Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW-personeel en vrywilligers hou kenners op hoogte van nuutste COVID-19 verwikkelinge
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 22/05/2020

​Personeel en studente aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) by die Universiteit Stellenbosch het weereens bewys hoe hulle die uitdaging van COVID-19 die hoof bied deur middel van ʼn Daaglikse Inligtingsamevatting (Daily Briefing) wat deur professors in die Departement Globale Gesondheid begin is. In slegs ʼn paar weke het dit ontwikkel in ʼn noodsaaklike inligtingstuk wat daagliks meer mense bereik as wat oorspronklik beplan was.

Dr Brian Allwood, ʼn senior spesialis by die Afdeling Pulmonologie het met die idee vorendag gekom vir ʼn daaglikse inligtingstuk wat al die nuutste statistieke en navorsing oor die COVID-19 uitbreking in een dokument saamvat. Professor René English, hoof van die FGGW se Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid, het op Allwood se versoek gereageer. Die doelwit van die inligtingstuk is hoofsaaklik om ʼn “een stop-dokument" aan kritieke sorg-klinici en openbare gesondheidskenners te verskaf met al die nuutste en belangrikste inligting en kliniese bewyse oor die pandemie wat hulle sal help om pasiënte doeltreffend te behandel en nuwe beleide te ontwikkel wat gegrond is op die nuutste en mees akkurate inligting.

Die samevattings bevat die nuutste globale asook Suid-Afrikaanse data, en artikels van belang wat in wetenskaplike joernale gepubliseer is.

Die daaglikse samestelling van dié inligtingstuk is nog ʼn voorbeeld van hoe kollegas by die FGGW en Tygerberg-hospitaal gereageer en saamgewerk het in hierdie krisistyd, en hoe studente vrywilligers ingespring het in die stryd teen COVID-19.

English het verduidelik hoe die daaglikse inligtingsamevatting tot stand gekom het benadruk dat dit inspirerende spanwerk geverg het.

“Toe COVID-19 hier aangeland het en die Tygerberg-hospitaal besig was met voorbereiding vir ʼn toestroom van pasiënte, het ons, as openbare gesondheidspesialiste, ons hulp aangebied," het English verduidelik. Verskeie rolspelers van beide kliniese en akademiese omgewings het ons aanbod opgeneem en ʼn vergadering is byeengeroep om te bepaal wat die beste manier is vir ons om saam te werk. 

“Daar was twee breë areas vir samewerking – die een was om gesamentlik navorsingsprotokols te skryf en navorsing te doen, en die tweede manier was om ʼn samevattings van al die nuutste en belangrikste navorsing uit die wetenskaplike literatuur daagliks te verskaf.

“Ons het dadelik aan die navorsingsvoorstelle begin werk, maar daar was niemand om die daaglikse inligting-samevattings te doen nie, en daarom het ek daarmee begin," het English gesê.

“Ek het die literatuur nagegaan en die belangrikste navorsingsartikels oor COVID-19 opgesom, en so die samevattings saamgestel. Allwood het ʼn templaat verskaf vir hoe die samevattings moet lyk," het English gesê.

Kort daarna het ons die samevattings begin uitstuur na verskeie klinici en globale gesondheidskollegas via ʼn WhatsApp-groep.

ʼn Paar dae later het English ʼn versoek ontvang van mediese studente wat graag wou help met die saamstel van die inligtingstukke.

“So het ons die studente ook by die projek betrek. Die mediese studente, Sergio Alves en Nonto Mponda het ʼn groep van 15 studente bymekaar gekry. Ek het met hulle vergader en die projek aan hulle verduidelik en ons het begin om saam om die inligtingstuk saam te stel.

“Prof Taryn Young, hoof van die Departement Globale Gesondheid, het ʼn opleidingsessie vir die studente aangebied wat ʼn verfrisser ingesluit het oor hoe hulle die wetenskaplike artikels moet nagaan.

“Later het ons ook vir Dr Elizna Maasdorp betrek. Sy het haar dienste aangebied en oorsien nou die daaglikse inligtingsamevattings – sy doen uitstekende werk. Ons het ook baie ondersteuning ontvang van Maasdorp se departementshoof, prof Gerhard Walzl.

“Die terugvoer was baie positief. Dit was ʼn onbeplande nagevolg van die inligting-samevattings. Dit was nooit bedoel om verder as die WhatsApp-groep te gaan nie," het English gesê.

Sy het benadruk dat die daaglikse inligting-samevattings net opsommings is van belangrike gepubliseerde navorsing, en dat dit nie ʼn “presiese wetenskap" is nie.

“Dit was nog altyd veronderstel om net ʼn vinnige opsomming van die nuutste bewyse te wees. Die uitdaging is om die gehalte van die inligtingstuk te handhaaf deur bewysgebaseerde praktyk te volg, en krities na te dink oor artikels voordat dit by die inligtingstuk ingesluit word – als in ʼn kort tydperk."

Die inligting-samevattings is aanvanklik na ʼn WhatsApp-groep van klinici by Tygerberg-hospitaal en FGGW gestuur, maar tans versprei dit heelwat verder as en die span is nie heeltemal seker hoeveel mense dit tans lees nie.

English het gesê dat die samevattings ʼn wonderlike inisiatief is vir die universiteit.

“Dit is ʼn voorbeeld van hoe ons as kollegas oor die grense van akademici en kliniese sorg saam kan werk en mekaar ondersteun tydens ʼn krisis, en sodoende die beste sorg moontlik aan pasiënte kan lewer – want op die ou end gaan dit tog oor ons pasiënte," het sy gesê.

“Dit was regtig besonders om die studente se reaksie te sien en hoe hulle kon saamtrek, en dan die nadraai van die projek."

English het gesê dat die betrokke studente wil aangaan met die saamstel van die inligtingstuk. “Selfs as hulle klasse weer begin wil hulle aangaan en ek dink hulle behoort geprys te word aangesien hulle ʼn belangrike deel van die sukses van die daaglikse inligtingsamevatting is."

Allwood het gesê hy dink die inligtingstuk bereik “waarskynlik honderde dokters" elke dag.

“Ons het geen idee hoe ver dit gaan nie. Dit is moeilik om dit te bepaal. Ons is verras en aangemoedig deur die feit dat dit so wyd gedeel word, want dit beteken dat ʼn verskil maak in hoe pasiënte behandel word. Die samewerking was fenomenaal. In kliniese sorg werk ons telkemale in silo's, maar hierdie projek het samewerking tussen verskeie afdelings en departemente in die universiteit teweeg gebring. Dit sal wonderlik wees ad hierdie samewerking uitgebrei kan word na die res van die universiteit.

“Ons het massiewe hulpbron en intellektuele kapitaal binne die universiteit wat goed te werk gesit kan word op die voorste linies."


Onderskrif: Van die personeel en studente wat betrokke is by die samestelling van die Daaglikse Inligtingsamevatting.