Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US, Radio KC soek saam na energie-oplossings
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie [Alec Basson]
Gepubliseer: 21/05/2020

Getrou aan sy verbintenis om maatskaplike, kulturele, omgewings- en ekonomiese ontwikkeling en verandering in gemeenskappe te bewerkstellig, het die Universiteit Stellenbosch (US) onlangs 'n Memorandum van Ooreenkoms (MoO) met Radio KC, 'n bekende gemeenskapsradiostasie in die groter Paarl- en Wellington-gebied, gesluit. Hulle wil saam oplossings vind wat voldoende in die energiebehoeftes van huishoudings in die Groenheuwel-gemeenskap in die Paarl en later ook die groter Drakenstein-gebied kan voorsien.

Prof Ingrid Woolard, Dekaan van die US se Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, en Gail Jacobs, uitvoerende direkteur van KC, het die ooreenkoms namens die twee partye onderteken.

​Ingevolge die ooreenkoms sal die US en Radio KC saamwerk om 'n maatskaplike innoveringslaboratorium in die Groenheuwel-gemeenskap op die been te bring. Dit sal as die Gender for Energy Security (GENS) Living Lab bekendstaan en sal deel uitmaak van die GENS trilaterale navorsingsleerstoel, gelei deur prof Josephine Kaviti Musango van die US se Skool vir Publieke Leierskap.  Musango_Jacobs.jpg

Die ooreenkoms sal onder meer die partye in staat stel om (i) die konteks en alternatiewe energie-oplossings in die Groenheuwel-gemeenskap beter te verstaan; (ii) geslagtelike energie-oplossings wat nie net daarop gemik is om die hoeveelheid vroue en mans wat betrokke is te tel nie, maar ook hoe hulle kennis bydra tot die ontwerp van die oplossings; (iii) beleidsveranderinge en tasbare kommersiële uitsette te bevorder wat verwant is aan energie-oplossings op gemeenskaps- en nywerheidsvlak; en (iv) om kapasiteitsbou en samewerking op verskeie vlakke te bevorder. Dit sluit die gemeenskap van Groenheuwel, die regering, akademici, nywerhede, befondsers en die breër samelewing in.

Die GENS trilaterale navorsingsleerstoel sal navorsing doen oor die opstel van die GENS Living Lab en Radio KC sal 'n platform bied om belanghebberskakeling met die gemeenskap van Groenheuwel, medenavorsers en GENS-jeugkampvegters tussen die ouderdomme van 18 en 24 jaar te koördineer en te mobiliseer.

Musango het in reaksie op die waarde van die nuwe vennootskap gesê: “Die MvO in 'n bewys dat die Universiteit Stellenbosch daartoe verbind is om saam met Radio KC te werk om die gemeenskap van Groenheuwel te bemagtig, op te voed en te vermaak, en om met geslagtelike energie-oplossings vorendag te kom wat op hulle van toepassing is. Ons doel is om navorsing te doen om lewens te verander en ons wêreld te inspireer."

Gail Jacobs deel Musango se siening. “Radio KC, 'n gemeenskapsradiostasie met 'n geografiese voetspoor van 24 jaar regoor die Kaapse Wynlande, is dankbaar vir die geleentheid wat die Universiteit Stellenbosch bied om saam 'n burger-gesentreerde inisiatief oor energie te fasiliteer. KC verbind homself daartoe om hierdie gevallestudies te deel en 'n stem aan die gemeenskapsleiers, die handel en die regering te gee, want saam kan ons oor die volgende vier-en-'n-half jaar 'n betekenisvolle bydrae tot die lewens van die gemeenskap van Groenheuwel maak.

Die ondertekening van die ooreenkoms is die eindresultaat van skakeling wat in November 2019 begin het.

  • Hooffoto: Krediet: Publicdomainpictures. Foto 1: Prof Josephine Kaviti Musango (links) saam met Gail Jacobs van Radio KC.