Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verskaf aanlyn taalondersteuning gedurende COVID-19-pandemie
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 12/05/2020

Namate die Universiteit Stellenbosch (US) gewoond raak aan die “nuwe normaal" van die COVID-19-pandemie, is die US Taalsentrum hard aan die werk om voortgesette aanlyn taalondersteuning aan studente en personeel te verskaf.

Selfs voor die pandemie was baie van die dienste wat die Taalsentrum gelewer het, reeds in gemengde formaat beskikbaar. Maar soos baie ander departemente aan die US, moes die Taalsentrum sy werkswyse aanpas deur kursusse ten volle aanlyn te begin aanbied en deur belangrike taalverwante dienste soos dié wat die Skryflab en die Leeslab lewer, ook na ʼn aanlyn platform te verskuif.

“Hoewel ons nog altyd trots was op die manier waarop ons studente en personeel met gratis skryfkonsultasies van aangesig tot aangesig bystaan, kan ons nou ook hibriede en aanlyn kursusse met skryfkonsultasies en nagraadse skryfwerksessies ondersteun. Ek hoop ons by die Taalsentrum sal ons ondersteuning aan die Universiteit kan handhaaf en selfs versterk met ons nuwe en innoverende maniere van doen," sê dr Kim Wallmach, Direkteur van die Taalsentrum.

Die Taalsentrum bied nou ook aanlyn ondersteuning aan studente via skryf- en leeskonsultasies en skryfwerksessies vir nagraadse studente. Alle akademiese geletterdheidskursusse wat in fakulteite ingebed is, funksioneer nou ook doeltreffend in aanlyn formaat.

Weens kwessies met bandwydte is dit nie tans haalbaar om intydse tolking aan studente te verskaf nie, maar die Taalsentrum staan dosente en studente by deur lesingmateriaal – hetsy PowerPoint-skyfies, SUNLearn-inhoud of podsendings – na Afrikaans en Engels (en Xhosa waar daar ʼn pedagogiese behoefte is) te vertaal. Dosente wat hul klasmateriaal vertaal wil hê, kan met Marguerite van der Waal by die Taalsentrum se Taaldiens skakel vir ʼn kwotasie, waarna hulle die kwotasie aan die visedekaan van hul spesifieke fakulteit kan stuur met ʼn versoek om toegang tot Taalimplementeringsbefondsing (of te wel TBB-befondsing).

“Net soos die res van die Universiteit, wil ons studente regtig akkommodeer deur die laagste moontlike bandwydte te gebruik en terselfdertyd te sorg dat ons kursusse interaktief is. Ons hoop ook dat ons bydrae tot die verskaffing van veeltalige materiaal aan die Universiteit sal help om die voortgesette belang van toegang tot materiaal vir studente van verskillende agtergronde te bevestig," sê Wallmach.

Die Taalsentrum se 55 personeellede werk tans as ʼn span van die huis af om bedryfsvoortsetting by die Sentrum te verseker.

Die Sentrum kan ook bykomende aanlyn taalondersteuning verskaf, met die “English for Academic Purposes"-kursus wat in ʼn meer toeganklike formaat aan die Verlengde Graadprogram-studente en ander beskikbaar is. Engelse taaltoetsing vir plasing is ook nou aanlyn beskikbaar.

Wat betref die Taalsentrum se meer diverse diensaanbiedings, het hulle die kapasiteit om ingeligtetoestemmingsvorms en ander dokumente te redigeer en in ʼn verskeidenheid tale te vertaal, terwyl hulle ook ʼn transkripsiediens, professionele kommunikasiekursusse en aanlyn taalkursusse aanbied.

Besoek die Taalsentrum se webwerf by http://www0.sun.ac.za/taalsentrum/ om meer uit te vind oor hoe om die beste aanlyn taalondersteuning te bekom.