Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'n Matie in Italië, in die tyd van Covid-19
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 22/05/2020

​Die Covid-19-pandemie het 'n stokkie gesteek voor die drome oor 'n romantiese Europese avontuur waarop Liz Gleeson, 'n nagraadse student in veekundige wetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, gehoop het tydens 'n akademiese uitruilprogram in Italië.

Liz, wat buite Bloemfontein op 'n plaas grootgeword het maar reeds die afgelope 6 jaar in die Wes-Kaap bly, vertel oor haar wedervaring, en hoe dit voel om weer in die laboratorium te wees noudat grendel-maatreëls in Italië verlig is:

“Ek het in Desember 2019 in die dorp Padova in die Veneto-streek van Italië aangekom as deel van 'n akademiese uitruilprogram vir my MSc.Agric-studies in Veekundige Wetenskappe. Vir die eerste maand of wat was dinge die gewone wat mens tydens so 'n uitruilprogram sal verwag. Dit was opwindend, maar ek was ook lekker op my senuwees oor hoe om my nuwe ritme te kry. 

Teen Februarie het ek my roetine amper vervolmaak. Weeksdae het ek vanaf my koshuis wat ek met 200 studente (waarvan die helfte internasionale studente is) die bus tot by die Landbou-kampus buite die dorp geneem. Ek't gesorg dat ek mooi vroeg is, sodat ek voor werk nog 'n cappuccino kon drink. Dit was nou nie Pulp-koffie soos ons op Stellenbosch ken nie, maar ek moet erken dat die Italianers nogal weet hoe om 'n goeie koppie koffie te maak. Daarna het ek die dag in die laboratorium spandeer, of in die kantoor gewerk aan my eerste akademiese artikel. Naweke het ek ure lank die dorp te voet ontdek, vars vrugte by die plaaslike mark gekoop en die dae afgesluit met 'n Spritz by 'n kafee wat uitkyk oor die Basilica di Sant'Antonio.

My romantiese Europese avontuur het ongelukkig tot 'n baie vinnige einde gekom weens die verspreiding van Covid-19 in Italië. Ons was bewus daarvan dat dit uitgebreek het in die naburige streek van Lombardië. In wat gevoel het soos 'n oogwink het die getal bevestigde gevalle in Padova ook aansienlik gestyg.

'n E-pos van die Italiaanse regering het die nuus van 'n nasionale inperking aangekondig. Dit was 'n besliste skok, en dit was nie maklik om die nuwe realiteit te verwerk nie.

Daar was geen “Life in Lockdown for Dummies"-gids wat ek kon volg nie. Ek moes aanvaar dat ek nou een maal nie meer die bus kampus toe kon vat vir my oggend cappuccino nie, of oor naweke op 'n ontdekkingstog kon gaan nie. Behalwe dat my eie roetine tydelik op ys geplaas is, het die inperking my ook sielkundig begin beïnvloed. Ek het myself bekommer oor my familie en vriende duisende kilometers ver, en of ek hulle weer sou sien.

Ek het egter geweet dit sou nie help om myself net te sit en bekommer nie. Ek het dus besluit om die kwarantyntyd aan te pak net soos wat ek die uitruilprogram aangepak het, en deur my omgewing te leer ken en 'n nuwe roetine te begin.

Verteenwoordigers van beide die Universiteit Stellenbosch en Padova Universiteit het my dadelik gekontak met die nodige inligting, en my vrae beantwoord. Dit het die oorgang tussen kampuslewe en kwarantyntyd baie makliker gemaak. Dit het my ook laat besef dat al is ek in isolasie, ek nie alleen is nie.

Gedurende inperking het ek elke oggend vier stelle trappe geneem na die gedeelde kombuis waar ek bly, en het iets wat darem amper soos 'n cappuccino geproe het gemaak. Dan het ek aangetrek en kantoor toe gegaan – of te wel die tafel langs my bed. Naweke het ek in die tuin van my verblyf boek lees en gekyk hoe die voëls hul vryheid geniet. Soos baie ander mense het ek begin bak. Ek het elke naweek 'n nuwe resep uitprobeer, en dan foto's daarvan aan my WhatsApp-familiegroep gestuur vir hul lofsange/kritiek.

Een van die belangrikste dele van my nuwe inperkingsroetines was om te gesels met die mense vir wie ek omgee. Die ondersteuning van my vriende, familie en my ongelooflike studieleier, dr Elsje Pieterse, het hierdie onverwagte ervaring baie makliker gemaak.

Hierdie week is ons na drie maande se inperking toegelaat om weer terug te gaan kampus toe, en weer in die laboratorium te werk.

Ek werk tans in 'n vleislaboratorium. Ons het voorheen in elk geval altyd met beskermende klere soos handskoene gewerk en gereeld al die oppervlakke skoonmaak. Nou moet ons ook heeltyd maskers dra. Ek sukkel steeds om 'n goeie posisie vir my masker te kry sodat my bril nie opwasem nie, en my hande ruik permanent soos handreiniger.

 

Daar was nog altyd 'n mate van sosiale afstandelikheid in laboratoriums gehandhaaf, omdat mens altyd kontaminasie probeer verhoed en genoeg ruimte vir mekaar gee om te kan konsentreer. Te midde van Covid-19 het die Universiteit van Padova nou onder meer 'n nota by elke kamer op die hele kampus aangebring wat aandui wat die maksimum hoeveelheid mense is wat op dieselfde tyd in die ruimte mag wees.

 

Weer eens sal ek my roetine moet aanpas by hierdie “nuwe normaal". Ek sien daarna uit om te sien wat die res van my verblyf hier gaan inhou, maar ek is seker dat dit sal sorg vir heelwat onvergeetlike herinneringe van my onverwagte avontuur. Dit is beslis nie die uitruilprogram wat ek in gedagte gehad het toe ek in Desember op die vliegtuig geklim het nie, maar dit het my die geleentheid gegee om meer oor myself te leer, en te groei.

Ek het geleer dat ek sterker is as wat ek dink, en hoe waardevol 'n goeie roetine is. O ja, en dat ek beslis nie die akademie vir 'n lewe as bakker moet verruil nie.