Hoewel hulle in Suid-Afrika deur die reg beskerm word, is vlugtelinge en asielsoekers eenkant toe gestoot as dit kom by die uitdeel van COVID-19-hulppakkette, skryf dr Callixte Kavuro van die Departement Publiekreg in ʼn meningsartikel vir Mail & Guardian (29 Mei).
- Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.
Hoewel hulle in Suid-Afrika deur die reg beskerm word, is hierdie groepe eenkant toe gestoot as dit kom by die uitdeel van hulppakkette.
Callixte Kavuro*
Die vinnige verspreiding van COVID-19 het 'n ernstige uitwerking op die sosio-ekonomiese lewe van alle inwoners van Suid-Afrika gehad. Dit is dus uiters belangrik dat hulle almal beskerming in die vorm van toegang tot gesondheidsorg, humanitêre hulp en maatskaplike welsyn ontvang.
Vlugtelinge en asielsoekers moet ook die regering se hulp soek vir beskerming aangesien hulle nie deur die regerings in die lande vanwaar hulle gevlug het, beskerm kan word nie.
Hierdie individue word in Suid-Afrika ingevolge die Wet op Vlugtelinge van 1998 beskerm.
Anders as ander buitelanders, is vlugtelinge en asielsoekers, kragtens die Wet daarop geregtig om in Suid-Afrika te werk om hulself te onderhou en hul lewensgehalte gedurende hul verblyf te verbeter. Weens hul desperaatheid, word hulle egter gewoonlik in die arbeidsmark uitgebuit omdat baie van hulle nie weet waar om geregtigheid te vind nie.
Dit is 'n groot bron van kommer dat hulle weens verskeie redes verder by 'n aantal COVID-19-hulppakette uitgesluit is.
Voordat president Cyril Ramaphosa aangekondig het dat Suid-Afrika na vlak 3 van die inperking sou verskuif, moes alle inwoners hul nie-noodsaaklike sakeondernemings sluit en by die huis bly. Mediese dienste is vir almal, sonder diskriminasie gegrond op nasionaliteit, aangebied. Die gelyke behandeling was onafwendbaar omdat COVID-19 nie tussen lande, nasionaliteite of klasse onderskei nie. Die regering se gesondheidsreaksie moes immigrante insluit om 'n nasionale ramp te voorkom.
Die regering het erken dat baie mense wat weens die inperkingsregulasies nie 'n inkomste kon verdien nie, nie in staat sou wees om kos op die tafel te sit nie. Gevolglik is kospakkies as 'n vorm van humanitêre hulp uitgedeel. Daar was egter berigte dat hierdie kospakkies op grond van nasionaliteit en politieke affiliasie versprei is. Aangesien politiek 'n belangrike rol in die verskaffing van humanitêre verligting gespeel het, is kwesbare immigrante oorgesien. Dit het 'n nog groter uitwerking op die lewens van vlugtelinge en asielsoekers gehad, aangesien hulle nie toegang tot voedselsekerheid gehad het nie.
Die kwesbaarste is egter asielsoekers wat uitgesluit word van toegang tot die maatskaplike toelae-skema en toelae vir maatskaplike verligting van nood (dit is werkloosheidstoelaes). Hierdie skemas is ontwerp om die kwesbares en werkloses te help om vir hulself kos te voorsien. Die uitsluiting van asielsoekers by hierdie COVID-19-humanitêre hulplenigingskemas is 'n bron van kommer, aangesien hul humanitêre behoeftes beskerm moet word in ooreenstemming met die tweeledige reg tot lewe en menswaardigheid soos deur die Wet op Vlugtelinge voorsien word.
In hierdie verband moes ekonomiese noodverligtingsmaatreëls wat ontwerp is om werknemers se salarisse te betaal, om werksgeleenthede te red of om sakeondernemings te beskerm, asielsoekers en vlugtelinge se posisie in ag geneem het.
Hulle moet ook baat by die tydelike werkgewer-werknemer-noodskema (TERS), soos geadministreer deur die departement van Arbeid deur middel van die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF). Vlugtelinge en asielsoekers het egter gesukkel om gedurende die tydperk van algehele inperking hul salarisse deur TERS te ontvang, aangesien hulle deur hul werkgewers ingelig is dat die geen-werk-geen-betaling-beginsel geld.
Verdere probleme het onstaan waar maatskappye die tydperk van algehele inperking vir grootskaalse personeelafleggings gebruik het. Net soos ander mense wat afgelê is, moet afgelegde vlugtelinge en asielsoekers ook by die WVF baat, aangesien hulle ook tot die fonds bygedra het. Dit is dus problematies dat hul uitsluiting deur die departement van Arbeid geregverdig is. Die departement het as verskoning aangevoer dat sy rekenaarstelsel nie ontwerp is om die syfers wat op hul statuspermitte verskyn, vas te lê nie. Hierdie probleem duur steeds voort ondanks die feit dat die Gelykheidshof in die 2017-saak tussen Saddiq en die departement van Arbeid en ander die departement beveel het om sy rekenaarstelsel op te gradeer om dit in staat te stel om die syfers wat op hierdie permitte verskyn, vas te lê.
Vlugtelinge en asielsoekers in die informele en formele sektore van die ekonomie is meer kwesbaar, veral aangesien noodlenigingskemas wat ontwerp is om klein en medium-grootte sakeondernemings wat swaarkry, te ondersteun, tot landsburgers beperk is. Gevolglik het hulle geen toegang nie tot die skuldverligtingskemas, die fasiliteit vir sakegroei/veerkragtigheid, die toerisme-noodlenigingsfonds vir klein, medium en mikro-ondernemings (SMME's), die noodfinansiering vir sakeondernemings wat onder druk is, die noodlenigingsfonds vir werkgewers of die nasionale bemagtingsfondsondersteuning wat hulle kon gehelp het om hul ondernemings in hierdie moeilike ekonomiese tyd te red.
Boonop is daar 'n politieke veldtog gevoer om immigrante te verhoed om aan die kleinsakesektore deel te neem of werk in sekere sektore van die ekonomie te kry. Dit wil voorkom asof die minister van Kleinsakeontwikkeling, Khumbudzo Ntshavheni, die minister van Finansies, Tito Mboweni, en die direkteurgeneraal van Arbeid, Thobile Lamati, aan die hoof van hierdie veldtog staan wat inbreuk maak op die regte en vryhede van vlugtelinge en asielsoekers om in die toekoms aan ekonomiese aktiwiteite deel te neem.
Al word hulle toegelaat om te werk, word vlugtelinge en asielsoekers se reg om te werk deur artikel 22 van die Grondwet beperk. Dit ontneem hulle van die reg om hul ambag, beroep of professie vrylik te kies. Hierdie reg word verder beperk deur die Wet op Gelyke Indiensneming van 1998 en die Wet op Immigrasie van 2002. Hoewel die Wet op Gelyke Indiensneming werkgewers verplig om die indiensneming van aangewese groepe (swart mense, vroue en mense met gestremdhede) deur die implementering van regstellende aksie te prioritiseer, verplig immigrasiewetgewing werkgewers om buitelanders in diens te neem op voorwaarde dat (i) hy of sy hoogsgeskoold is of 'n kritiese vaardigheid het en (ii) daar geen geskikte landsburger is wat in die pos aangestel kan word nie.
Vlugtelinge en asielsoekers val nie in die aangewese groepe nie omdat hulle nie deur praktyke van die verlede geraak is nie. Ongelukkig is daar niks in die Wet op Vlugtelinge wat hulle van hierdie beperkende indiensnemingmaatreëls vrystel nie. Die alternatief was dus dat hulle hul eie klein sakeondernemings op die been moes bring om te oorleef.
Die regering se poging om vlugtelinge en asielsoekers te verhoed om klein ondernemings te bedryf is suksesvol uitgedaag in die 2015-saak, Somaliese Vereniging van Suid-Afrika teen Limpopo, Departement Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme waar die Appèlhof die betekenis van die reg om te werk geïnterpreteer het as die doen van sake of indiensneming. Hoewel daar steeds 'n kontroversiële debat in die politieke arena is oor asielsoekers se regte om aan ekonomiese aktiwiteite deel te neem, het die Appèlhof in die 2004-saak tussen die Minister van Binnelandse Sake en Watchenuka bevestig dat hulle moet werk om hul waardigheid te beskerm.
In hierdie moeilike tyd moet die regering ophou om vlugtelinge en asielsoekers as “ekonomiese immigrante" te beskou en sy verbondenheid toon om hulle ingevolge die belofte van die Wet of Vlugtelinge te beskerm en sy COVID-19-reaksies hiermee te laat ooreenstem.
- Foto: Vlugtelinge op Groentemarkplein in Kaapstad. Krediet: Wikimedia Commons
*Dr Callixte Kavuro is 'n postdoktorale navorser in die departement Publieke Reg aan die Universiteit Stellenbosch.