Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel datawetenskap-akademie vir Afrika bekend
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 02/06/2020

Met sy visie om 'n instelling van wêreldgehalte vir datawetenskap en rekenaardenke in en vir Afrika te wees, het die Universiteit Stellenbosch (US) in Julie 2019 sy Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke bekendgestel.

Die skool is hard aan die werk om onkonvensionele benaderings tot onderrig en navorsing in datawetenskap en rekenaardenke op 'n interdissiplinêre wyse oor fakulteite heen te fasiliteer.

Die skool het nou ook die African Data Science Academy (ADSA) gevestig om die skool se doel om die uitbouing van menslike kapasiteit in datawetenskap en rekenaardenke by die Universiteit, in Suid-Afrika, regoor Afrika en in die res van die wêreld te fasiliteer. Die skool ontwikkel en bied oop kursusse asook doelgemaakte kursusse wat vir ons bedryf en akademiese vennote ontwikkel word, aan.

Volgens prof Kanshukan Rajaratnam, Direkteur van die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, nooi hulle akademici en die bedryf uit om met ADSA saam te werk om in hul opleidingsbehoeftes te voorsien. Hulle wil 'n impak op beide navorsers en professionele praktisyns maak wat hul vaardighede in vakgebiede wat met Datawetenskap verband hou, wil uitbrei.

“Die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke kan deur die African Data Science Academy in Suid-Afrika, Afrika en regoor die wêreld kapasiteit in hierdie veld bou. Dit is 'n opwindende tyd waarin ons ons akademie van wêreldgehalte en die internasionaal-erkende Universiteit Stellenbosch-gehalte na die res van die wêreld kan neem. ADSA bied nie net nog 'n aanlynkursus nie; dit voeg waarde by deur die interaksie en danksy ons aanbieders. Afgevaardigdes kry die geleentheid om beginsels in hul eie vakgebiede toe te pas."

ADSA bied in Julie vanjaar twee geakkrediteerde aanlyn-kortkursusse by die US in vennootskap met die Afrika Doktorale Akademie aan. Albei kursusse sal van 20 tot 24 Julie 2020 aanlyn geskied. Die eerste kursus 'n Inleiding tot Statistiek met R. R, 'n statistiese sagtewareprogram wat veral waardevol vir die ontleding van data en grafiese voorstelling is. Hierdie kursus dien as 'n inleiding tot die toepassing van die programmeringstaal R op statistiese ontleding.

Die tweede kursus is 'n Inleiding tot Datawetenskap. Die kortkursus is as 'n inleidende oorsig tot datawetenskap ontwikkel wat aan die hand van die lewensiklus van 'n datawetenskap-projek verduidelik word. Prof Rajaratnam sê hulle het die kortkursusse met verskeie interaktiewe aktiwiteite in gedagte ontwerp, soos byvoorbeeld besprekings, vasvrae, werksopdragte en groepswerk, asook regstreekse of virtuele vraag-en-antwoord-sessies met die kursusaanbieders.

“Die kursusse word deur die Universiteit Stellenbosch se eie dosente van wêreldgehalte verbonde aan die departemente Statistiek en Aktuariële Wetenskap (Inleiding tot Statistiek met R) en Bedryfsingenieurswese (Inleiding tot Datawetenskap) aangebied. Die feit dat ons hierdie kursusse aanlyn aanbied, maak dit vir studente op enige plek in die wêreld moontlik om die kursus te volg en stel ons in staat om die Universiteit Stellenbosch se kundige akademici na die res van die wêreld te neem."

Verdere inligting oor die kursusse is op die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke se webwerf beskikbaar by http://www.sun.ac.za/afrikaans/data-science-and-computational-thinking/Pages/default.aspx. Voornemende studente kan ook 'n e-pos stuur aan dataschool@sun.ac.za.