Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Roomaney – een van 51 SA academici gekeur vir bevorderingsprogram
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 28/05/2020

Dr Rizwana Roomaney, 'n lektor in die Departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch, is gekeur as een van 51 swart akademici van reg oor Suid-Afrika om deel te neem aan die Black Academics Advancement Programme vir 2020. Sy is een van drie akademici van die US wat vir die program gekeur is.

Die Black Academics Advancement Programme (BAAP), wat oor die volgende vyf jaar teen 'n koste van R165 miljoen befonds word, is 'n strategiese vennootskap tussen die Nasionale Navorsingstigting (NRF) en die FirstRand Stigting (FRF) “om die ontwikkeling van swart Suid-Afrikaanse akademici en Suid-Afrikaanse akademici met gestremdhede te bevorder om nasionaal en internasionaal erkende navorsers te word."

Die program gee swart akademici wat 'n PhD graad voltooi, of werk aan na-doktorale navorsing, die geleentheid om sabbatsverlof van twee tot drie jaar te neem en dit deur 'n toekenning te befonds. Die toekenning dek die akademikus se lopende koste, soos plaaslike en internasionale kongres-kostes, navorsingverwante kostes en lektor-vervangingskostes vir die duur van die sabbatsverlof.

“Die toekenning het my toegelaat om die hoeveelheid tyd wat ek op my na-doktorale navorsing fokus aansienlik te vermeerder deur my onderwys-verpligtinge oor die volgende twee jaar uit te koop," verduidelik Roomaney, wat ook 'n geregistreerde berader en navorsing-sielkundige is. 

“Ek gee onderrig aan byna 2000 voorgraadse studente per jaar en is tans promotor van 15 nagraadse studente. Ek sien dus uit daarna om tyd af te neem van klasgee om eksklusief te fokus op navorsing en die mentor van my nagraadse studente."

Deur haar navorsing poog Roomaney om die psigososiale welstand van mans en vroue na te vors wat fertiliteit-behandeling verlang. Sy lei 'n span navorsers in Suid-Afrika en Ghana. Met 10 miljoen paartjies in Afrika suid van die Sahara wat infertiliteit ervaar, sal Roomaney se navorsing 'n belangrike bydrae maak tot die wetenskap in hierdie verband.

“Die omvang van die belang wat geheg word aan biologiese ouerskap in Afrika maak kulturele oortuigings oor onvrugbaarheid onlosmaaklik deel van die ervaring van infertiliteit. Wêreldwyd ervaar baie paartjies met infertiliteit angs, depressie, stres en stigma. In Afrika word die ervaring van infertiliteit vererger deur die kulturele wêreldbeskouing van die paartjie, wat die sielkundige welstand van die paartjie moeiliker maak om te ontrafel," voeg sy by.

“Daar is tans beperkte navorsing oor die psigososiale aspekte van infertiliteit onder mans en vroue in Suid-Afrika," verduidelik Roomaney.

Sy voeg by dat hierdie navorsing gebruik kan word om sielkundige en sosiale ondersteuning te gee aan mans en vroue wat fertiliteitsbehoud verlang. Die oorspronklike intervensie is ontwikkel deur haar medenavorser, dr Florence Naab aan die Universiteit van Ghana.

Oor die jare het Roomaney se navorsing gefokus op die veld van gesondheidsnavorsing, spesifiek reproduktiewe en vroue-gesondheid. Sy is 'n ervare metodoloog en is geregistreer by die Raad vir Gesondheidsberoepe in Suid-Afrika as navorsing-sielkundige. Dit was tydens haar nagraadse studies dat sy aanklank gevind het by navorsing oor reproduktiewe en vroue-gesondheid en sy werk tans aan studies mat navorsing-medewerkers en studente in onkologie, onkofertiliteit (die bewaring van reproduktiewe gesondheid in kankerpasiënte na behandeling), endometriose, premenstruele disforiese afwyking en infertiliteit.

“Ek het begin belang stel in vrouegesondheid en reproduktiewe gesondheid hoofsaaklik omdat vroue hulself dikwels geïsoleer vind terwyl hulle in die stilligheid 'n stryd voer met hul gesondheidskwessies. Byvoorbeeld, vroue wat leef met endometriose sukkel om te praat oor sake soos menstruasie omdat ons gesosialiseer is om nie daaroor en oor ander kwessies van ons reproduktiewe gesondheid te praat nie. Dit is bemoedigend om te sien dat vroue al hoe meer bemagtig word en beheer neem van hul liggame en hul gesondheid deur aanlyn hulp te soek en betrokke te raak by ander vroue wat dieselfde probleme ondervind."

Begrip van hierdie kwessies, sê Roomaney, gaan nie net daaroor om vroue te help wat in stilte ly nie. Studies het getoon dat daar 'n werklike impak is op die ekonomie wanneer vroue afwesig bly van die werk weens die aftakelende simptome van endometriose en premenstruele disforiese afwyking.

Roomey bou aan 'n suksesvolle akademiese loopbaan in die veld van reproduktiewe en vrouegesondheid en het 19 joernaal-artikels en twee boek-hoofstukke op haar kerfstok tydens haar relatief kort akademiese loopbaan.

​Tans is sy die nasionale afgevaardigde vir Suid-Afrika na die Europese Gesondheidsielkunde Vereniging en werk met die Sielkundevereniging van Suid-Afrika om 'n Spesiale Belangegroep (SIG) vir Gesondheidsielkunde te ontwikkel.

“Ek hoop dat die SIG 'n ruimte skep vir alle sielkundiges wat werk met en navorsing uitvoer in gesondheidsielkunde om gedagtes uit te ruil, saam te werk en tot diens van gemeenskappe te wees."

“Ek wil graag 'n bydrae maak tot die veld van gesondheidsielkunde en is dankbaar vir die ondersteuning wat ek deur hierdie toekenning ontvang. Daar is 'n behoefte om swart akademici te bevorder, en die NRF en FRF verskaf broodnodige ondersteuning. Dit hang nou af van die universiteite om verdere ondersteuning te bied aan swart talent en te poog om die akademie verder te transformeer."

Roomaney vestig die aandag daarop dat die professoraat nog nie voldoende getransformeer is nie. Sy meen dat hierdie gebrek aan transformasie 'n strukturele probleem is omdat hoofsaaklik bevoorregte mense die jare van studie kan bekostig wat lei tot 'n PhD en professoraat. Hierdie doelwit kan dekades neem om te bereik, terwyl lektors sukkel om hul mededingende akademiese rolle te bestuur. Die BAAP poog dus om mense wat benadeel is deur die strukturele ongelykheid in die samelewing vinniger te laat vorder tot professorale vlak.​​