle magies is – dit is bome wat in seewater kan leef en floreer. Onder die oppervlak verskaf die ineengevlegte wortels ʼn waterhabitat vir jong seediere, en bo die water bak die takke en blare in die son. Wortelbome is magies, maar hulle word ook bedreig. Wortelhout is ʼn nuttige boumateriaal en daarom word die bome dikwels afgekap, of ontbos vir 'wensliker' kusontwikkelings. Oor die afgelope 30 jaar het 20% van wortelbome in Kenia verdwyn.

Ek het destyds die voorreg gehad om vir ʼn gemeenskap van vooruitdenkende Keniane te werk wat saamgestaan het om hul wortelbome te beskerm deur ʼn gemeenskapsgedrewe projek getiteld “Mikoko Pamoja", wat 'wortelbome tesame' beteken. Die plaaslike mense beskerm hul wortelboomwoude teen ontbossing, en terwyl die bome groei, berg hulle koolstof in die woude se biomassa en omliggende modder. Mikoko Pamoja genereer ʼn inkomste uit hierdie koolstofberging deur koolstofkrediete in die koolstofmark te verkoop (lees die artikel op my blog oor koolstofverrekening hier). Die geld wat hulle genereer, word gebruik om waterstelsels en skoolhulpbronne te ontwikkel en bevoordeel die plaaslike apteek. Hul optrede het nou tot veelvlakkige voordele gelei: Die plaaslike kuslyn word beskerm en die mense ontwikkel hul onderwys, gesondheidsorg en waterhulpbronne.

Dit is net een voorbeeld van hoe mense se dade die oseane en die mense wat daarvan afhanklik is, kan bevoordeel – daar is oral saadjies van hoop. Die verrassendste ding wat ek gevind het, is dat almal se idee van optrede verskil, maar dit begin altyd by daardie eerste skuif. Jou unieke stem, jou kreatiewe denke en jou dade sal ons help om die boodskap van beskerming van ons oseane te versprei. Soos die Keniane bewys het: Jou dade kan tot voordeel van mens en planeet wees.

As jy onseker is hoe jy ʼn verskil kan maak, kan jy inspirasie in die digitale wêreld vind – met ʼn vinnige Google-soektog sal jy ʼn magdom positiewe dade tot voordeel van die oseane kan vind. Die Verenigde Nasies het selfs ʼn artikel getiteld “The Lazy Person's Guide to Saving the World" gepubliseer. ʼn Goeie wegspringplek is die teiken om seebesoedeling te verminder. Jy kan enigiets doen – van iets kleins soos om jou voor te neem om jou plastiekverbruik te verminder, tot invloedryke mense wat beleidsveranderinge aanbring. Oor die wêreld heen word rommel op strande opgetel, en as jy nie by ʼn bestaande groep kan aansluit nie, kan jy self een organiseer of bloot rommel optel wanneer jy op ʼn strand is. Dalk woon jy nie naby ʼn strand nie? Jy kan ʼn veldtog begin om besoedeling te verminder, of vir jou plaaslike regeringsverteenwoordigers skryf en jou menings lug. Oefen druk uit om veranderinge te sien, hetsy rakende die verbruik van plastiek in jou omgewing of seebesoedeling weens industriële of huishoudelike chemikalieë.

Sluit dus saam met die wêreld by ons “Dekade van Aksie" aan in ons strewe om die 2030-mikpunte te bereik. Enige daad sal ʼn verskil maak. Tree vandag op en kyk hoe ver die impak sal strek.

  • Deel jou oseaan-dade op sosiale media om ander te inspireer. Gebruik die nutsmerk #WorldOceansDay om met mede-seeliefhebbers oor die wêreld heen in aanraking te kom. Sluit by die gesprek met Molly op Twitter en Facebook (@zoologymolly) aan, of besoek www.zoologymolly.com vir meer hulpbronne.

*Molly Czachur is ʼn PhD-student in die Evolusionêre Genomika-groep in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch.