Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Niewinsgewende organisasies sukkel gedurende COVID-19-inperking
Outeur: Anika Berning
Gepubliseer: 04/06/2020

Niewinsgewende organisasies speel 'n noodsaaklike rol in verskeie sektore en gemeenskappe, maar sommige staar die moontlikheid van sluiting in die gesig gedurende die COVID-19-inperking weens kwynende hulpbronne, skryf Anika Berning van die Departement Ondernemingsbestuur in ʼn meningsartikel vir Fin24 (3 Junie).

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Anika Berning* 

Die verskuiwing na vlak drie van die landswye staat van inperking is 'n reusestap vorentoe vir ons ekonomie, aangesien sowat 15 miljoen mense kon terugkeer werk toe. Terwyl baie sakeondernemings verheug is om weer te kan heropen, sal ander ongelukkig gesluit bly.

Gevolglik sal die ekonomie, wat reeds 'n resessie beleef, verder verswak. Voor die COVID-19-pandemie was Suid-Afrika se werkloosheidskoers 29,1% en die Kamer van Koophandel voorspel dat dit tot 50% kan styg. Namate die staat van inperking oor die afgelope meer as 60 dae voortgeduur het, was daar toenemende tekens van ontevredenheid en was daar oproepe vir die beëindiging van die staat van inperking aangesien dit ekonomiese en maatskaplike kwessies veroorsaak. Sowat 34% van alle Suid-Afrikaners het na raming gedurende die staat van inperking honger gely. Die gevolg was dat ons onlangs 'n toename in protesaksies en mense wat optrede eis, gesien het.

Gelukkig is verskeie voedselbanke in arm gemeenskappe op die been gebring en geld is beskikbaar gestel om hierdie dienste uit te brei. Niewinsgewende organisasies het veral hul deel bygedra om die las van miljoene Suid-Afrikaners te verlig. Hoewel hul werk soms ongesiens verbygaan, speel die meer as 220 000 niewinsgewende organisasies wat by die departement van Maatskaplike Ontwikkeling geregistreer is, 'n noodsaaklike rol in verskeie sektore en gemeenskappe.

Die kritieke bydrae van niewinsgewende organisasies word deur dr Armand Bam, hoof van Sosiale Impak aan die Universiteit van Stellenbosch se Sakeskool (USB), beklemtoon. Hy het onlangs die volgende in 'n blog-plasing gesê: “Wat die moeite werd is om te oorweeg, is dat niewinsgewende organisasie in gemeenskappe werk wat nie deur die regering en sakelui bereik kan word nie. Hulle het die toeganklikheid en behendigheid om na die huidige krisisse om te sien en het ons ondersteuning nodig."

Ter beklemtoning van hul onbestendige situasie, het Bam gesê dat “terwyl die regering op ons belasting kan staatmaak om operasioneel te bly en sakeondernemings met die nodige middele toegang tot finansiële reserwes het, maak niewinsgewende organisasies hoofsaaklik op skenkings en persoonlike fondsinsamelinge staat om dienslewering te verseker. Baie van hierdie organisasies staar nou die bedreiging van afskaling en aflegging van personeel in die gesig, terwyl die behoefte aan hulle dienste toeneem."

Die afgelope meer as 60 dae het bewys hoe belangrik hierdie organisasies in ons samelewing is, aangesien hulle voortgaan om die hulpbehoewendes te help terwyl hul eie hulpbronne kwyn. Weens 'n gebrek aan ondersteuning, staar baie niewinsgewende organisasie nou die moontlikheid van sluiting in die gesig, wat tot groter werksverliese sal lei. Terwyl die regering 'n finansiële inspuiting van R500 miljard geïnisieer het, is geen finansiële hulp spesifiek vir niewinsgewende organisasies geoormerk nie. Die sluiting van sommige van hierdie organisasies sal verreikende gevolge hê vir die gemeenskappe wat hulle dien. Die ondersteuning wat hulle van verskeie skenkers kry, is dikwels nie genoeg nie. Sommige niewinsgewende organisasie het hul skenkersteun verloor net mooi toe hulle dit gedurende die COVID-19-pandemie die nodigste gehad het.

In 'n onderhoud wat ek met mense by 'n niewinsgewende organisasie gevoer het, het iemand gesê “dit is 'n frustrerende tyd vir niewinsgewende organisasies omdat hulle, ondanks al hul pogings, steeds nie as 'n sektor erken word nie – tensy hulle konneksies het. Ons beur voort om te verseker dat ons begunstigdes in hierdie moeilike tye gehelp kan word, want ons het 'n eed afgelê het en ons neem dit ernstig op." Nog een het aangedui dat skenkers huiwerig om skenkings aan niewinsgewende organisasies gedurende die COVID-19-inperking te gee en hulle skenk eerder aan die Solidariteitsfonds. Die werk van die Solidariteitsfonds word nie afgemaak nie, maar kleiner organisasies het nie tyd om vir geld aansoek te doen nie.

Vir hulle gaan dit bloot oor oorlewing en hulle word van dag tot dag bedryf om baie noodsaaklike dienste aan hul begunstigdes te lewer. Dit is hier waar die samelewing se begrip van die maatskaplike ekonomie tekort skiet. Dit is 'n broodnodige sektor wat dienste aan 'n groot deel van ons samelewing lewer; hulle gaan egter gebuk onder 'n tekort aan behoorlike ondersteuning van die openbare en private sektore. Dit het 'n bose kringloop tot gevolg: 'n niewinsgewende organisasie kan nie sonder genoegsame hulpbronne en geld groei en meer professioneel word nie, en indien hulle nie meer professioneel word nie, ontvang hulle selde meer skenkings.  

Dit is egter nie net wanhoop wanneer dit by befondsing in hierdie moeilike tye kom nie. Niewinsgewende organisasies kan toegang tot sekere hulpbronne kry wat hulle kan help om voort te gaan om noodsaaklike dienste aan gemeenskappe in nood te verskaf. Van hierdie hulpbronne sluit die GAP-fonds wat deur die Mergon-beleggingsgroep gestig is, die Charities Aid Foundation Southern Africa en die Forgood Blog in.

Die maatskaplike ekonomie is 'n baie ingewikkelde verskynsel in Suid-Afrika, aangesien dit uiters noodsaaklik is om kritieke dienste aan 'n groot meerderheid van ons land te verskaf. Ongelukkig word dit deur die regering oorgesien en neem skenkers dit dikwels nie ernstig op nie. Daarom moet niewinsgewende organisasies vir hul eie behoud veg. Hierdie organisasies floreer egter op hul doelgerigtheid, toegewydheid en deernis wat hulle te midde van die COVID-19-pandemie hoogsdoeltreffend en veerkragtig maak. Sonder hulle sou ons situasie baie hagliker gewees het.

*Anika Berning is 'n dosent in die departement Ondernemingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch. Sy is tans besig met haar PhD wat op bestuurstelsels en strategie in niewinsgewende organisasies fokus.