Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Moodley sluit by werkgroep aan wat Paralimpiese navorsing oorsien
Outeur: Tyrone August
Gepubliseer: 25/05/2020

Die Internasionale Paralimpiese Komitee (IPC) het in sy relatiewe kort lewensduur ʼn groot impak gemaak. Sedert sy totstandkoming in September 1989 het hy die tweejaarlikse Paralimpiese Spele in een van die voorste sportgebeurtenisse ter wêreld ontwikkel.

Nou waag die IPC dit weer op ongebaande weë. In September 2019 het dié organisasie, met sy hoofkantoor in Bonn, besluit om ʼn Wetenskap- en Navorsingswerkgroep te stig om die belange van Paralimpiese atlete ook van die sportveld af te beskerm.

Een van die werkgroep se lede is prof Keymanthri Moodley, Direkteur van die Sentrum vir Mediese Etiek en die Reg van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) aan die Universiteit Stellenbosch (US). “Dis ʼn spesiale werkgroep van die IPC," verduidelik sy.

“Dit is ontwikkel omdat die IPC baie versoeke van akademici en andere ontvang om gedurende die Paralimpiese Spele navorsing oor atlete te doen, asook oor die verskillende soorte sport wat onder dié liggaam val."

Die totstandbrenging van die Werkgroep van nege lede was ʼn logiese volgende stap van die oorspronklike missie van die IPC ­– om ʼn stem aan atlete met gestremdhede te bied.

“Dié navorsing [oor Paralimpiese atlete] is tans ongereguleer," sê Moodley. “Daar was ʼn behoefte aan die voorlegging van navorsingsvoorstelle aan ʼn spesifieke komitee bestaande uit kundiges op verskillende gebiede, sodat dit net soos navorsing op enige ander gebied beoordeel kon word."

Die werkgroep is onder voorsitterskap van dr Debra Alexander, sedert haar aftrede buitengewone senior lektor in die Departement Sielkunde aan die US, en sluit in prof Wayne Derman, Direkteur van die US se Instituut vir Sport- en Oefeninggeneeskunde.

“Die Werkgroep moet vasstel of die navorsing nodig, relevant en wetenskaplik robuus is, asook natuurlik dat dit ooreenkomstig internasionale etiese riglyne gedoen word."

Dit is waar Moodley inpas. Sy het jare lank in navorsingsetiekkomitees gedien, insluitende die Nasionale Gesondheidsnavorsingsetiekkomitee van Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad se Navorsingsetiekkomitee.

Boonop was sy deel van verskeie internasionale liggame en projekte, insluitende as mede-aanbieder van ʼn program in samewerking met die Bio-etieksentrum van die Universiteit van Noord-Carolina in die VSA om kapasiteit in gesondheidsnavorsingsetiek in Afrika te ontwikkel.

Nog ʼn belangrike oorweging met betrekking tot die totstandbrenging van die Werkgroep is volgens Moodley dat die IPC ʼn navorsingstelsel wou vestig sodat ʼn databasis opgebou kon word oor die soort navorsing wat onderneem word.

“Dit sou nie net duplisering van dieselfde tipes navorsing vermy nie, maar ook verseker dat die navorsing wat gedoen word belangrik vir die Paralimpiese gemeenskap is," voeg sy by. “Dit gaan oor die formalisering van die proses."

Die werkgroep het ook ʼn sleutelrol te vervul nadat navorsing gedoen is. “Ons wil weet hoe dit omskep gaan word in inligting wat relevant vir die burgerlike gemeenskap is, asook hoe die resultate aan deelnemers aan die projek gekommunikeer gaan word," sê Moodley.

Die werkgroep sal sy eerste vergadering in April 2020 hou, gevolg deur jaarlikse vergaderings van sy lede. “Ons gaan aan die IPC-beheerliggaam verslag doen oor navorsingsprioriteite en -strategie, asook oor die implikasies van die navorsing vir sy besluitneming."

Maar die Paralimpiese atlete self sal die kern van enige navorsing bly. “Die individuele atlete sal self toestemming moet verleen," benadruk Moodley. “Al wat die Werkgroep doen, is om die navorsingsversoeke te assesseer.

“En afhangend van waar die navorsers vandaan kom, sal hul eie instellings vanselfsprekend navorsingsetiekgoedkeuring vir die projek moet verleen voor hulle met hul navorsing begin. Al wat die IPC probeer doen, is om bykomende wigte en teenwigte in plek te stel."

Die Werkgroep voorsien ook breër betrokkenheid van die Paralimpiese gemeenskap by die navorsing. “'n Mate van gemeenskapsbetrokkenheid gaan belangrik wees, omdat enige navorsing deur die deelnemende gemeenskap aanvaar moet word," benadruk Moodley.

“En natuurlik moet meganismes in plek wees om seker te maak inligting word voor, gedurende en ná die studie gedeel. Daar moet ʼn omvattende gemeenskapsbetrokkenheidproses wees."

Die beskerming van data en private inligting is nog ʼn belangrike prioriteit vir die Werkgroep. In Suid-Afrika moet navorsing byvoorbeeld voldoen aan die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting en in die Europese Unie met Regulasies oor die Beskerming van Algemene Data.

Al is die Werkgroep se mandaat redelik wydlopend en al kan dit formidabele uitdagings aan lede met ʼn reeds veeleisende werklas bied, sien Moodley duidelik uit na haar nuwe rol.

“Ons eerste vereiste gaan wees dat die projek wetenskaplik geldig moet wees," sê sy. “Want as dit nie is nie, is daar geen rede om eens na iets anders te kyk nie. Goeie navorsing moet op goeie wetenskap gegrond wees."

Moodley se aanstelling val saam met die US se verklaring van 2020 as die Jaar van Mense met Gestremdhede, om die Internasionale Dag van Mense met Gestremdhede in Desember te vier en aan te vul.

Haar deelname aan die nuwe IPC-werkgroep gaan sonder twyfel help om ʼn beduidende bydrae te lewer tot die bevordering en uitbreiding van die regte van mense met gestremdhede, veral diegene wat uitmuntende prestasie op die sportveld nastreef.