Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Buitengewone akademikus' ontvang Schumann-medalje
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 28/05/2020

​Die ontvanger van die CGW Schumann-medalje vir die beste nagraadse student in 2019 aan US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, mnr Willem Wilken, streef reeds na nuwe hoogtes by die Universiteit van Oxford waar hy sy studie voortsit.

Die medalje is die hoogste eer wat die Fakulteit aan 'n student kan betoon en word sedert 1986 jaarliks toegeken. Dit is vernoem na prof CGW Schumann, 'n pioniersdosent van die Fakulteit sedert 1924, asook dekaan vir 'n kwarteeu vanaf 1935.

Wilken, wat die grade BSc (Wiskundige Wetenskappe en Wiskundige Statistiek), HonsBCom (Ekonomie en Wiskundige Statistiek) en MCom (Ekonomie) al drie cum laude verwerf het, is onlangs as die wenner van dié gesogte medalje aangewys. 'n Amptelike oorhandigingsplegtigheid word vir later vanjaar beplan.

Ander merkwaardige feite oor Wilken se akademiese rekord sluit die volgende in:

  • Hy het onderskeidings behaal in 53 uit 'n totaal van 55 modules;
  • Gedurende sy voorgraadse studie het hy 56 bykomende krediete verwerf (1ste en 2de jaar Filosofie);
  • Die honneursprogram wat hy gevolg het, is 'n verrykte program waarvoor 164 krediete vereis word in vergelyking met die gewone 120. Gemiddeld skryf net een student per jaar vir hierdie besonder uitdagende program in; en
  • Sy akademiese uitnemendheid strek oor drie fakulteite: Natuurwetenskappe (voorgraads), Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (nagraads), asook Lettere en Sosiale Wetenskappe (Filosofie voorgraads).

Oor die jare het Wilken verskeie toekennings en eerbewyse ontvang. Dit sluit die volgende in: die Cloete-medalje vir die beste voorgraadse student (in al drie akademiese jare) in Ekonomie in 2016, die beste honneursstudent in Ekonomie in 2017 (waar hy teen studente met slegs 120 krediete meegeding het) en die Cloete-medalje vir die beste nagraadse student in Ekonomie in 2019.

Volgens prof Andrie Schoombee, voorsitter van die Departement Ekonomie, geniet Wilken se akademiese prestasies erkenning van binne en buite die departement.

“In 2017 het hy 'n Mandela Rhodes-beurs ontvang, hy is aangewys as genoot van die Allan Gray Orbis Stigting en studeer tans met 'n Rhodes-beurs vir 'n MPhil (Ekonomie) aan die Universiteit van Oxford," het Schoombee gesê.

Prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakuteit, het Wilken as 'n waardige wenner beskryf: “Hy is nie net 'n buitengewone akademikus nie, maar het daarin geslaag om steeds aan buitemuurse en sosiale impak-inisiatiewe deel te neem. Hy is 'n groot inspirasie vir ons en vir sy medestudente."

Wilken het gesê die erkenning laat hom nederig en dankbaar voel. “Ek is veral opgewonde dat ek in die voetspore van twee van my 2013-matriekklasmaats van Paul Roos Gimnasium volg. Hulle het ook die Schumann-medalje ontvang – Gerben Draaijer in 2018 en Niel Botha in 2019. Ek skat dis 'n driekuns vir Paul Roos!" het hy geskerts.

Volgens Wilken het die ondersteuning en aanmoediging van die ekonomie-departement sy akademiese prestasies moontlik gemaak.

“Ek was gelukkig om met ongelooflike akademici saam te werk. Die dosente was altyd bereid om hope tyd te bestee om jou essays of navorsingsidees met jou te bespreek. Ek is veral dank verskuldig aan prof Rulof Burger vir al sy tyd as studieleier van my meestersgraad en prof Servaas van der Berg, wat 'n geslag ekonome geïnspireer het."

Wilken is trots op sy gebalanseerde leefstyl en hou veral daarvan om te draf en aan debatskompetisies deel te neem. Hy het al aan sowat 14 debatstoernooie in Suid-Afrika, Botswana en Nederland deelgeneem.

Hierdie vaardighede het hy ook tot voordeel van die breër gemeenskap aangewend deur leerders by die hoërskole Rhenish (Stellenbosch) en Makapula (Kayamandi) in debatvoering af te rig.

“Ek het met afrigting begin omdat ek leerders dieselfde soort geleenthede wou gee wat ek op skool ontvang het. Studente van die Universiteit Stellenbosch het die debatliga vir plaaslike skole bestuur, soos hulle trouens steeds doen, en ek het baie by hulle geleer," het Wilken gesê.

Die Wilken-gesin woon in Durbanville, maar het sterk bande met Stellenbosch. Ma Mariatha, en pa Hendrik, is albei oud-Maties, een suster, Elizabeth, studeer tans vir haar honneursgraad in Aktuariële Wetenskap by US en die ander, Cate, is 'n student in maatskaplike werk aan die Hugenote Kollege in Wellington.

Die 24-jarige Wilken is tans halfpad deur sy twee jaar lange MPhil-graad en wil graag 'n akademiese loopbaan volg.

“Ek geniet dit om klas te gee en navorsing te doen. Ek dink daar's niks beters as om dít te doen waarvoor jy lief is en boonop daarvoor betaal te word!"


  • Foto's verskaf: Mnr Willem Wilken, ontvanger van die CGW Schumann-medalje vir die beste nagraadse student in 2019 by US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe.  Die ander foto is geneem by sy matrikulasie (d.i. die formele toelatingsproses tot die universiteit) in Oktober 2019 in die hoofvierkant van Oxford Universiteitskollege.​